Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staatsrede: 9 dinge wat vir ekonomie saak maak

Van die grootste nuus vir die sakesektor in pres. Cyril Ramaphose se staatsrede is waarskynlik die aankondiging dat kragopwekking in die land drasties gaan verander. Hier is die dinge wat die aandag van die sakesektor getrek het.

cyril
Pres. Cyril Ramaphosa lewer Donderdagaand sy staatsrede. Foto: Jaco Marais

1. Kragopwekking gaan drasties verander

Ramaphosa het aangekondig “maatstawwe gaan in die komende maande in werking gestel word wat die trajek van kragopwekking in Suid-Afrika drasties gaan verander. Die maatstawwe sal kragopwekking van elders as Eskom versnel en verhoog.

Dit sluit in:

  • ’n Ministeriële vasstelling gaan binnekort uitgereik word sodat groenkrag en gaskragstasies addisionele krag vir die netwerk kan opwek.
  • Die staat sal met die aankoop van noodkrag begin.
  • Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) sal voortgaan om klein projekte te registreer wat minder as 1 MW vir eie gebruik opwek waarvoor nie lisensies nodig is nie.
  • Nersa sal verseker dat aansoeke van groot nywerhede en ondernemings om hul eie krag op te wek binne die vereiste 120 dae afgehandel word.
  • Geen perk gaan meer op groot kragopwekking gestel word vir eie gebruik bo 1 MW nie.
  • Munisipaliteite waarvan die geldsake in orde is, sal toegelaat word om elektrisiteit van elders as Eskom aan te koop.

2. Pensioene gaan dalk wel gebruik word vir Eskom

Sy verwysing na die ooreenkoms wat beding word om Eskom te red toon volgens sommige ontleders daar word wel oorweeg om pensioene te gebruik.

Hy het verwys na maatskaplike vennote wat die afgelope twee weke by Nedlac vergader het om ’n ooreenkoms te kry oor die beginsels van ’n maatskaplike kontrak oor elektrisiteit.

Die vennote (vakbonde, die sakesektor, die gemeenskap en die regering) is verbind daartoe om finansiering te mobiliseer vir Eskom se finansiële krisis op finansiële volhoubare wyse.

“Dit sal gedoen word op ’n manier wat nie werkers se pensioene in gevaar stel nie of die integriteit van die finansiële stelsel belemmer nie.”

Volgens hom is die ooreenkoms nog nie gefinaliseer is.

3. SAL moet op sy eie voete kan staan

Hy het gesê dit is in belang van die ekonomie dat die lugdiens kommersieel en op bedryfsvlak volhoubaar is en in die toekoms nie verdere regeringsfinansiering gaan benodig nie. Die sakereddingspraktisyns gaan in die komende weke hul planne vir die herstrukturering van die SAL bekendstel.

4. Nuwe plan vir jeugwerkloosheid

Maatstawwe is aangekondig om jeugwerkloosheid wat as ’n krisis beskou word, die hoof te bied. Dit behels ’n nuwe plan met ses maatstawwe wat in die komende vyf jaar in werking gestel word. Dit sluit in om 1% van die begroting opsy te sit om werkloosheid onder die jeug aan te spreek, lenings aan jong entrepreneurs en opleiding.

5. Dagga gaan vir kommersiële gebruik gewettig word Ramaphosa meen dit gaan geleenthede vir kleinboere gee. ’n Beleid vir die gebruik van daggaprodukte vir medisinale gebruik gaan geskep word.

6. Goedkoper data

Die regering wil voor einde 2020 meer spektrum opveil aan diensverskaffers om data meer doeltreffend deur die lug aan gebruikers te bied. Dit sal die koste van data sal verlaag.

7. Tito se plan gaan gebruik word

Die verrykende ekonomiese hervorming wat beloof word gaan wel van die idees insluit in die nasionale tesourie se plan Ekonomiese Transformasie, Inklusiewe Groei en Mededingendheid.

8. Staatsbank en welvaartfonds kom

Ramaphosa het aangekondig daar gaan voortgegaan word met die plan om ’n staatsbank te skep om toegang tot finansiële dienste aan meer mense uit te brei.

Die minister van finansies gaan in sy begrotingstoespraak later vandeesmaand meer besonderhede daaroor gee.

’n Soewereine welvaartfonds gaan ook geskep word.

9. Infrastruktuurfonds gereed

Die fonds het glo talle projekte gereed wat kan begin. Volgens Ramaphosa het die infrastruktuurfonds se implementeringsfonds ’n lys gefinaliseer wat reg is om te begin.

Werk is begin om private belegging in die projekte te verseker.

“Die span het ’n projek in die pyplyn met potensiële beleggings van meer as R700 miljard oor die komende tien jaar, insluitende van die regering en ander bronne.”

Die projekte sluit in studentebehuising, behuising vir armes, onafhanklike waterproduksie en syspoorlyne.

“Die hyskrane en geel toerusting wat ons so graag weer oral wil sien in ons land, gaan een van die dae weer ’n alledaagse ding wees.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Sakesektor  |  Staatsrede2020  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.