Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Stappe teen virus sleg vir ekonomie
Filippyners wat hoop om gesigmaskers teen die koronavirus te koop drom Vrydag saam voor ’n mediese-voorraadwinkel in Manila.

Pogings om die verspreiding van die koronavirus te keer, soos die sluiting van fabrieke en kantore en reisbeperkings, kan die wêreldekonomie swaar tref, waarsku ekonome en ontleders.

Meer as 9 000 gevalle in meer as 18 wêreldlande is al bevestig. Die siekte is lank nie meer ’n Chinese probleem nie.

Die eerste geval is einde Desember in die stad Wuhan in China bevestig, maar die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Donderdagaand gesê die uitbreking is ’n gesondheidsnoodtoestand van internasionale belang.

Meer as 200 mense is al dood en dit is nou amptelik erger as die gevreesde ernstige akute respiratoriese sindroom- (ears-) pandemie 17 jaar gelede. Altesame 5 327 mense het destyds ears opgedoen.

Kenners waarsku vinniger wêreldgroei van 3,3% wat vir 2020 voorspel is, sal dalk nie realiseer as die virus en verspreiding van die siekte nie in bedwang gebring kan word nie.

Suid-Afrika se ekonomie trek swaar as dit sleg gaan in die wêreld. Al voor die uitbreking is groei van hoogstens 0,7% vir vanjaar voorspel.

Chinese toeriste is bekend daarvoor dat hulle graag geld bestee, ook aan luukse goedere in lughawens se doeanevrye winkels.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerisme-sakeraad van Suid-Afrika, het aan Cape Talk gesê ’n reisverbod op toeriste uit China sal die Suid-Afrikaanse toerismebedryf swaar tref.

Sowat 950 000 Chinese toeriste besoek Suid-Afrika jaarliks.

Amerika het ook sy burgers aangeraai om nie na China te reis nie.

Chinese is verantwoordelik vir meer as 33% van die totale waarde van luukse goedere wat in die wêreld verkoop word, berig The Financial Times.

Glen Baker, hoof van fondsbestuur by Anchor Capital, sê aandeelpryse van maatskappye wat in luukse goedere handel dryf, soos Richemont en LVMH, sal sleg getref kan word deur dalende Chinese vraag.

Kanada se Royal Bank raam ’n daling van 10% in Chinese verbruik in die eerste helfte van die jaar wat sal lei tot ’n daling van 2% in die inkomste van firmas wat luukse goedere verkoop, sê Baker.

Chinese is verantwoordelik vir meer as 33% van die totale waarde van luukse goedere wat in die wêreld verkoop word.

Hoewel dit moeilik is om verkope noukeurig te voorspel omdat die situasie by die dag ontwikkel, wys syfers van tussen November 2002 en April 2003, tydens die hoogtepunt van die ears-pandemie in Asië, dat die sektor vir luukse goedere met 20% ingekrimp het.

Vanweë Richemont se blootstelling aan die Chinese verbruiker en die rol wat reis en toerisme in sy sake speel, kan dit hom swaar tref.

Richemont se aandeelprys het die afgelope week met meer as 3% geval.

Die rand het Vrydag water getrap te midde van vrese oor die siekte, hernieude kragtekorte en power ekonomiese vooruitsigte vir die jaar.

Vroegoggend het die rand teen R14,75 teenoor die dollar verhandel, vergeleke met R14,40 ’n week gelede.

Die opbrengs op staatseffekte wat teen 2026 uitkeer, het met 1,5 basispunte tot 8,055% gestyg.

John Lonski, hoofekonoom van kapitaalmarknavorsing by die kredietgraderingsagentskap Moody’s, het Donderdag in ’n markvooruitsig gesê die koronavirus kan ’n swart swaan van ongekende afmetings wees.

Dit kan selfs erger as die wêreldwye finansiële krisis in 2008 en 2009 wees.

Die term “swart swaan” in die mark verwys na ’n seldsame gebeurtenis met potensieel katastrofiese ekonomiese gevolge, maar wat nie vooraf voorspel kon word nie.

Moody’s Analytics se prysindeks vir nywerheidsmetale het met 7,1% geval sedert die koronavirus uitgebreek het en is grootliks weens China se belangrike rol in wêreldwye nywerheidsbedrywighede.

Die prys van koper het met 10,4% teruggesak, nikkel met 8,7%, lood met 4,6% en aluminium met 3,5%.

Woensdag was die metale-prysindeks die laagste sedert Junie 2017.

Lonski sê wêreldgroei het in die verlede sterk ooreenkomste getoon met die beweging in die prysindeks vir nywerheidsmetale.

China is ook ’n belangrike vervaardiger en verskaffer in die wêreldwye verskaffingsketting.

Fabrieke wat daar tot stilstand gekom het kan voorraadtekorte veroorsaak vir enigiets van elektroniese ware, slimfone tot voertuie en onderdele.

Talle maatskappye het hul sakebedrywighede in China opgeskort, fabrieke gesluit en kantoorwerkers aangesê om van die huis af te werk. Daaronder tel Volkswagen, die Kanadese versekeraar Sun Life Financial, asook banke van Credit Suisse en Morgan Stanley.

Toyota het sy Chinese fabrieke tot 9 Februarie gesluit. – Saamgestel uit Reuters en Bloomberg

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Siekte  |  Invoere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.