Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Stewige supermark-syfers dalk goeie nuus vir ekonomie
Dit blyk supermarkte hou nog kop bo water, al druk die ekonomie. Foto: iStock

Supermarkte se verkope in Mei was die beste nóg vanjaar en dit wil-wil lyk asof die land ’n tegniese resessie – twee kwartale van negatiewe groei – afgeweer het.

’n Stewige 7,7% méér geld is in Mei bestee by die algemene handelaars waar Suid-Afrikaners die meeste van hul kos en kruideniersware koop, vergeleke met Mei 2018. In konstante 2015-randwaarde (wat dus die uitwerking van prysstygings uitsluit) het verkope met 4% gegroei.

Dié syfer kom uit die kleinhandelverkoopsyfers wat Statistieke Suid-Afrika Woensdagmiddag uitgereik het.

Alle kleinhandelverkope het van jaar tot jaar met 2,2% gegroei. Dis die tweede hoogste groeikoers vanjaar nadat dit in April 2,7% was.

Tussen April en Mei het kleinhandelverkope met net 0,1% gegroei.

Seker die belangrikste syfer is egter die driemaandegroei van 1,1%. Dit is die eerste keer sedert Januarie dat die driemaandesyfers positief is. Hoewel dit nog nie die tweede kwartaal verteenwoordig nie – dis die groei in Maart, April en Mei teenoor Desember, Januarie en Februarie – is dit kans nou baie goed dat kleinhandelverkope in die tweede kwartaal gegroei het.

Kwartaalgroei is die manier waarop die bruto binnelandse produk (BBP) bereken word. Die BBP vir die tweede kwartaal sal eers in September bekend wees, maar gegewe hoe belangrik verbruikers se besteding vir die BBP is, is daar rede om versigtig optimisties te wees.

Die ekonome wat aan Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, verwag op die oomblik ’n gemiddeld van 0,69% groei vir die hele 2019.

Benewens die sterk groei by algemene handelaars, was meubelverkope 3,2% hoër as ’n jaar gelede (in konstante randwaarde); verkope van toiletware, grimering en medisyne was 2,9% hoër en verkope by spesialis-kosplekke soos deli’s en bakkerye was 2,7% hoër.

Vir die hele jaar tot Mei is kleinhandelgroei tot dusver ’n tam 0,1%.

Die Nedbank-ekonome Johannes Khosa en Dennis Dykes verwag dat kleinhandelverkope vir die res van die jaar positief gaan bly, ondersteun deur lae inflasie en die lae rentekoers. “Die styging sal egter beperk word deur onder meer swak vertroue en beperkte werkvooruitsigte.” 

Onder die dinge wat verbruikersvertroue ondermyn, tel die vrees vir verdere beurtkrag, traer wêreld- ekonomiese groei, die regering se swak fiskale posisie en voortslepende beleidsonsekerheid, sê Nedbank. “Dit sal kapitaalbesteding kniehalter en werkskepping beperk, wat verbruikers tesame met hoë brandstof- en geadministreerde pryse (soos kragtariewe) en hoë kredietvereistes versigtig sal maak om aggressief te bestee op nie-noodsaklike goedere en dienste.” 

Meer oor:  Kleinhandel  |  Supermark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.