Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Talle bly, net om later te gly
Statistieke Suid-Afrika (SSA) verwag aansienlik minder Suid-Afrikaners sal tot Junie 2021 emigreer.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) verwag aansienlik minder Suid-Afrikaners sal tot Junie 2021 emigreer.

Dit lyk egter nie of diegene met sulke planne dit permanent laat vaar het nie en dit kan selfs opnuut stukrag kry.

In sy bevolkingsyfers vir die middel van die jaar wat op 9 Julie uitgereik is, raam die SSA 86 520 wit Suid-Afrikaners sou van 2016 tot 2021 emigreer.

In 2019 het hy verwag dit sou sowat 116 000 wees.

Emigrasiedata vir ander bevolkingsgroepe is nie beskikbaar nie.

Internasionale verhuisingsmaatskappye en immigrasie-konsultante sê die staat van inperking, wat die sluiting van landsgrense en beperkte buitelandse vlugte insluit, het voornemende emigrante genoop om hul planne op die langebaan te skuif.

Die SSA se migrasie-inligting berus op plaaslike sensusdata, asook inligting van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) en die Internasionale Immigrasie-organisasie.

Magnus Heystek, direkteur en beleggingstrateeg van Brenthurst Wealth, sê emigrasiesyfers is nie baie betroubaar nie en daar is nie ’n amptelike buro wat emigrasiedata invorder nie.

“Daar is baie mense wat net padgee. Hulle het nie bates in Suid-Afrika nie en wanneer hulle in die buiteland begin werk, kom hulle eenvoudig nie terug nie.”

Charles Luyckx, uitvoerende hoof van Elliott Mobility, het aan Rapport gesê voor die inperking was daar jaarliks ’n toename van tussen 25% en 30% in internasionale verhuisings waarby sy maatskappy betrokke was. “Die inperking het dit uiteraard onderbreek, maar ons verwag dit sal weer die hoogte inskiet as daar weer vlugte is en grense oopgestel word.”

Owen Farmerey, besturende direkteur van Biddulphs International, sê van 2016 tot 2019 was daar jaarliks ’n dubbelsyfer-toename in Suid-Afrikaners wat oorsee verhuis. Die grootste styging was die 25%-toename in 2016. In 2019 was daar 14% meer.

FNB se eiendomsbarometer toon 17% van Suid-Afrikaners wat hul huis in die tweede kwartaal verkoop het, het emigrasie as rede aangevoer.

Dit toon waarskynlik talle voorgenome emigrante het nie afgesien van hul planne om die land te verlaat nie.

John Loos, eiendomsekonoom van FNB, sê in 2013 was dit die rede vir 2,3% van huisverkope, maar dit het sedertdien geleidelik toegeneem tot 18% in 2019.

Ook immigrasie-konsultante verwag die onderbreking in emigrasie is net tydelik.

Leon Versfeld, immigrasie-prokureur van Versfeld & Hugo, wat in Kansas City in die VSA gesetel is, het aan Rapport gesê die beperkings sal waarskynlik tot einde vanjaar duur.

“Selfs al wil mense nou landuit gaan, kry hulle nie vlugte nie en konsulate lewer ook beperkte dienste.”

Hy sê daar is steeds groot belangstelling van Suid-Afrikaners – onder wie boere, entrepreneurs en beleggers – wat na die VSA wil verhuis. In die VSA is daar ’n permanente verblyfregvoordeel as ’n buitelander $900 000 belê in ’n projek wat byvoorbeeld talle werkgeleenthede sal oplewer.

JP Breytenbach, direkteur van Breytenbach Immigration Consultants, wat emigrasie-aansoeke na Brittanje hanteer, sê die firma het die afgelope dekade jaarliks ’n bykans 10%-toename in aansoeke waargeneem.

Sedert die algehele inperking opgehef is, was daar opnuut ’n skerp toename in navrae van Suid-Afrikaners wat daaraan dink om te emigreer.

Breytenbach sê wysigings in Britse immigrasiewetgewing wat op 1 Januarie volgende jaar in werking tree, verlaag die vereistes vir werkpermitte “dramaties”. “Selfs sekretaresses, kroegmanne en vele ander kan aansoek doen om immigrasie. Voorheen was dit net professionele mense en senior bestuurders wat gekwalifiseer het. Ons verwag dus ’n groot uittog.”

Meer oor:  Statistieke Suid-Afrika  |  Emigrasie  |  Verhuis  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.