Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Stukwerk kom en gaan in ‘nuwe normaal’

Baie meer mense moet nou vir ’n inkomste op stukwerk staatmaak as vóór die Covid-19-pandemie. Daar is nou baie min sprake daarvan om ’n vaste werk te kry en dit te behou.

Huiswerkers se minimum loon gaan na verwagting met 5,7% styg, maar die departement van arbeid het die werklike styging nog nie bekend gemaak nie - al geld dit van 1 Desember af. Foto: iStock

Die omset van werknemers (sogenaamde churning) is nou drie keer hoër as vóór die pandemie, wys navorsing wat deel van die vierde National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey (Nids-Cram) uitmaak. Dit beteken dieselfde mense is nie heeltyd werkend of werkloos nie.

Dit werk só: 18% van mense wat in Oktober werkloos was, het in Januarie werk gekry, maar 19% wat in Oktober werk gehad het, was in Januarie werkloos.

Oor die algemeen was daar ’n toename in mense sonder werk. In Oktober het 55% van mense van 18 tot 64 jaar gewerk, en in Januarie 52%. (Die syfers is om verskeie redes nie regstreeks met Statistieke Suid-Afrika se werkloosheidsyfers vergelykbaar nie.)

Volgens die Nids-Cram-navorsers het die persentasie mense met werk onder alle ouderdomme en opvoedingsvlakke gedaal.

Die omset van werknemers was tussen 2010 en 2014 as volg, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers: Tussen 7% en 9% van mense wat in die vierde kwartaal van daardie jare werk gehad het, het nie in die eerste kwartaal van die daaropvolgende jaar werk gehad nie, en tussen 5% en 6% van mense wat in die vierde kwartaal werkloos was, het in die volgende kwartaal werk gekry.

Die werkverliese onder jong mense was teen 31% meer as dubbeld die 13% van “middeljariges” (mense van 41 tot 55 jaar oud) wat hul werk verloor het.

Vroue en werkloosheid

Vroue is in die algemeen swaarder deur die pandemie getref. Onder vroue wat in Februarie 2020 werk gehad het, het 70% in Januarie 2021 werk gehad. Vir mans is dit 78%.

Net 47% van dié vroue het egter die hele jaar lank ononderbroke werk gehad, terwyl die syfer 61% vir mans was.

Net 19% van vroue wat voor die pandemie werkloos was, het teen Januarie vanjaar werk gekry, teenoor 31% vir mans.

Vroue trek deur die bank swaarder, ongeag waar hulle woon, wat hul opvoedingsvlak, ouderdom, ras of huwelikstatus is.

Navorsers skryf dit daaraan toe dat meer vroue werk in die bedrywe wat die swaarste deur die pandemie getref is, soos die gasvryheidsbedryf, persoonlike dienste en werk in private huishoudings.

Daar is ook aanduidings dat vroue hul werk moes prysgee of hul ure moes verminder as hulle klein en skoolgaande kinders in die huis gehad het.

Meer oor:  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Ongelykheid  |  Inperkig  |  Beroepe  |  Armoede  |  Indiensneming  |  Loopbane  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.