Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sterker rand, sterker groei wink vir SA

Die hele wêreld praat oor inflasie, maar plaaslike ekonome is nog nie té bekommerd daaroor nie.

Pryse styg wêreldwyd skerper as vorige jare. Dit raak veral kos, maar ook dinge soos motors.

Die konsensusraming van 36 ekonome vir die inflasiekoers vir 2021 is nou al drie maande lank onveranderd op 4,2%.

Die 36 ekonome is dié wat deelneem aan Netwerk24, Die BurgerBeeldVolksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie. Hulle moet elke maand ’n stel van agt veranderlikes voorspel soos dit óf vir die volle 2021 gaan wees óf wat die gemiddeld vir die laaste kwartaal van 2021 gaan wees.

Ekonome se verwagtinge kan vir sowel huishoudings as ondernemings ’n vroeë aanduiding gee van hoe dié veranderlikes – van die rentekoers tot die waarde van die rand – hul geldsake gaan beïnvloed. Selfs iets wat gewone mense nie regstreeks raak nie, soos die opbrengskoers op staatseffekte, kan deursypel na hul belastinglas en is dus iets wat hulle in die agterkop moet hou.

Mike Schüssler, ’n vorige wenner van die kompetisie, is onder die ekonome wat sy verwagting vir inflasie drasties opwaarts aangepas het – van 3,7% in Maart tot 4,6% in Mei.

Schüssler sê internasionale mielie- en sojapryse is steeds aan die styg, wat op sy beurt voer duurder maak en veral hoendervleis duurder gaan maak.

Ander pryse styg ook, soos die prys van motors weens ’n groter vraag, wat boonop gekompliseer word deur die tekort aan mikroskyfies wat produksie wêreldwyd kniehalter.

Wat ekonomiese groei betref, is ekonome nou méér optimisties, maar Schüssler sê groei sal halfhartig wees totdat toerisme weer op dreef is. Toerisme verskaf werk aan nagenoeg 5% van Suid-Afrikaners.

  

WAT EKONOME NOU VOORSPEL

  

Ekonomiese groei
k

Die konsensusvoorspelling vir ekonomiese groei vir 2021 is nou 3,7%, teenoor 3,5% in April.

Prof. Corné von Walbeek, beoordelaar van die kompetisie, wys daarop dat dit uitsonderlik is dat ekonome méér optimisties oor ekonomiese groei word soos ’n jaar vorder. Gewoonlik begin hulle met ’n optimistiese siening wat dan getemper word soos meer data bekend word.

Sedert die kompetisie in Maart begin het, het 17 ekonome hul groeiverwagting opwaarts aangepas. Die grootste aanpassing, van 1,4 persentasiepunte, was dié van Gerhard Kuhn, wat nou 3,7% groei verwag teenoor 2,3% in Maart.

Nog sewe het hul verwagting verlaag, maar die verlagings is meestal klein. Die grootste verlagings was 0,8 van ’n persentasiepunt, met Lullu Krugel (tot 3%) en Reuben Beelders (tot 3,7%) wat so ver afwaarts gespring het.

Die res, 12 ekonome, het hul verwagting dieselfde gehou as aan die begin van die kompetisie.

Die voorspellings wissel soos voorheen van Fanie Brink se pessimistiese -2,2% tot Wilbie Venter se optimistiese 5,6%.

  

Huishoudelike besteding
k

Ekonome se siening oor huishoudings se veerkragtigheid het nie beduidend verander die afgelope maande nie. Die beweging was wel in ’n positiewe rigting. In Maart het ekonome groei in huishoudelike besteding vir 2021 op 3,3% geraam, in April op 3,6% en nou effens hoër op 3,7%.

Die uitskieters bly Fanie Brink met die laagste syfer van 2% en Wilbie Venter met die hoogste, van 9,2%.

  

Inflasiekoers
k

Ongeag die stygende kommer oor inflasie – die inflasiekoers van die VSA is nou die hoogste in drie jaar – het die konsensus oor inflasie onveranderd op 4,2% gebly.

As ’n mens egter dieper delf as die konsensus, is daar ’n onderstroming van kommer oor die inflasiekoers. Byna die helfte (17) ekonome se verwagting vir inflasie was in Mei hoër as in Maart. Nog 15 het hul verwagting onveranderd gehou en net 4 het dit verlaag.

Die laagste voorspelling, 3,5%, is dié van Emile du Plessis. Die hoogste, 4,8%, word deur Richard Downing en dr. Roelof Botha voorspel.

In Maart was die inflasiekoers 3,2%. Ondanks die feit dat die konsensus onveranderd bly, is daar dus die verwagting dat inflasie oor die volgende paar maande gaan styg.

  

Staatseffekte
k

Die opbrengskoers op staatseffekte is die rentekoers wat die staat op sy skuld betaal. Dus, hoe hoër dit is, hoe groter die risiko dat die staat nie by sy begroting sal kan hou sonder om dienslewering te besnoei of belasting te verhoog nie.

Die feit dat ekonome nou ’n opbrengskoers van 9,6%, verwag pleks van 9,8% in April, is dus goeie nuus vir amper almal (beleggers in staatseffekte mor dalk effens).

Die gemiddelde koers wat ekonome vir die laaste kwartaal van 2021 voorspel, wissel egter redelik wyd, van Fanie Brink en Reuben Beelders se 8,5% tot Francois Stofberg se 11%.

  

Rentekoers
k

Die meeste van die 36 ekonome (22) verwag op die oomblik dat die rentekoers in 2021 glad nie gaan styg nie. Dis selfs al het die Reserwebank se voorspellingsmodel in Maart daarop gedui dat die rentekoers in Mei verhoog gaan word, en dan weer in die vierde kwartaal van die jaar.

Dis dus nie iets waaroor mense met skuld of dié wat van plan is om vanjaar huis of motor te koop, houtgerus moet wees nie. Dis nooit ’n slegte plan om speling in jou begroting in te bou vir die moontlikheid dat rentekoerse kan styg nie – des te meer gegewe dat nie een uit 36 ekonome reken die rentekoers gaan gou weer verlaag word nie.

Onder die 14 ekonome wat reken die rentekoers gaan wel in 2021 styg, reken die meerderheid (7) dat net een rentekoersverhoging van 0,25 van ’n persentasiepunt voorlê.

Twee ekonome, Mike Schüssler en dr. Koos Coetzee, verwag dat die koers teen die einde van die jaar 7,7% gaan wees. Dit impliseer twee of drie verhogings vanjaar as die Reserwebank hou by sy voorkeur om koerse met 0,25 of ’n maksimum van 0,5 van ’n persentasiepunt op ’n slag te verhoog. (2020 was ’n uitsondering, toe die Reserwebank weens die Covid-19-krisis twee keer die rentekoers met ’n hele persentasiepunt verlaag het en nog ’n keer met ’n halwe persentasiepunt. Altesame is die koers in 2020 met 3 persentasiepunte verlaag.)

’n Rentekoersbesluit word weer op 20 Mei aangekondig.

  

Wisselkoers
k

In April was ekonome bekommerd oor of die rand sy kragtoer sou volhou. En wat gebeur toe? Die rand het selfs verder versterk, kortstondig tot selfs onder R14 per dollar, vir die eerste keer sedert Desember 2019.

Vir die tweede maand in ’n ry het ekonome ’n sterker rand voorspel vir die vierde kwartaal van 2021. Die konsensus is nou vir R15,10 teenoor die dollar.

Sedert die aanvang van die kompetisie net twee maande gelede het ekonome dus ’n verstommende 48c van hul verwagte wisselkoers afgesny, oftewel hulle verwag nou ’n rand wat meer as 3% sterker gaan wees.

Altesame 19 ekonome het ’n sterker rand voorspel, met prof. Danie Meyer wat die grootste aanpassing, van R16,80 tot R15, gemaak het (R1,80, oftewel ’n versterking van 12%).

14 ekonome het hul voorspelling onveranderd gehou en drie het ’n swakker rand voorspel as wat hulle in Maart voorspel het.

Prof. Waldo Krugell se voorspelling van R14,90 is swakker as sy Maart-voorspelling, van R14,20, maar is steeds meer optimisties as die konsensus. Die ander twee ekonome wat nou ’n swakker rand voorspel, is Wilbie Venter en Reuben Beelders, wat onderskeidelik R16,22 en R16 vir ’n dollar voorspel.

Die sterkste voorspelling is Francois Stofberg se R14,50 en die swakste Fanie Brink se R16,80.

Von Walbeek het met die aanvang van die kompetisie gewaarsku dat die wisselkoers juis een van die dinge is wat ekonome die meeste sukkel om te voorspel. Modelle blyk nie al die faktore te kan inspan wat die rand roer nie.

  

Brent-ruolie
k

Die olieprys styg nou al geleidelik sedert einde 2020 en die aanpassings in ekonome se voorspellings weerspieël dit. Die konsensusraming vir wat ’n vat Brent-ruolie in die laaste kwartaal sal kos, was in April $63. Nou is dit $65.

Dis belangrik om daarop te let dat dit steeds minder is as wat olie tans kos, dus verwag ekonome eintlik dat die olieprys vanjaar weer gaan daal.

Dis goeie nuus vir Suid-Afrikaanse motoriste as dit wel die geval is, maar Von Walbeek beskou die olieprys eweneens as iets wat ekonome selde in die kol voorspel.

Die band van voorspellings wissel van Fanie Joubert se $50 tot Jannie Rossouw en Lullu Krugel se $75.

Motoriste kan terloops in Junie ’n klein styging in brandstofpryse verwag ná Mei se verlaging.

  

Goudprys
k

Die konsensus oor die goudprys fluktueer redelik skerp van maand tot maand. Tussen Maart en April het die konsensus met 2,4% gedaal en van April tot Mei het dit weer met 4,2% gestyg. Die konsensus is nou dat goud in die vierde kwartaal van 2021 gemiddeld $1 750 per fynons sal kos.

Vergeleke met Maart het ses ekonome hul verwagting van die goudprys verlaag, 13 het dit verhoog en 17 het dit onveranderd gelaat.

Die voorspellings wissel van Fanie Joubert se $1 500 per fynons tot Mike Schüssler se $1 950.

  

JSE se indeks van alle aandele
k

Ekonome word dikwels beskou as goeie bronne van beleggingsadvies en hoewel baie van hulle vir banke of batebestuursfirmas werk, is dit ook maar ’n spesialisgebied waarop nie alle ekonome inzoem nie.

Om die JSE se indeks van alle aandele te voorspel, is vanjaar ’n opsionele ekstra.

Die konsensus is steeds dat die indeks gaan styg, maar die styging wat nou voorsien word, is effens kleiner. Die konsensus is vir 69 000 teenoor 10 Mei se sluiting van 68 377 punte.

Die voorspellings wissel van Wilbie Venter se 59 000 punte tot Frank Blackmore se 75 425.

   

k

   

HIER IS DIE DEELNEMERS

ekonoom2103
Elize Kruger, onafhanklike ekonoom
ekonoom2103
Emile du Plessis van Finometrica
ekonoom2103
Fanie Joubert van Unisa
ekonoom
Dr. Francois Stofberg van Efficient Group
ekonoom
Frank Blackmore van EFConsult
ekonoom
Gerhard Kuhn van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie

ekonoom
Hugo Pienaar van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch
ekonoom
Jeff Schultz van BNP Paribas
ekonoom
Prof. Jannie Rossouw van die Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand
ekonoom
Johan Rossouw van Vunani
ekonoom
Johan Willemse van Agrimark Konsultante
ekonoom
Johann Els van Old Mutual

Maarten Ackerman van Citadel
Lullu Krugel van PwC
Elna Moolman van Standard Bank
ekonoom
Fanie Brink, onafhanklike ekonoom
ekonoom
Dr. Koos Coetzee, onafhanklike ekonoom

ekonoom
Johannes Jordaan van Economic Modelling Solutions
ekonoom
Koenie Malherbe van Marble Rock Asset Management
ekonoom
Pieter du Preez van NKC African Economics
ekonoom
Reuben Beelders van Gryphon Asset Management
ekonoom
Richard Downing van Econdow
ekonoom
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep

ekonoom
Sanisha Packirisamy van Momentum Investments
ekonoom
Prof. Waldo Krugell van die Skool vir ekonomie aan Noordwes-Universiteit
ekonoom
Wilbie Venter van Unigrain
Mike Schüssler van Economists.co.za
Netwerk24 wikus de wet
nedbank
Nicky Weimar van Nedbank
Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom
Salomé Fischer

Annabel Bishop van Investec
Prof. Carel van Aardt van die Buro vir Marknavorsing aan Unisa
Prof. Danie Meyer van die Universiteit van Johannesburg
Dr. Chris Harmse van CH Economics
Dawie Klopper van PSG Wealth
ekonoom
Christo Luüs van Ecoquant

      

Hier is die 36 deelnemers aan Ekonoom van die Jaar 2021
  • Annabel Bishop van Investec
  • Prof. Carel van Aardt van die Buro vir Marknavorsing aan Unisa
  • Dr. Chris Harmse van CH Economics
  • Christo Luüs van Ecoquant
  • Prof. Danie Meyer van die Universiteit van Johannesburg
  • Dawie Klopper van PSG Wealth
  • Elize Kruger, onafhanklike ekonoom
  • Elna Moolman van Standard Bank
  • Emile du Plessis van Finometrica
  • Fanie Brink, onafhanklike ekonoom
  • Fanie Joubert van Unisa
  • Dr. Francois Stofberg van Efficient Group
  • Frank Blackmore van EFConsult
  • Gerhard Kuhn van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie
  • Hugo Pienaar van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch
  • Prof. Jannie Rossouw van die Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand
  • Jeff Schultz van BNP Paribas
  • Johan Rossouw van Vunani
  • Johan Willemse van Agrimark Konsultante
  • Johann Els van Old Mutual
  • Johannes Jordaan van Economic Modelling Solutions
  • Koenie Malherbe van Marble Rock Asset Management
  • Dr. Koos Coetzee, onafhanklike ekonoom
  • Lullu Krugel van PwC
  • Maarten Ackerman van Citadel
  • Mike Schüssler van Economists.co.za
  • Nicky Weimar van Nedbank
  • Pieter du Preez van NKC African Economics
  • Reuben Beelders van Gryphon Asset Management
  • Richard Downing van Econdow
  • Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep
  • Sanisha Packirisamy van Momentum Investments
  • Thea Fourie van IHS Markit
  • Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom
  • Prof. Waldo Krugell van die Skool vir ekonomie aan Noordwes-Universiteit
  • Wilbie Venter van Unigrain

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand  |  Inflasie  |  Inflasiekoers  |  Ekonoom Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.