
Prof. Thabo Legwaila, die belastingombud. Foto: Verskaf
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vaar baie beter om belastingbetalers se klagtes te hanteer.
Prof. Thabo Legwaila, uitvoerende direkteur in die kantoor van die belastingombud, sê dié kantoor het in die jaar tot einde Maart 1 369 minder klagtes ontvang as ’n jaar gelede, deels omdat die SAID proaktief optree om belastingbetalers te help.
Hy het Donderdag in ’n aanlyn voorlegging oor die kantoor se jaarverslag gesê dat die SAID ook die afgelope jare baie werk gedoen het om stelselprobleme op te los.
Dit alleen het die probleme wat belastingbetalers met die SAID het, verminder.
In die boekjaar tot einde Maart het die kantoor van die belastingombud 10 810 navrae behartig.
Die kantoor het eindelik 3 372 klagtes ontvang, waarvan 1 993 voor die einde van die boekjaar afgehandel is.
In die vorige boekjaar het hy 4 741 klagtes ontvang.
In totaal het die kantoor 1 644 klagtes aanvaar, maar 1 634 weggewys. Die SAID het 98% van sy aanbevelings aanvaar.
Legwaila sê 32% van die klagtes is binne 30 dae opgelos. Dis teenoor die 10,7% in 2019.
“Van die redes hoekom dit langer kan neem om ’n klagte op te los, is omdat klagtes dikwels baie gekompliseerd is.
“Dit neem tyd om al die inligting by die belastingbetaler en die SAID te kry, en dit dan alles te verifieer.”
Legwaila sê ’n neiging wat uitstaan, is dat 90,3% van die klagtes wat die kantoor weggewys het, bloot gedoen is omdat die belastingbetaler te vroeg by die ombud om hulp kom aanklop het.
“Daar is dus kommer dat belastingbelaters nie noodwendig bewus is van die prosesse wat hulle moet volg, en wat die rol van die belastingombud werklik is nie,” sê Legwaila.
Legwaila sê daar is geen twyfel dat belastingbetalers beter onderrig moet word oor hoe hulle te werk moet gaan wanneer daar probleme is nie.
Klagtes
Een van die kwessies waaroor belastingbetalers veral by die belastingombud kla, is oor terugbetalings.
Die belastingombud het dit reggekry dat ’n totaal van R116 miljoen se terugbetalings gedoen is.
Die grootste terugbetaling wat die belastingombud bewerkstellig het, was R52,27 miljoen in belasting op toegevoegde waarde (BTW).
Die tweede grootste terugbetaling was ’n betaling van R35 miljoen vir ’n maatskappy.
Individuele belastingbetalers het 49% van die klagtes verteenwoordig, terwyl belastingpraktisyns die ander 51% namens hul kliënte behartig het.
By verre die meeste klagtes het van belastingbetalers wat in Gauteng woon, gekom.
Klagtes per provinsie is as volg:
- Gauteng: 2 154 (65,71%);
- Wes-Kaap: 452 (13,29%);
- KwaZulu-Natal: 346 (10,56%);
- Oos-Kaap: 149 (4,55%);
- Vrystaat: 110 (3,36%);
- Mpumalanga: 57 (1,74%); en
- Limpopo: 6 (0,18%).
Enkele klagtes het gekom van burgers wat buite Suid-Afrika woonagtig is.
Probleme
Van die grootste probleme wat belastingbetalers met die SAID ervaar, is net soos vorige jare:
- Vertragings met terugbetalings;
- Onvoldoende inligting oor die uitslag van ’n beswaarbrief oor administratiewe boetes;
- Probleme met die lopende betaalstelsel (LBS) en rekeningstate. Dit gaan oor die volgorde waarin bedrae wat maatskappye aan die SAID oorbetaal, toegeken word vir eerstens die LBS, dan die Werkloosheidsversekeringsfonds en dan aan die vaardigheidsontwikkelingsheffing;
- Die SAID gebruik nie inligting tot sy beskikking gedurende ’n oudit nie;
- Duplisering van verwysingsnommers;
- Verkeerdelike afwysing van appèlkennisgewings;
- Aanslag word hersien sonder vooraf kommunikasie;
- Aanslag word hersien sonder ’n brief oor bevindings;
- SAID ignoreer versoeke vir uitstel van betalings binne voorgeskrewe 21 werksdae;
- Onbillike boetes aan belastingbetalers wat nie opgawes hoef in te dien nie; en
- Verkeerdelike afwys van versoeke om van boetes of rente kwytgeskeld te word.
Digitalisering
Die belastingombud sê een van die mikpunte wat hy vir homself stel, is om na ’n papierlose stelsel te skuif.
Die ombud wil dit vir belastingbetalers moontlik maak om in die toekoms klagtes via sy webtuiste in te dien. Hulle gaan dan glad nie meer ’n vorm hoef in te vul en dit dan na die ombud te stuur nie.