Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Terug na vlak 3: 10 dinge wat jy moet weet

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand ná net meer as twee weke weereens die land toegespreek. Hier is wat jy moet weet.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Getty Images

1. Vlak 3 van die inperking heringestel

Die land sal van middernag Dinsdagaand af na ’n aangepaste vlak 3 van die staat van inperking beweeg. Dit was laas in Desember die geval tydens die tweede vlaag van infeksies.

2. Aandklokreël aangepas

Die aandklokreël is aangepas. Suid-Afrikaners sal nou tussen 22:00 en 04:00 tuis moet wees. Die aandklokreël was vroeër van 23:00 tot 04:00. 

3. Restaurante moet vroeër sluit

Nienoodsaaklike ondernemings soos restaurante en winkels moet nou teen 21:00 hul deure sluit om hul werknemers kans te gee om betyds vir die aandklokreël tuis te wees. Enige onderneming wat nie dié regulasie nakom nie, kan strafregtelik vervolg word.

4. Drankverkope beperk

Drank vir eie gebruik wat gekoop word by drankwinkels sal nou slegs tussen Maandae en Donderdae te koop wees tussen 10:00 en 18:00. Die regulasies verbied ook verkope van drank op openbare vakansiedae.

5. Restaurante mag nog drank verkoop

Restaurante en kroeë mag steeds drank vir gebruik op die perseel verkoop. Geen drank mag egter die perseel verlaat nie en die gebruik van alkohol in openbare gebiede soos parke of strande is verbode.

6. Byeenkomste moet nou kleiner wees

Byeenkomste van mense sal voortaan beperk word tot slegs 50 mense binnenshuis en 100 mense in die buitelug. Ondernemings soos restaurante wat nie só ’n getal mense kan hanteer sonder die vereiste sosiale afstand van mekaar nie, mag net tot 50% kapasiteit vol gemaak word.

7. Begrafnisse ook beperk

Begrafnisse mag nou net ’n maksimum van 50 mense toelaat. Daar mag steeds nie nagwake voor begrafnisse of sosiale byeenkomste ná begrafnisse gehou word nie.

8. Dra jou masker of gaan tronk toe

Dit bly ’n strafregtelike oortreding om nie ’n masker in die publiek te dra nie. Ramaphosa het herbevestig dat strenger toepassing van dié reëls nou sal volg en dat oortreders vervolg sal word.

9. Gauteng se 3de vlaag erger as voriges

Die derde vlaag van Covid-19-infeksies in Gauteng is nou amptelik erger as die eerste en tweede vlae. Hospitale in dié provinsie is naby aan volle kapasiteit met ’n oorvloed pasiënte wat nou instroom.

10. Entstowwe werk

Ramaphosa sê die een stukkie goeie nuus is dat dit duidelik is dat die entstowwe tot Suid-Afrika se beskikking werk. Op ’n vergelykbare punt tydens die tweede vlaag in Desember het 640 gesondheidsorgwerkers Covid-19 binne ’n sewedagtydperk opgedoen. Tans het net 64 gesondheidsorgwerkers die afgelope sewe dae die virussiekte opgedoen. Ramaphosa sê dit is danksy die inentingsprogram waarvolgens die oorgrote meerderheid van hierdie werkers suksesvol teen die virus reeds ingeënt is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.