Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tender-korrupsie: Maak staat meer soos KFC, sê DG

Chicken Licken en KFC – dis wat Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, Woensdag gebruik het as voorbeelde van goeie geoutomatiseerde verkrygingsprosesse wat die staat behoort te volg om korrupsie te vermy.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie. Foto: Getty Images

Die tesourie was Woensdag voor ’n gesamentlike sitting van die nasionale vergadering se portefeuljekomitee en die nasionale raad van provinsies se gekose komitee oor finansies om te getuig oor vermeende korrupsie in die tenders vir persoonlike beskermende toerusting (PPE).

Tito Mboweni, minister van finansies, het self voor die komitees verskyn oor dié beweerde korrupsie waaroor daar groot openbare woede heers, veral omdat verskeie senior ANC-leiers en van hul familielede regstreeks daarby betrek word.

Volgens Mogajane is die antwoord dalk wel die outomatisering van verkrygings en tenders.

“Chicken Licken en Kentucky doen dit, hoekom kan ons nie?” het hy gevra.

Dit is een van die opsies waarna die regering kyk om die “verskriklike plaag” van korrupsie te probeer uitroei.

David Masondo, adjunkminister van finansies, het gesê die regulasies, kontroles, wette en reëls wat korrupsie en bedrog ten opsigte van verkrygings moet keer, is omvangryk en voldoende, maar ten spyte daarvan kom korrupsie steeds voor.

“Wie in die instansies werk, maak uiteindelik die meeste saak,” het Masondo gesê.

“Ons wen nie tans die oorlog teen die diewe nie.”

Dennis Ryder, DA-LP, meen ook dis nie nodig om bestaande regulasies verder uit te brei nie. Wat nodig is, is eerder “die politieke wil om op te tree”.

“Niemand wat saak maak, is al in hegtenis geneem nie!”

LP’s meen enige verdere rompslomp sal net die probleem vererger.

Yunus Carrim, ANC-LP en voorsitter van die gekose komitee, meen dit gaan nie oor wie aan bewind is nie; dit gaan oor die aansporings wat daar vir korrupsie is. Hy het sover gegaan as om te sê dat breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) die spoor byster geraak het. In plaas daarvan dat dit swart nyweraars geskep het, het dit mense bloot aangespoor om afhanklik te raak van die staat. En so ’n winsgewende afhanklikheid is ’n teelaarde vir korrupsie.

Tenderpreneurs, sê hy, is nie ’n karaktereienskap nie; daar is aansporings wat korrupte tenderpreneurs dryf. Wat hierdie aansporings is, moet ondersoek word. As mense se afhanklikheid van die staat vir ekonomiese vooruitgang gebreek word, sal korrupsie daarmee saam begin verdwyn.

Wouter Wessels, VF Plus-LP, meen die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur “is van die beste ter wêreld”. Maar ten spyte daarvan kom korrupsie voortdurend voor.

Volgens Wessels lê die antwoord in swaarder strawwe en gevolge vir korruptes.

“Hulle moet vervolg word en nie goue handdrukke kry en toegelaat word om te bedank nie. Hulle moet tronk toe.”

Maar Masondo sê dit kos die staat klaar te veel geld om korruptes aan die kaak te stel. As nog geld daarin gestort word, sal dit broodnodige geld van ander projekte wegneem.

Meer oor:  Tesourie  |  David Masondo  |  Tito Mboweni  |  Dondo Mogajane  |  Korrupsie  |  Ppe  |  Verkrygings  |  Tenders  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.