Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Stakings: ‘Geheime stemming ’n goeie beleid’

Die vereiste dat vakbondlede eers aan ’n geheime stakingstemming moet deelneem en dat die meerderheid van lede ten gunste van ’n staking moet stem voordat ’n staking kan plaasvind, het onlangs wet geword in Suid-Afrika.

Gideon du Plessis

Werkgewers het tydens onderhandelinge by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) oor die nasionale minimum loon, dié loonvereistes aanvaar in ruil vir die wetswysiging oor stakingstemming.

Vir werkgewers was die stakingklousule belangrik om kollektiewe bedinging te versterk weens die vernietigende uitwerking van gewelddadige stakings, maar ook om hul werknemers teen gedwonge deelname aan ’n staking te beskerm.

In reaksie op die geheime stakingstemming het die vakbondfederasie Saftu en sy prominente lidvakbond, die militante metaalwerkersvakbond Numsa, hulle sterk teen die nuwe regulasie uitgespreek en aangevoer dat dit drakonies is en werkers se regte beperk. Derhalwe gaan hulle die konstitusionele hof nader om te probeer om die wysiging tersyde te stel.

Aan die ander kant het die vakbondfederasie Cosatu en sy prominente lidvakbond, die mynbouvakbond die NUM, die demokratisering van die werkplek verwelkom en Numsa uitgedaag om ’n geheime stemming onder sy lede te hou om te bepaal of sy lede ten gunste van die hofaansoek is.

Die militante mynbouvakbond Amcu is weer van mening dat die wetswysiging ingestel is om sy groei te beperk. Met Amcu se mislukte vyfmaandestaking by Sibanye-Stillwater vroeër vanjaar het die regulasie nog nie gegeld nie.

In dié geval het die stakingstemming, in ooreenstemming met Amcu se grondwet, deur middel van handopsteek tydens ’n massavergadering plaasgevind. Tipies by so ’n byeenkoms is daar ongeveer 12 belhamels, wat die “A-span” genoem word, wat strategies in die skare geplaas word om tydens die stemming die staking luidrugtig te ondersteun en lede te intimideer wat nie hul hande opsteek nie.

Die “A-span”, wat ruim vergoed word, se volgende taak is om aan die staking momentum te gee deur werkers deurlopend op te sweep en niestakers by werkplekke en blyplekke te intimideer.

Hoe meer destruktief en gewelddadig ’n staking is, hoe groter is die kans op sukses, en daarom is sabotasie, brandstigting en moorde deel van die proses.

’n Suksesvolle staking is een met hoë deelname, wat van korte duur is en waartydens bogemiddelde verhogings toegestaan word. Dus, hoe meer destruktief en gewelddadig ’n staking is, hoe groter is die kans op sukses, en daarom is sabotasie, brandstigting en moorde deel van die proses.

Werkers wat ontnugter is deur ’n vroeëre gewelddadige staking waar intimidasie hoogty gevier het, sal met die aanvang van die staking probeer om verlof (selfs sonder betaling) te neem en elders veiligheid te gaan soek.

Vakbonde soos Numsa het ook ’n “slim” taktiek wanneer ’n staking in ’n bepaalde ekonomiese sektor plaasvind, byvoorbeeld die metaal-en-ingenieurswese-sektor waar daar kollektief binne ’n bedingingsraad beding word.

Om die belhamels tydens ’n staking te beskerm, sal stakende werkers deurlopend tussen geaffekteerde werkplekke geruil word sodat stakers by ’n ander werk­gewer se werkplek gaan staak, niestakende werkers intimideer en geboue beskadig.

Die gevolg is dat die maatskappy se sekuriteitsmaatskappy nie maklik teen die stakers wat só roteer kan optree nie en die maatskappy ook geen dissiplinêre stappe teen die stakende werkers aanhangig kan maak nie, want daar bestaan nie ’n werknemer-werkgewer-verhouding nie.

In albei gevalle gebeur die destruktiewe stakings gewoonlik in die politieke belang van vakbondleiers, wat hul profiel wil verhoog. Waar vakbondwedywering aanwesig is, word ’n staking wat goeie salarisverhogings tot gevolg het gebruik om ’n opposisievakbond se lede af te rokkel.

Noudat vakbondlede in die geheim hul wil rakende ’n staking kan weergee, beteken nie slegs dat die demokratisering van arbeidsverhoudinge bevorder word nie, dit beteken ook dat gesinne van vakbondlede beskerm kan word teen die finansiële gevolge van ’n staking. Verder verhoed dit werksverliese wat normaalweg ná ’n gewelddadige staking volg.

Die huidige dooiepunt in die platinumsektor-onderhandelinge tussen mynhuise en Amcu sal die eerste demokratiese toets vir Amcu-lede wees wanneer hulle oor ’n staking stem. Ek hoop werkplekdemokrasie gaan nie soos politieke demokrasie met die ondeurdagte en onkundige trek van ’n kruisie gepaard nie.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.
Meer oor:  Gideon Du Plessis  |  Vakbonde  |  Arbeidsake  |  Staking  |  Nedlac
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.