Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sterk groei in 2021 té optimisties, reken Transnet
’n Koelvraghouer met uitvoersitrus word in die Kaapse hawe hanteer. Transnet moes spanne van Durban na Kaapstad laat kom om te help met vraghantering nadat die Covid-19-pandemie produktiwiteit in die hawe belemmer het. Foto: Transnet Port Terminals

Met byna 30 miljoen Amerikaners wat vanjaar werkloos kan wees – terwyl Amerika en Asië die aandrywers van internasionale verbruik en uitvoervraag is – is dit te betwyfel of Suid-Afrika se ekonomie werklik so sterk in 2021 sal terugbons as wat ekonome verwag.

Só meen Portia Derby, uitvoerende hoof van Transnet. Sy was Woensdag ’n spreker op ’n webseminaar van die Suider-Afrikaanse Vervoerkonferensie, die Internasionale Padfederasie en Miovision.

Derby is skepties oor die verwagting dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2021 met soveel as 3,5% kan groei. “Jy kan nie so ’n diep insinking in 2020 in die ekonomie hê en verwag dat dit in 2021 sommer net só sterk sal terugspring nie.”

Die uitdaging is dat die aandrywers van verbruik en uitvoer Amerika en Asië is. Maar byna 30 miljoen Amerikaners kan vanjaar werkloos wees en ekonome verwag dat die land se werkloosheidsyfer op lang termyn tot 30% kan styg. Daarby sal minder werkure in Asië tot ’n swakker vraag lei.

Kommoditeitspryse is negatief geraak. Die Suid-Afrikaanse ekonomie was al vóór die Covid-19-pandemie in ’n daalfase en sou in 2020 skaars met 0,9% gegroei het. Nou word verwag die ekonomie sal vanjaar met 9,5% krimp. Derby is dus nie seker van die verwagting dat die ekonomie in 2021 met soveel as 3,5% kan groei nie.

Sy meen Transnet was redelik proaktief toe die Covid-19-pandemie sy kop uitgesteek het, en het dadelik gaan kers opsteek by Singapoer se hawe-owerheid omdat Singapoer die aanvanklike impak van die pandemie reeds in Desember verlede jaar daar gevoel is. Waardevolle lesse is van hulle geleer, sê sy.

Transnet is as ’n noodsaaklike diens beskou en was net drie dae gesluit voordat sy bedrywighede teen minstens 50% van die kapasiteit hervat is.

Sy werkers in die Kaapse hawe is wel erg getref deur die pandemie en dit het te midde van die sitrusuitvoerseisoen ’n ontwrigtende impak gehad. Vragskepe van Europa doen Kaapstad normaalweg aan voordat dit al langs die kus na Durban vaar, maar weens die inperking en die impak van die siekte op die werkers moes skepe verby Kaapstad vaar of hulle is op hul terugvaart vertraag.

Om vir die verlore reistyd op te maak, het die skepe op hul terugvaart spoed opgetel, wat hul brandstofuitgawes opgejaag het. Weens die vertragings en opeenhopings het dit ook beteken dat skeepsrederye hul bespreekte vasmeertye in Europese hawens misgeloop het en dit het die kostes opgejaag.

Die internasionale reaksie op die pandemie in die logistieke bedryf is om nuwe ekonomiese handelsroetes te ontwikkel, wat dikwels Suid-Afrika en ander lande in die Suidelike Halfrond oorslaan. Derby waarsku dat Transnet en ander lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) sal moet saamwerk om dit te voorkom en om dit steeds vir skeepsrederye en logistieke dienste aantreklik te maak om by die suidpunt van Afrika om te vaar.

Die negatiewe persepsies sal verander moet word want Afrika kan vanjaar sy ergste resessie nog ervaar, het Derby gewaarsku.

Hoewel Transnet tans by vervoerprojekte oor die hele Afrika betrokke is, spesifiek in Ghana en Nigerië in Wes-Afrika, sê Derby hul prioriteit sal voortaan die SAOG-lande wees.

Kabeldiefstal

Oor die impak van kabeldiefstalle tydens die inperking, wat veral die Passasierspooragentskap (Prasa) raak, sê Derby daar was tydens die aanvanklike “harde” inperking ’n afname in kabeldiefstalle langs Transnet se spoorlyne. Maar toe skrootwerwe heropen het, het kabeldiefstalle weer toegeneem.

Transnet is egter nie so erg soos Prasa deur kabeldiefstalle geraak nie want hy gebruik meestal diesellokomotiewe.

Volgens Derby is Transnet en Prasa in gesprek oor die opsie vir Prasa om dalk meer van diesellokomotiewe gebruik te maak om kabeldiefstalle te help beperk, hoewel die gebruik van diesel vir Prasa weer ander komplikasies kan inhou.

Transnet-syfers binnekort bekend

Transnet Property word nou as ’n volfiliaal van Transnet hanteer om sy eiendomme beter en winsgewender te bestuur, het Derby Woensdag gesê. Sy het ook bevestig dat Transnet vandeesmaand nog sy resultate vir die boekjaar tot einde Maart bekend sal maak. Sy het solank syfers bekend gemaak soos dat personeelkoste 57% van Transnet se netto bedryfsuitgawes uitmaak, ander bedryfskoste 16%, elektrisiteit 11%, brandstof 8% en materiale en instandhouding ook 8%.

Sy het opgemerk dat die 11% vir elektrisiteit ’n bietjie hoog is en het ook daarop gewys dat 51% van Transnet se omset van die spoorvragfiliaal Transnet Freight Rail kom.


Meer oor:  Transnet  |  Portia Derby  |  Covid-19  |  Handel  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.