Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Stakings dreig by munisipaliteite, staatsdiens

’n Gespanne week lê voor terwyl onderhandelinge oor salarisverhogings in die staatsdiens, plaaslike regerings en staatsondernemings soos Eskom geen teken van vordering toon nie.

’n Man met 'n Samwu-vlag tydens vorige salarisonderhandelings. Foto: Argief

Die liggaam wat munisipaliteite verteenwoordig, Salga, sê “betekenisvolle vordering” word met loononderhandelinge gemaak wat nou al byna drie maande duur.

Een van die vakbonde wat munisipale werknemers verteenwoordig, die South African Municipal Workers Union (Samwu), sê egter hul “tekkies is gereed” met die oog op ’n staking.

Dié teenstrydige sienings is uitgespreek nadat die laaste ronde onderhandelinge oor munisipale verhogings op 3 en 4 Junie in Durban ten einde geloop het.

Volgens ’n verklaring deur Salga het die partye wel ingestem om onderhandelinge te verleng sodat Naledi Bisiwe, die fasiliteerder, ’n “gedetailleerde voorstel” kan opstel oor alles waaroor verskil word. Dié voorstelle word Dinsdag ter tafel gelê.

Ondanks die positiewe trant van die verklaring gee Salga toe dat daar posisies is wat “moeilik is om te versoen”, maar dat die fasiliteerder probeer om ’n amptelike dooiepunt – wat ’n staking byna onafwendbaar sal maak – te vermy.

Salga bly “versigtig optimisties” dat ’n ooreenkoms bereik sal word “wat in die beste belang van munisipale stabiliteit en arbeidsvrede is”.

Salga verteenwoordig al 257 munisipaliteite landwyd. Werknemers word deur Samwu en die Independent Municipal and Allied Trade Union (Imatu) verteenwoordig.

Salga bied ’n verhoging van 1,5% aan en geen verhoging in byvoordele soos behuisingsubsidies nie.

Dumisane Magagula, adjunk-sekretaris-generaal van Samwu, het egter in ’n verklaring gesê Salga het van dag een af ’n “streep in die sand getrek” en gee nie bes nie. Dít terwyl munisipale werknemers ondanks die Covid-19-pandemie voortgegaan het om noodsaaklike dienste te lewer.

Salga probeer vakbonde vanjaar oorreed om ’n driejaarooreenkoms te sluit, maar vakbonde is nie daarvoor te vinde nie.

Die vakbonde eis verhogings van 7% of R2 500, wat ook al die meeste is en ook ’n 7%-verhoging in die meeste byvoordele. Hulle vra dat die behuisingsubsidie tot R2 000 verhoog word.

Imatu sê in ’n verklaring baie munisipale werkers is onder “ekstreme finansiële druk” weens stygende lewenskoste en die uitwerking van die pandemie op hul families.

Imatu sê wel vakbonde is wel bereid om goedkeuring te gee aan ’n versnelde proses waardeur munisipaliteite met geldprobleme aansoek kan doen om vrystelling van die loonooreenkoms.

Imatu spreek die hoop uit dat ’n vriendskaplike skikking bereik kan word.

Staatsdiens

Intussen het die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA), die vakbond wat 235 000 staatsamptenare verteenwoordig, Vrydag gedreig om te staak.

Die VSA het byna ’n maand gelede, op 11 Mei, weggebreek van die fasiliteringsproses en het ’n dispuut verklaar.

Cosatu en die vakbonde wat hy verteenwoordig, insluitend die magtige vakbond vir gesondheidswerkers, Nehawu, is steeds in die fasiliteringsproses.

LEES OOK: Staat se lone: 235 000 amptenare reg om te staak

Die staatsdiens bied ook verhogings van net 1,5% aan.

Eskom

Eskom het verlede Woensdag ’n dispuut met vakbonde verklaar oor hul eise.

Die National Union of Mineworkers (NUM) het sy eis van 15% tot 10% verlaag en die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het syne van 15% tot 12% verlaag. Solidariteit eis steeds 9,5%.

Al die eise bly aansienlik meer as die 1,5% wat Eskom aanbied.

Die dispuut beteken loononderhandelinge moet nou na ’n arbiter verwys word.

Eskom lewer ’n noodsaaklike diens en werknemers mag dus nie beskermd staak nie.

Dit het hulle nie in die verlede gekeer nie. In 2018 is ’n ontwrigtende onbeskermde staking gehou. Eskom het toe 0%-verhogings aangebied, maar het eindelik ingestem tot 7%.

Meer oor:  Solidariteit  |  Num  |  Imatu  |  Eskom  |  Numsa  |  Samwu  |  Salga  |  Staatsamptenare  |  Staatsdiens  |  Tesourie  |  Begrotingsrede  |  Begroting  |  Begroting2021  |  Staatsondernemings  |  Munisipaliteite  |  Salarisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.