Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Swart Vrydag g’n fees van verkope in 2020

Swart Vrydag was verlede jaar niks om oor huis toe te skryf nie. Ná ’n inkopiefees wat in 2019 rekordvlakke bereik het, was November in 2020 ’n redelik droewige maand vir kleinhandelaars.

Chandré Tobias het basiese kruideniersware by Checkers Hyper in Fleurdal, Bloemfontein, gekoop. Sy het beplan om R5 000 op Swart Vrydag te bestee. Foto: Mlungisi Louw

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was verkope in November 4% laer as in 2019, as prysstygings uitgeskakel word. Selfs met prysstygings was verkope 1,2% laer.

Verkope in November was wel ’n stewige 1,8% meer as in Oktober, en 1,9% meer as prysstygings bygetel word.

Twee interessante tendense blyk uit die syfers. Eerstens was die verkope van klere en skoene veel laer as ’n jaar gelede (-5,6% sonder inflasie). Dit dui steeds daarop dat ingeperkte Suid-Afrikaners minder aan hul voorkoms bestee terwyl hulle van die huis af werk en minder sosialiseer tydens die Covid-19-verwante inperking.

Tweedens was die enigste twee kategorieë waarvan verkope gestyg het vir meubels, toestelle en elektronika (7,8%) en vir ysterware, verf en glas (14%). Dit beteken Suid-Afrikaners is steeds besig om in hul woning te belê, ’n tendens wat opgevlam het toe meer mense van die huis af begin werk het tydens die inperking.

Die enigste ander kategorie waarvan verkope effens gegroei het, was vir medisyne en toiletware, maar dit het in November met net 0,3% gegroei. Dit was voordat die tweede vlaag Covid-19-infeksies rekordvlakke bereik het.

Verkope van kos by spesialiswinkels soos slaghuise en bakkerye het ook gedaal (-2,6%), maar die skerpste daling in verkope was in die kategorie “ander kleinhandelaars” (-26,1%). Dié kategorie sluit grootliks luukse goedere in wat by boekwinkels, juweliers en spesialiswinkels verkoop word, maar ook gebruikte goedere en aanlyn verkope.

Wat ekonome egter die meeste verras, is die daling van 2,5% in verkope by algemene handelaars. Dis juis winkels soos Shoprite, Pick n Pay, Makro en Spar wat tradisioneel oor Swart Vrydag derduisende voete lok soos verbruikers meeding vir goedkoper toiletpapier en waspoeier. Vanjaar het kleinhandelaars Swart Vrydag-aanbiedinge oor weke eerder as dae volgehou, maar dit blyk die volume verkope was steeds veel laer as in 2019.

Gegewe dat Suid-Afrikaners die meeste van hul inkopies by algemene handelaars doen, het die daling ’n hele 1,1 persentasiepunte van kleinhandelverkope afgeskeer.

In die 11 maande tot einde November was 2020 se kleinhandelverkope 7,6% laer as in 2019. Net Desember se verkoopsyfers moet nog uitgereik word en dit behoort danksy Kersfees en vakansiebesteding effens hoër te wees ondanks die nuwe inperkingsmaatreëls wat kort voor Kersfees ingestel is.

Vooruitsigte vir 2021

Nicky Weimar en Johannes Khosa van Nedbank se ekonomiese eenheid sê in ’n verslag hulle verwag stewiger kleinhandelverkope vanjaar. Dis nie soseer dat die randwaarde van verkope skerp sal styg nie, maar bloot omdat verkope veral vanaf April 2020 uiters laag was toe Suid-Afrika se strengste inperking gegeld het.

“Volgehoue herstel in verbruikersbesteding sal afhang van hoe die vlae Covid-19-infeksies beperk gaan word. ’n Verdere styging in infeksiekoerse kan tot strenger inperkings lei, wat die verwagte stel kan laat ontspoor.

“Meer positiewe ontwikkelings oor die verkryging en verspreiding van entstof aan ’n groot deel van die bevolking sal vertroue inboesem en ekonomiese bedrywighede normaliseer, wat saam met lae rentekoerse verbruikersbesteding sal ondersteun.”

Die Investec-ekonoom Lara Hodes wys daarop dat staatsteun wat vir die Covid-19-krisis ingestel is, tot ’n einde gekom het. Dit sluit in die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-hulpskema vir mense wat tydelik afgelê is en wat tot 15 Oktober geduur het, die nuwe toelae van R350 per maand en verhogings in ander toelae, wat alles einde Desember tot ’n einde gekom het. Dit sal bydra tot gedempte verkoopsgroei vanjaar.

Hodes wys ook daarop dat verbruikers diep in die skuld bly en dus nie veel meer op krediet kan koop nie.

Daarby is wêreldwye verskaffingskettings steeds nie waar dit voor die pandemie was nie, wat die vloei van produkte, en dus verkope vertraag.

Siphamandla Mkhwanazi, senior FNB-ekonoom, wys daarop dat verkope boonop beïnvloed gaan word deur die styging in kospryse. SSA het Woensdag berig kosprysinflasie is nou 6% – die hoogste sedert Julie 2017 – met veral vleis, vrugte, suiker, kookolie en mieliemeel wat baie duurder geword het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.