Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sterfte-eise skiet hoogte in

Die aantal sterfte-eise by die grootste lewensversekeraars in die land was in die eerste 11 maande sedert Covid-19 in Suid-Afrika uitgebreek het, sowat 60% hoër as gewoonlik, sê die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika (Assa).

Foto:

Van Maart verlede jaar toe Suid-Afrika sy eerste Covid-19-sterfte gehad het, tot einde Januarie 2021 het die vier grootste versekeraars 7 040 lewensversekeringseise ontvang, vergeleke met die gemiddeld van 4 212 in die ooreenstemmende tydperke in 2018 en 2019, sê die Assa.

Van die 7 040 eise was 1 515 as Covid-19-verwante sterftes aangegee.

Die versekeringsmaatskappye waarvan die data gebruik is, ontvang saam sowat 70% van Suid-Afrika se individuele lewensversekeringspremies.

Anja Kuys, voorsitter van die Assa-komitee vir deurlopende statistiese ondersoeke, sê die syfers blyk uit ’n visuele meetinstrument wat die komitee ontwikkel het om oormaatsterftes te meet onder polishouers met nuwegenerasie-lewenspolisse wat ten volle onderskryf is.

Sy sê in ’n verklaring die meetinstrument toon terwyl lewensversekeraars verwag het sterfte-eise sal styg in ooreenstemming met die nasionale sterftekoers tydens die tweede Covid-19-vlaag, was eise vir versekerde lewens tydens die hoogtepunt van die tweede vlaag in Januarie vanjaar vier keer hoër as die verwagte sterftekoers.

Die totale aangemelde sterftes vir die land oor die 11 maande was 2,8 keer hoër as die verwagte sterftekoers.

Met die hoogtepunt van die tweede vlaag in Desember 2020 en Januarie vanjaar, is 2 559 sterfte-eise ingedien teenoor 723 eise gemiddeld in die ooreenstemmende tydperke in 2018 en 2019.

Van die 2 559 eise was 967 Covid-19-verwant.

Kuys sê daar word aanvaar die getal sterftes weens Covid-19 is hoër as wat aangemeld word omdat talle doodsertifikate natuurlike oorsake, longontsteking of orgaanversaking as redes vir die dood aangee, maar dat dié redes eintlik weens Covid-19 is.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) en die Universiteit van Kaapstad (UK) se sentrum vir aktuariële navorsing het ook ná onlangse navorsing oor oormaatsterftes weens natuurlike oorsake gesê 85% tot 95% van die oormaat natuurlike sterfgevalle kan aan Covid-19 toegeskryf word.

Volgens Kuys wys die meetinstrument lewensversekeringseise in alle ouderdomsgroepe bo 30 jaar was tussen 50% en 70% hoër as die verwagte sterftes.

Die meeste Covid-19-verwante sterfte-eise by versekeraars was vir polishouers tussen 60 en 69 jaar, gevolg deur mense tussen 50 en 59 jaar. Die totale sterfte-eise in dié twee ouderdomsgroepe was tussen Maart 2020 en Januarie 2021 ook die hoogste.


Kuys sê die totale sterftekoers vir Maart 2020 tot einde Januarie was 5,1 per 1 000 van die bevolking, wat byna 60% hoër was as wat in ’n normale jaar verwag word.

Kuys sê die syfers oor hoër sterfte-eise onder versekerdes is verrassend omdat polishouers met lewenspolisse wat ten volle onderskryf word, gewoonlik minder onderliggende siektetoestande het en toegang het tot beter gesondheidsorg.

Ten volle onderskrewe lewenspolisse beteken die polishouers is onderwerp aan ’n omvattende beoordeling van hul lewenstyl, gesondheid en mediese geskiedenis om die risiko te bepaal.

Sterftes onder dié groep polishouers is dus gewoonlik anders as die res van die bevolking, sê die Assa. Volgens Kuys wil die komitee met die visuele meetinstrument ’n gekonsolideerde insig aan versekeringsmaatskappye gee oor die impak van die pandemie op polishouers volgens oormaatsterftes.

Dié inligting kan versekeraars help om die regte prys vir toekomstige polisvoordele vas te stel en genoeg kapitaalreserwes te verseker.

Die styging in eise stem ooreen met inligting in die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se jongste finansiële stabiliteitsverslag (FSR) wat verlede week gepubliseer is.

Daarvolgens het eise vir lewensversekering én korttermynversekering gedurende die tweede vlaag van Covid-19 einde verlede jaar gestyg.

Wat korttermynversekering betref, was eise vir eiendomsversekering 27% hoër, handelskrediet-eise 57% hoër en eise vir aanspreeklikheidsversekering 68% hoër as voor die pandemie.

Luidens die verslag kan die onlangse hofbeslissing oor eise vir sake-onderbreking in die guns van die versekerde sakeondernemings, ’n presedent skep vir korttermynversekeraars met nog moontlike eise wat kom en wat hul winsgewendheid kan raak.

Die SARB sê versekeringsmaatskappye (lang- en korttermyn) se bates het in 2020 met 4,2% op ’n jaargrondslag gegroei tot sowat R3 500 miljard.

Die bedryf is finansieel gesond, maar die bedreiging van Covid-19 kan in die volgende paar maande steeds druk op die versekeringsbedryf se winsgewendheid en solvensievlakke plaas.

“Die tydsberekening en vordering met die inentingsprogram is bepalend vir hoe die sektor op kort tot mediumtermyn sal vaar,” lui die FSR.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.