Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Talle ekonome bly erg pessimisties oor groei

Ekonome pas steeds die vooruitsigte vir Suid-Afrika se ekonomiese groei ál laer aan.

Reserwebank
Die meeste ekonome verwag dat die Reserwebank die rentekoers einde Julie gaan verlaag.

Vir Julie is die konsensusvoorspelling van die 38 ekonome wat aan die Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem nou net 0,69%. Dit is teenoor die 0,8% wat hulle in Junie voorspel het.

Hulle het tot dusver in elke maand sedert Maart hul vooruitskatting afgeskaal. In Maart het hulle nog groei van 1,27% verwag.

Hul voorspelling is laer as wat die tesourie (1,5%), die Reserwebank (1%) en die kredietgraderingsagentskappe Moody’s (1,3%) en Standard & Poor’s Global Ratings (1,6%) voorspel.

Die standaardafwyking op dié voorspelling is ’n skamele 0,49, wat wys ekonome stem saam oor dié lae groeivooruitsig.

Die ekonoom wat die minste hoop vir die ekonomie het, is Fanie Brink, ’n onafhanklike ekonoom, wat net soos in Junie ’n inkrimping van 1,5% voorspel.

Hy is egter nie die enigste ekonoom wat ’n inkrimping voorspel nie.

Christo Luüs van Ecoquant en Elize Kruger van NKC African Economics voorspel ook negatiewe groei vir 2019.

Die ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem, moet elke maand voorspellings oor 14 ekonomiese veranderlikes doen. Dit gee ’n goeie riglyn van wat in die ekonomie kan gebeur en verbruikers en sakeondernemings kan dit in hul beplanning gebruik.

Ekonome verwag dat die rand teen die einde van die jaar teen R14,17 teenoor die dollar gaan verhandel.

Die geldeenheid het die eerste week van Julie meestal bo die R14-vlak teenoor die dollar verhandel.

Jerome Powell, voorsitter van die Federale Reserweraad, het egter Woensdag voor die Amerikaanse kongres laat blyk dat dié bank rentekoerse in Amerika gaan verlaag. Dit het die rand ’n goeie hupstoot tot onder die R14-vlak gegee.

Ekonome verwag ook dat die Reserwebank later in Julie die rentekoers in Suid-Afrika gaan verlaag.

Hul verwagting is nou dat die uitleenkoers 10,09% sal wees teen die einde van die jaar. Die verwagting in Junie was 10,21%.

Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) het op sy Mei-vergadering die repokoers onveranderd op 6,75% gelaat, maar twee van die vyf lede van die MBK was ten gunste daarvan dat die repokoers met 0,25 persentasiepunt verlaag word.

Die MBK vergader weer op 24 en 25 Julie.

Aanpassings aan die ekonome se voorspellings is as volg.

Die nuwe voorspellings is:

  • Rand-dollar-wisselkoers – van R14,22 (konsensus in Junie) tot R14,17 (konsensus in Julie) (0,47 – standaardafwyking). In Februarie was die konsensus R13,80.
  • Rand-euro-wisselkoers – van R16,15 tot R16,11 (0,42). Februarie: R15,89.
  • Goudprys – van $1 321,33/fynons tot $1 346,07/fynons (70,09).
  • Platinumprys – van $868,39/ons tot $856,62/ons (51,98).
  • Inflasiekoers – van 4,82% tot 4,71% (0,34).
  • Olieprys – van $67,88/vat tot $66,98/vat (3,14).

Ekonome het steeds uiteenlopende verwagtinge oor die tekort op die lopende rekening.

Die konsensusvoorspelling is nou ’n tekort van R158,90 miljard, teenoor R163,92 miljard in Junie, R164,57 miljard in Mei en R165,71 miljard in April.

Die standaardafwyking is nou 19,57. Die grootste tekort wat ’n ekonoom nou verwag, is R180 miljard teenoor die R200 miljard wat voorheen voorspel is. Die laagste verwagting in Julie is nou R79 miljard. In Junie was die laagste voorspelling nog R112 miljard.

ekonoom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.