Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Stimulus? Die regering se geld is op

Al is die staat van inperking opnuut verleng en verskerp, moet Suid-Afrikaners nie hul asem ophou vir enige stimuluspakkette van die regering se kant af nie – die geld is doodeenvoudig op.

Die hande van Tito Mboweni, minister van finansies, is afgekap om nog stimulus vir die land aan te kondig. Foto: Getty Images

Wat nou gebeur, is ’n fyn balans om die druk op die hospitale te verlig en die ekonomie so oop as moontlik te probeer hou, sê Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, aan Netwerk24.

“Hulle besef hulle kan nie die ekonomie weer sluit nie,” sê hy oor die regering.

“Hulle probeer dié keer soveel as moontlik oophou.”

Maar groot dele van die ekonomie gaan steeds gebuk onder die strenger regulasies van die vlak 3-inperking wat beteken dat baie mense hul inkomste en hul werk verloor.

So waar is die stimuluspakket?

Volgens sowel Ackerman as prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool is die geld op – al wou die regering weer probeer om die ekonomie te stimuleer en mense te ondersteun kan hy dit nie bekostig nie.

“Die regering het geen geld oor nie,” sê Rossouw.

“Die staatsdienslone, toelae en rente op bestaande skuld is meer as die inkomste van die hele regering.”

En ons kan nie meer leen nie.

Maarten Ackerman, hoofekonoom en adviserende vennoot by Citadel.

Ackerman waarsku dat die land voor ’n fiskale afgrond staan.

In die leemte wat gelaat word deur die afwesigheid van ’n stimuluspakket is die enigste opsie vir die regering om die ekonomie so oop as moontlik te hou sodat die stimulus nie so ernstig nodig word nie.

“Die huidige vlak 3-inperking het nie dieselfde effek as die vorige vlak 3 nie,” sê Ackerman.

En dit word doelbewus so gedoen.

Die regering weet hy het nie meer geld oor nie, en kan dus nie bekostig om ekonomiese aktiwiteite weer heeltemal deur regulasies te kniehalter nie.

Die uitsondering is die drankverbod, sê Ackerman.

Maar daar is die regering se hande afgekap.

Ander lande wat weer strenger inperkings toegepas het, het nie ’n drankverbod ingestel nie, maar weens die eienskappe van die sosiale kultuur in die land is dit nodig in Suid-Afrika, reken Ackerman.

Die regering kon byvoorbeeld aksyns op drank met 100% verhoog het in ’n poging om die druk op die hospitale te verlig, maar in Suid-Afrika, reken Ackerman, sou Jan Alleman, ongeag hoe arm hy is, net ophou om iets anders te koop sodat hy steeds drank kan bekostig en misbruik.

In ander lande word hospitale nie so oorval met traumagevalle weens alkohol nie.

Maar Ackerman verwag dat drastiese hoër aksyns op drank steeds Suid-Afrika se voorland is.

“Die regering sal iets moet doen,” sê hy.

En dit is nie net om iets te doen aan die chaos oor drankverbruik in Suid-Afrika nie, maar ook om die gat in die regering se sak te stuit.

Maar Rossouw sê nog burokrasie is nie die oplossing nie.

“Die enigste stimulus wat die land oor het, is die private sektor!”

Hy meen alles moet nou gedoen word om die private sektor toe te laat om sy werk te doen deur van burokrasie en rompslomp ontslae te raak.

Dit sluit in die beskikbaarstelling van entstowwe.

“Hoekom kan die private sektor nie die entstowwe invoer en versprei nie?

“Die regering is behep met mag en burokrasie – nes sosialiste altyd is.”

Die regering moet nou oral besnoei om die miljoene dosisse van die Covid-19-entstof te kan bekostig, en Rossouw sê dit ontneem broodnodige besteding aan infrastruktuur.

“Die beste stimulus sou wees om nou infrastruktuur te bou.”

Hy meen die enigste manier hoe ons vir ons kinders kan regverdig dat die land soveel miljarde rande geleen het, is dat daar iets nuuts is vir hulle om mee te werk in die toekoms deur besteding aan infrastruktuur.

“Staatskuld is niks anders as leen by die kinders nie.

“Ons moet iets tasbaars nalaat vir hulle om dit te regverdig.”

Meer oor:  Maarten Ackerman  |  Tito Mboweni  |  Pandemie  |  Hulpverlening  |  Inperking  |  Stimulus  |  Gedelike Hulp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.