Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Taks-partytjie verby vir dié wat in buiteland werk
Tertius Troost, belastingkonsultant by Mazars.

Suid-Afrikaners wat ná 1 Maart 2019 vir langer as 183 dae per jaar in die buiteland werk, sal nie meer belasting kan vryspring nie.

’n Wysiging aan hoe Suid-Afrikaners wat oorsee werk, belas word, is een van die voorstelle in die konsepwysigingswetsontwerp oor belastingwette wat die nasionale tesourie dié week vir openbare kommentaar bekend gemaak het.

Dit is om die belastingvoorstelle wat Pravin Gordhan, vorige minister van finansies, in Februarie aangekondig het, van krag te maak.

Jerry Botha, besturende vennoot van Tax Consulting, verduidelik buitelandse inkomste van Suid-Afrikaanse werknemers sal dus ten volle belasbaar wees en die enigste verligting wat geëis kan word, is in die vorm van ’n belastingkrediet vir belasting wat reeds in die buitelandse jurisdiksie betaal is.

’n Werknemer wat byvoorbeeld in die 45%-belastingkerf val en in die buitelandse jurisdiksie teen ’n koers van 25% belas word, sal steeds die oorblywende 20% aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet afstaan.

Tertius Troost, belastingkonsultant by Mazars, sê die wysiging sal die meeste Suid-Afrikaanse belastingbetalers raak wat tydelik oorsee werk en sal veral mense raak wat geld verdien in lande met ’n baie lae of ’n nulbelastingkoers.

“Dit was ’n omstrede kwessie sedert dit vroeër vanjaar aangekondig is. Dit sal byvoorbeeld werknemers raak wat gesekondeer word om vir ses maande per jaar oorsee te gaan werk,” sê Troost.

Jerry Botha, besturende vennoot by Tax Consulting.

Tans hoef Suid-Afrikaanse inwoners wat vir meer as 183 dae per jaar in die buiteland werk nie belasting in Suid-Afrika te betaal op die inkomste wat hulle in die buiteland verdien nie.

Die tesourie het voorgestel dat die wysiging op 1 Maart 2019 in werking tree.

Botha meen een alternatief vir Suid-Afrikaners wat oorsee werk, is om te emigreer.

’n Ander opsie is om ’n belastingverdrag-verblyf in die ander land te probeer vestig, hoewel dit ’n baie ingewikkelde proses kan wees om daarvoor aansoek te doen.

Botha sê sommige Suid-Afrikaners wat oorsee werk, skat dis dalk goedkoper om bloot terug te kom huis toe, veral in die lig van die hoër lewenskoste oorsee.

  • Die volledige wetswysigings is op die tesourie se webwerf te lese by www.treasury.gov.za.

Kommentaar kan teen 18 Augustus gestuur word aan Nombasa Langeni by Nombasa.Langeni@treasury.gov.za en Adele Collins by acollins@sars.gov.za.

Meer oor:  Mazars  |  Nasionale Tesourie  |  Gordhan  |  Gigaba  |  Belasting  |  Buitelanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.