Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tesourie in hoek vas met taks op maatskappye
Suid-Afrikaanse maatskappybelasting is al lank op 28%

Die nasionale tesourie het homself in ’n hoek vasgeverf wat maatskappybelasting betref, meen die ouditgroep Mazars.

Die tesourie het in 2009 laas aan maatskappybelasting gepeuter, maar met die huidige swak ekonomiese groei het die land se maatskappye tans geen aptyt vir verhogings in maatskappybelasting nie, lui ’n besprekingsdokument wat Mazars by ’n paneelbespreking oor die komende mediumtermynbegroting uitgereik het.

Suid-Afrika se maatskappybelastingkoerse is aan die hoë kant as dit vergelyk word met ander lande, en is nie so aantreklik vir beleggers nie, sê Mike Teuchert, nasionale hoof van belastingdienste by Mazars. Suid-Afrikaanse maatskappybelasting is al lank op 28%, maar in Amerika het maatskappybelasting afgekom, en in Brittanje is dit net op 20%.

Maar Teuchert twyfel of die regering dit kan waag om maatskappybelasting te verlaag met die hoop dat dit die ekonomie genoegsaam sal stimuleer om wel belastinginvordering later te verhoog.

Die vrees is dat die korttermyn-verlies aan belastinginkomste selfs meer skade kan aanrig voordat die korporatiewe sektor die geleentheid gekry het om te groei.

Maar sy kollega Bernard Sacks, belastingvennoot by Mazars, meen innoverende metodes is nodig om groei in die ekonomie aan te dryf. “As die minister oorweeg om maatskappybelasting te verlaag, sal jy meer regstreekse buitelandse investering lok. Met meer maatskappye betrokke, kan die hoeveelheid inkomste wat die staat uiteindelik insamel meer wees. Daarby kom die voordeel van meer mense wat in diens geneem sal kan word.”

G’n skuiwe in mediumtermynbegroting:

Sacks verwag nie enige skielike veranderings aan die mediumtermynbegrotingsraamwerk met die aanstelling van Tito Mboweni as minister van finansies nie.

Twee weke voor die aankondiging van die begrotingsraamwerk is alles reeds feitlik afgehandel.

Mazars verwag wel veranderinge aan bestedingsprioriteite wat aangekondig kan word. Sowat die helfte van die R50 miljard wat nodig is vir pres. Cyril Ramaphosa se stimuluspakket vir die ekonomie sal moet kom van geld wat weggeneem word van swakpresterende staatsprogramme.

Daar is ook druk op staatsondernemings om te herstruktureer sodat hulle minder van staatswaarborge afhanklik is.

Impak van swak groei:

Teuchert verduidelik swak groei het ’n groot impak op die staat se belastinginvordering. Maatskappye kan nie hul personeel dieselfde salarisverhogings gee nie, wat beteken besteding word geknou en sowel persoonlike inkomstebelasting en BTW sal dus minder as verwag inbring.

Van die Reserwebank tot Fitch en Moody’s het al sedert Februarie hul groeiverwagtinge afgeskaal. Die Internasionale Monetêre Fonds het in Februarie nog groei van 1,5% vir vanjaar vir Suid-Afrika voorspel, maar dis nou af tot 0,8%. Moody’s Investor Services en Fitch Solutions Macro Research is die negatiefste en hul groeiverwagting is tot 0,7% afgeskaal.

Stimuluspakket:

Teuchert verwag nie Ramaphosa se stimuluspakket sal so gou vrugte afwerp nie. Dit sal meer van ’n mediumtermyn-impak hê en hy verwag nie wesenlike verbetering in die huidige boekjaar nie. “Miskien aan die einde van volgende jaar.

“Wat belangrik is, is dat ons politici begin dink aan die ekonomie en die belangrikheid van beleggersvertroue.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.