Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Stimuluspakket: Dié 8 vrae pla nog

Suid-Afrikaners se geduld is op met hol woorde – hulle wil ’n eerlike verbintenis sien tot die oplossing van die land se ekonomiese probleme, en sommer gou ook.

Pres. Cyril Ramaphosa stel die simuluspakket Vrydag in Pretoria bekend. Foto: Deaan Vivier

Dit blyk uit die frustrasie wat ontleders uitspreek in hul kommentaar wat steeds instroom nadat pres. Cyril Ramaphosa Vrydag sy “stimuluspakket” bekend gestel het.

Hoewel daar positiewe kommentaar is, en baie belofte van steun uit die private sektor, is daar met nabetragting uitgelig dat daar nóg nuwe geld in die ekonomie ingepomp gaan word, nóg dat daar veel werklik nuwe inisiatiewe is.

Die grootste frustrasie is die gebrek aan besonderhede oor die wat, wanneer, en hóé van die stimuluspakket.

“Ons sien uit na die ontbrekende besonderhede van die stimulus-en-herstelpakket, die beleggingskonferensie en werkberaad, skedules vir inwerkingstelling, maatstawwe van sukses en duidelike lyne van verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid,” sê Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika.

Lees ook: Voer plan dié keer uit, vra sakelui

Hier is agt vrae wat nog in die lug hang.

  

1. Hoe gaan die koste van sake doen verlaag word?

Dennis Dykes, Nedbank-ekonoom: “Wat kortgekom het, was ’n omvattende diagnose van die ekonomie se strukturele ellendes en ’n breër plan om dié dieperliggende probleme op te los.”

Die Nedbank-ekonoom Dennis Dykes wys daarop dat Ramaphosa in een sin daarna verwys het dat die koste van sake doen verlaag gaan word. Geen besonderhede is egter verskaf nie.

  

2. Waar is die moeilike besluite?

Ramaphosa het weggeskram van polities moeilike aankondigings – en dit sluit in dat die problematiese staatsondernemings glad nie onder skoot gekom het nie.

“As Suid-Afrika sy weg uit die huidige ekonomiese moeras wil wind, sal moeilike kompromisse aangegaan moet word tussen die belange van die regering, sake- en arbeidsektor, ter wille van die nasionale belang,” sê Coovadia.

Ons land se hulpbronne moet toegewys word aan produktiewe infrastruktuur, eerder as om mislukkende en onnodige staatsondernemings se bankrotskap af te weer.
Cas Coovadia van die Bankvereniging

“Dit sluit in dat daar, en vinnig, besluit moet word oor die toekoms van sekere staatsbeheerde ondernemings. Ons land se hulpbronne moet toegewys word aan produktiewe infrastruktuur, eerder as om mislukkende en onnodige staatsondernemings se bankrotskap af te weer.”

    

3. Wat presies gaan die adviespaneel oor grondhervorming doen?

Volgens ’n afsonderlike verklaring gaan die paneel die interministeriële komitee oor grondhervorming, wat deur adj.pres. David Mabuza aangevoer word, bystaan. “Maar dis onduidelik hoe dié liggaam parlementêre prosesse en bestaande ANC-beloftes kan beïnvloed,” sê Dykes.

Dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), wys daarop dat die pakket byvoorbeeld geen versekering gegee het oor die beskerming van eiendomsregte nie.

Lees ook: Dan Kriek in Cyril se paneel oor grond

  

4. Word daar nie te veel hoop op berade geplaas nie?

Ramaphosa het gehamer op die naderende beleggingskonferensie en die werkberaad, asof dit ’n kitsoplossing vir dié twee probleme gaan bring. Hoewel baie ontleders positief is oor dié gebeurtenisse, is daar ’n mate van skeptisisme.

  

5. Is dit die regte plan vir die land se probleme?

“Dis bemoedigend dat daar stilswyend erken word sekere beleide het die ekonomie skade berokken en moet aangepak word. Wat onduidelik is, is of die besonderhede van die oplossings werklik hierdie doelwitte sal bereik,” sê Dykes.

“Wat kortgekom het, was ’n omvattende diagnose van die ekonomie se strukturele ellendes en ’n breër plan om dié dieperliggende probleme op te los.”

Cronjé sê ook die plan behartig nie die dieper redes vir Suid-Afrika se ekonomiese swakheid nie en sal misluk om die land as ’n mededingende, groeiende mark te posisioneer.

   

6. Skep dit werklik groter beleidsekerheid?

Verskeie ontleders is bekommerd of daar nie net nóg onsekerheid geskep is nie.

Lees ook: Stimuluspakket ‘hol, teenstrydig, uit voeling’

Byvoorbeeld, Ramaphosa het bevestig dat die uiters omstrede Wysigingswetsontwerp op Petroleum- en Minerale Bronne onttrek gaan word. Hy het aangedui ’n nuwe wet gaan geskryf word spesifiek vir die olie-en-gas-bedryf. Wat presies die president daarmee sou wou bereik, is glad nie uitgestippel nie, wat opnuut onsekerheid skep.

  

7. Gaan die plan regtig dadelik in werking tree?

Ramaphosa het ’n mate van dringendheid aangedui vir al die planne. Toe hy spesifiek gevra is oor die tydskedule, het hy geantwoord: “Dit gaan in werking gestel word soos wat ons by die vertrek uitstap.”

Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika: “Ons sien uit na die ontbrekende besonderhede...”

Coovadia sê die president het gepraat van “onmiddellike” veranderinge aan visumregulasies, wat toerisme geknou het, en dat hy “binne weke” die proses sal begin vir die toewysing van breëbandspektrum ten einde waarde in die telekommunikasiesektor te ontsluit.

“Baie van die maatstawwe wat aangekondig is, eggo vorige inisiatiewe, en dis net die vinnige en doeltreffende inwerkingstelling van die voorstelle – deur ’n doeltreffende en verantwoordelike staatsdiens – wat sal verseker dat hierdie pakket slaag waar ander misluk het,” sê Coovadia.

Dykes sê iets soos die verslapping van visumvereistes vir vaardige buitelanders is reeds maande gelede bespreek en dit “verbyster” hom dat dit nie oombliklik in werking kan tree nie.

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, het wel Maandag aangekondig hy gaan Dinsdag ’n nuuskonferensie oor visumregulasies hou waarin besonderhede na verwagting uitgestippel gaan word.

  

8. Waar gaan die regering besnoei?

Dis deurentyd beklemtoon dat die stimuluspakket ter waarde van R50 miljard uit die herprioritisering van staatsgeld gaan kom en nie van nuwe skuld nie. Suid-Afrikaners gaan egter tot 24 Oktober moet wag om te hoor waar die staat wil snoei. Dis wanneer Nhlanhla Nene, minister van finansies, sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk lewer.

Lees ook: Cyril se R400 mjd. vir infrastruktuur ‘nie nuwe geld’

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.