Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sterkste groei in 14 jaar vir SA voorspel

Die rand gaan heelwat verswak, maar nie tot die vlakke wat in 2020 gesien is nie. Die goud- en olieprys gaan daal, die JSE gaan aanhou styg, en die rentekoers gaan dalk minimaal styg. Dít is in ’n neutedop wat die land se voorste ekonome nou voorspel vir die res van 2021.

  

Ekonome se voorspellings oor faktore soos die rand, rentekoers en ekonomiese groei kan individue en ondernemings help om besluite oor hul geldsake te neem.

Die 36 ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, het onlangs hul Junie-voorspellings vir agt veranderlikes ingedien.

Seker die interessantste daarvan is hoe optimisties die meeste van hulle oor ekonomiese groei geword het.

Die sterkste ekonomiese groei in minstens tien jaar word vir 2021 verwag.

    

k

Ekonomiese groei

’n Ongekende optimisme heers oor Suid-Afrika se ekonomiese groei vir 2021.

Net vier maande gelede, in Maart, was die konsensusverwagting van die 36 ekonome dat die ekonomie vanjaar met 3,5% gaan groei. Vroeg in Junie het hulle 4,6% voorspel.

Die raaiskote wissel van Fanie Brink, ’n onafhanklike landbou-ekonoom, se steeds pessimistiese -2,2% tot Johann Els van Old Mutual se 5,5%.

Altesame vier ekonome verwag groei van 5% of meer: Nicky Weimar van Nedbank (5%), Wilbie Venter van Unigrain (5,3%), dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, (5,4%) en Els (5,5%).

Vergeleke met hul eerste voorspellings, in Maart, het 20 ekonome hul verwagting verhoog, 11 het dit onveranderd gelaat en net 5 het dit verlaag.

Die voorspellings is gemaak nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) op 8 Junie bekend gemaak het ekonomiese groei in die eerste kwartaal van 2021 was 4,6%, gemeet op ’n geannualiseerde grondslag (dus as die kwartaal-tot-kwartaal-groei van die eerste kwartaal vier kwartale lank sou voortduur).

Die voorspellings is wel gemaak net voordat die derde vlaag Covid-19-infeksies die land getref het. Dit kan ekonomiese groei terughou, deels weens regulasies soos die perk op drankverkope (tans net toegelaat van Maandae tot Donderdae) en die aandklokreël (tans 22:00), en deels omdat dit mense huiwerig kan maak om winkel toe te gaan.

k

    

Huishoudings se besteding

Huishoudings se besteding aan verbruikersgoedere soos kos, klere, brandstof en krag is ’n baie belangrike aandrywer van groei aan die vraagkant van die ekonomie. Ekonome se konsensusverwagting is nou vir groei van 5% hierin, teenoor die Maart-verwagting van 3,4%.

Die verwagtinge wissel van Brink se 1,5% tot Venter se 6,9%.

Volgens SSA sal huishoudings se besteding in 2021 4,7% beloop as die groei van die eerste kwartaal heeljaar volgehou word. Dit kan egter in die tweede en selfs derde kwartaal teëspoed kry weens die derde vlaag Covid-19-infeksies.

Die herstel kom van ’n betreklik lae grondslag af gegewe 2020 se inperkingsmaatreëls.

k

    

Inflasie

Ekonome se konsensus oor inflasie het geleidelik opgeskuif, maar die verwagting van 4,3% vir die volle 2021 is steeds onder die middelpunt (4,5%) van die Reserwebank se teikenband (3% tot 6%).

Die voorspelling was in Maart 4%, in April 4,1%, in Mei 4,2% en nou nog ’n basispunt hoër.

Dit wissel van Elna Moolman van Standard Bank se 3,5% tot Mike Schüssler van Economists.co.za en Richard Downing van Econdow se 4,6%.

Inflasie was in April 4,4%, dus lyk dit of ekonome verwag dat dit reeds naby die boonste draaipunt is.

k

    

Staatseffekte

Die opbrengskoers op langtermyn-staatseffekte is ’n belangrike aanwyser van risiko-persepsies oor Suid-Afrika.

Die konsensus hieroor is dat dit in die vierde kwartaal van 2021 9,93% sal beloop. Dit is hoër as die 9,7% wat in Mei voorspel is, wat wys op ’n verswakking in sentiment jeens Suid-Afrika. Die heersende koers is 9,52%.

Voorspellings wissel van Johan Willemse van Agrimark Konsultante se 8,3% tot die 11% wat dr. Francois Stofberg van die Efficient Group en Downing voorspel.

k

    

Rentekoers

Mense met skuld kan taamlik gerus bly dat die rentekoers nie vanjaar gaan styg nie of net effens gaan styg.

Nie ’n enkele ekonoom verwag dat die prima rentekoers teen die einde van die jaar laer as tans, dus 7%, gaan wees nie.

23 uit die 36 ekonome, dus byna 64%, verwag dat die rentekoers vanjaar onveranderd gaan bly.

Slegs een ekonoom, Schüssler, verwag dat die koers skerp gaan styg, tot 7,7%. Dit sou drie klein verhogings van om en by 25 basispunte elk suggereer.

Nege ekonome, dus 25%, verwag dat die rentekoers een keer met 25 of 30 basispunte verhoog gaan word, en drie (8%) verwag ’n totale verhoging van 50 basispunte.

Data van die Reserwebank self dui op twee verhogings van 25 basispunte, dus altesame 50, maar die monetêrebeleidskomitee het in Mei die data geïgnoreer vir die eerste verwagte verhoging. Die volgende geskeduleerde rentekoersbesluit is einde Julie.

k

    

Rand-dollar-wisselkoers

Nie ’n enkele ekonoom reken dat die rand sy huidige sterk vlakke teenoor die dollar tot in die vierde kwartaal gaan volhou nie.

Op 10 Junie, die laaste dag wat ekonomie vir hul Junie-ramings kon gebruik, het ’n dollar R13,60 gekos. Die mees optimistiese ekonoom oor die rand was Botha en selfs hy voorspel ’n effense verswakking tot R13,70.

Einde Mei het die rand verras met ’n lopie tot selfs R13,44 teenoor die dollar, maar die geldeenheid het sedertdien teruggeskuif tot swakker as R14 per dollar.

Die mees pessimistiese ekonoom is Brink, wat R16,20 teen die einde van die jaar verwag.

Vir gewone mense is dit dus duidelik: Indien jy ’n oorsese reis of oorsese beleggings beplan, moenie wag totdat die rand verder verswak nie, en ekonome verwag nie juis dat dit gaan versterk nie.

k

    

Olieprys

Moontlik goeie nuus vir motoriste is dat ekonome reken die olieprys gaan 2021 baie laer afsluit as wat dit nou is. Dit sal ’n interessante wending wees, aangesien die olieprys die afgelope drie maande met 9% gestyg het.

Die konsensus vir die prys van Brent-ruolie is nou $64 per vat, teenoor $65 in Mei. Dít teenoor die prys van $72,38 op 10 Junie, toe die ekonomie hul ramings moes indien.

Die voorspellings wissel van Fanie Joubert van Unisa se $50 tot $75, wat voorspel word deur prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand, Jeff Schultz van BNP Paribas en Lullu Krugel van PwC.

k

    

Goudprys

Nes met die olieprys, verswak ekonome se konsensus én is hul konsensus laer as die heersende prys, wat ’n daling oor die loop van die jaar suggereer.

Die konsensus vir die goudprys is $1 735 per fynons, teenoor Mei se $1 750, en teenoor 10 Junie se werklike prys van $1 898,77.

Die verwagtinge wissel van Joubert se $1 500 tot Johannes Jordaan van Economic Modelling Solutions en Schüssler se $1 950.

k

     

JSE

Ekonome is nie verplig om te raai waar die JSE se indeks van alle aandele 2021 gaan eindig nie, en 16 uit die 36 kies dan ook om liewers nie dié speletjie te speel nie.

Die konsensus van die 20 ekonome wat wel die JSE probeer peil, is dat die indeks vanjaar op 69 900 gaan sluit. Die verwagting is onveranderd van Mei, hoewel ekonome hier en daar aan hul voorspellings geskaaf het.

Die voorspellings wissel van 60 000 tot 74 500. Op 10 Junie het die indeks op 67 543 punte gesluit.

Daar is net vyf ekonome wie se voorspelling laer is as die heersende indekspunt. ’n Goeie 75% reken dus die indeks gaan verder styg – dalk iets om in ag te neem as jy geld het om te belê!

k

   

Dié ekonome neem deel
  • Annabel Bishop van Investec
  • Prof. Carel van Aardt van die Buro vir Marknavorsing aan Unisa
  • Dr. Chris Harmse van CH Economics
  • Christo Luüs van Ecoquant
  • Prof. Danie Meyer van die Universiteit van Johannesburg
  • Dawie Klopper van PSG Wealth
  • Elize Kruger, onafhanklike ekonoom
  • Elna Moolman van Standard Bank
  • Emile du Plessis van Finometrica
  • Fanie Brink, onafhanklike ekonoom
  • Fanie Joubert van Unisa
  • Dr. Francois Stofberg van Efficient Group
  • Frank Blackmore van EFConsult
  • Gerhard Kuhn van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie
  • Hugo Pienaar van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch
  • Prof. Jannie Rossouw van die Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand
  • Jeff Schultz van BNP Paribas
  • Johan Rossouw van Vunani
  • Johan Willemse van Agrimark Konsultante
  • Johann Els van Old Mutual
  • Johannes Jordaan van Economic Modelling Solutions
  • Koenie Malherbe van Marble Rock Asset Management
  • Dr. Koos Coetzee, onafhanklike ekonoom
  • Lullu Krugel van PwC
  • Maarten Ackerman van Citadel
  • Mike Schüssler van Economists.co.za
  • Nicky Weimar van Nedbank
  • Pieter du Preez van NKC African Economics
  • Reuben Beelders van Gryphon Asset Management
  • Richard Downing van Econdow
  • Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep
  • Sanisha Packirisamy van Momentum Investments
  • Thea Fourie van IHS Markit
  • Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom
  • Prof. Waldo Krugell van die Skool vir ekonomie aan Noordwes-Universiteit
  • Wilbie Venter van Unigrain
k

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand  |  Inflasie  |  Inflasiekoers  |  Ekonoom Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.