Pres. Cyril Ramaphosa se fokus op kleinsakeondernemings in sy staatsrede, asook die noodsaaklike rol van die private sektor om nuwe lewe in die ekonomie te blaas, is uitstekende nuus vir die land se toekoms, meen die Small Business Institute (SBI).

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdag voordat hy sy staatsrede gelewer het. Foto: Edrea du Toit
“Ons is verheug dat die president die noodsaaklike rol van die private sektor erken het in die bereiking van sy ambisie vir inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping.
“Ons verwelkom ook die klem wat hy gelê het op die herlewing van township- en landelike ekonomieë waar kleinsakeondernemings deur wanfunksionele munisipaliteite onderdruk word,” sê Bernard Swanepoel, die SBI se uitvoerende direkteur.
Ramaphosa het in sy staatsrede aangekondig dat die regering se inkubasieprogram uitgebrei gaan word. Dié program bied aan ontluikende entrepreneurs fisieke ruimte, infrastruktuur en gedeelde dienste, toegang tot gespesialiseerde kennis, markverbindings, opleiding in die gebruik van nuwe tegnologie en toegang tot finansiering.
“Terwyl ons die aankondiging van spesiale ekonomiese sones vir die vervaardiging van byvoorbeeld klere en tekstiel verwelkom, staan ons versoek dat elke provinsie ’n spesiale ekonomiese sone moet hê met wetgewing wat kleinsakeondernemings bevorder.
“As SBI sal ons voortgaan om saam te werk met alle betrokkenes om die groei van die segment vir klein, middelslag- en mikro-ondernemings te verseker,” sê Swanepoel.