Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tesourie moet greep op beursie verslap - Cosatu

Cosatu wil hê die nasionale tesourie moet sy greep op die land se beursie verslap om sakelui en gemeenskappe te help wat onder die afgelope week se plundertogte deurgeloop het, maar nie almal dink dis realisties nie.

Duisende mense staan Vrydag tou by die Windermere-winkelsentrum in Durban om kos te probeer koop. Foto: Deon Raath

Cosatu het op ’n vergadering van die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) gesê ’n ramphulpfonds moet dringend gestig word om die ekonomiese nagevolge van die oproer, plundertogte en sabotasie in KwaZulu-Natal en Gauteng te verlig.

Honderde ondernemings – groot en klein – is geplunder, vernietig en selfs afgebrand.

“Ons het te kampe met ’n nasionale ramp en dit moet met groot dringendheid hanteer word,” het Cosatu gesê.

Volgens die vakverbond moet die ramphulpfonds veral verligting help bring aan sakeondernemings in informele nedersettings en maatskaplike toelae moet meer algemeen beskikbaar gestel word. Die regering het nou geen ander keuse nie as om sy beleid van besparing om die begrotingstekort en skuldlas te verlig, te laat vaar ten gunste van ’n uitgebreide fiskale beleid.

Volgens Cosatu het die begrotings­besnoeiings van die afgelope tyd Suid-Afrika in die huidige krisis gedompel.

“Die konvensionele neoliberale benadering wat die regering volg, het daartoe gelei dat ons die ergste werkloosheidskoers ter wêreld het,” sê Cosatu.

Die vakverbond stel ook die volgende voor:

  • Kospakkies vir gemeenskappe wat geraak is deur die plundering;
  • Die herinstelling van die R350-toelae wat vroeër in die Covid-19-inperking aan werklose mense uitbetaal is;
  • Verligting vir versekeraars en die staatsversekeraar Sasria;
  • Die hervatting van die Ters-voordele vir werkers van Gauteng en KwaZulu-Natal wat salarisse in hierdie tyd verbeur;
  • Dat werkers toegelaat moet word om geld uit hul pensioenfondse te onttrek; en
  • Dat geld vir pres. Cyril Ramaphosa se presidensiële indiensnemingsplan verdriedubbel word – van R11 miljoen tot R33 miljoen.

Volgens Sizwe Pamla van Cosatu het Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, op die Nedlac-vergadering positief op die voorstelle gereageer, maar geen besluite is geneem nie.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, sê dit sal geregverdig wees vir die tesourie om skiet te gee aan die staatsbeursie en danksy ’n handelsoorskot en beter as verwagte belastinginkomste wat met die goeie vertoning van kommoditeite verband hou, is daar geld beskikbaar.

Gebreekte glas en ’n skoen lê op die vloer van ’n geplunderde winkel in Empangeni. Foto: Deon Raath

Dít sou volgens hom egter net ’n oorbruggingsmaatreël wees en kan nie die maatskaplike probleme op langer termyn oplos nie. Dáárvoor is hervormings nodig wat groei en werkskepping meebring.

Intellidex het sy groeiverwagtinge vir vanjaar met 0,7% afgebring tot 3,1%.

Die sakegroepering Business for South Africa (Busa) het op ’n mediakonferensie gesê hy is “in beginsel” ten gunste van ’n ramphulpfonds, maar die “modaliteit” moet nog uitgestryk word.

“Busa meen hulpbronne moet onmiddellik beskikbaar gestel word en ’n ramphulpfonds is dalk die aangewese manier om dit te doen,” het Martin Kingston, visepresident, gesê.

Wat ekonome sê

Ekonome meen egter dit sal onverstandig wees as die nasionale tesourie afsien van sy fiskale dissipline en meer geld in die begroting beskikbaar stel.

“ ’n Mens kan verstaan daar is belangegroepe wat vir ekstra geld vra, maar dis nie realisties om te verwag die tesourie sal dit doen nie. Dit gaan ons ekonomie meer skade berokken,” het Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual, aan Rapport gesê.

Om nou ekstra geld te bestee ná alles wat die tesourie gedoen het om ’n goeie begroting op te stel en die begrotingstekort onder beheer te bring . . . Ek dink nie die tesourie sal sommer toegee aan sulke eise nie.
Johann Els van Old Mutual

“Om nou ekstra geld te bestee ná alles wat die tesourie gedoen het om ’n goeie begroting op te stel en die begrotingstekort onder beheer te bring . . . Ek dink nie die tesourie sal sommer toegee aan sulke eise nie.”

Herman van Papendorp, ekonoom by Momentum Wealth, meen ’n soort “hulppakket” van die tesourie sal eerder gefinansier word uit geld wat hertoegewys word. “Dit sal nie ’n breë pakket wees wat die uitgawerekening sal laat styg nie.”

Hy sê dit is duidelik dat die tesourie eerder fiskale dissipline sal wil handhaaf as om ruimskoots geld beskikbaar te stel.

Johan Gouws, hoof van adviesdienste by Sasfin Wealth, sê dis nie ’n oplossing vir die land om alle verantwoordelike besluite oorboord te gooi en net te begin geld uitgee nie. “Daar ís ook nie werklik geld nie.”

Ekonome meen die ekonomie sal betreklik vinnig kop optel ná die afgelope week se gebeure. “Daar gaan baie voorraad wees wat weer vervaardig moet word wat die ekonomie ’n hupstoot sal gee,” aldus Gouws.

Els meen ook soos wat voorraad aangevul word en infrastruktuur herbou word, sal daar nuwe ekonomiese aktiwiteit wees.

As die voorraadkettings eers weer herstel is, sal daar opgehoopte vraag wees na goedere, wat ’n positiewe effek sal hê.
Herman van Papendorp

“As die voorraadkettings eers weer herstel is, sal daar opgehoopte vraag wees na goedere, wat ’n positiewe effek sal hê,” sê Van Papendorp.

Die krisis van die afgelope week sal ook nie ’n wesenlike invloed op ekonomiese groei vir die jaar hê nie, sê die ekonome. “ ’n Mens moet versigtig wees om te wil sê ‘die hele land gaan in vlamme op en nou gaan die BBP sink’,” sê Van Papendorp. Groeiverwagtinge is wel kleiner, maar met desimale punte eerder as persentasiepunte.

Die gebeure sal graderingsagentskappe ook nie sommer noop om Suid-Afrika dieper in rommelstatus in af te gradeer nie. In November verlede jaar het Moody’s en Fitch Suid-Afrika verder afgegradeer weens sy hoë skuldvlakke en groeiende begrotingstekort.

Moody’s en Fitch het hul vooruitskattings vir groei stabiel gehou, hoewel hulle waarsku daar is risiko’s as die geweld en plundery voortduur,” sê Els. Hy glo die mediumtermyn-groeivooruitsigte vir Suid-Afrika is steeds positief. “Old Mutual pas sy verwagtinge afwaarts aan van 5,5%-groei na 5%.”

Gouws wys ook daarop dat die rand relatief “goed afgekom” het van die krisis. Die geldeenheid het vroeër die week met meer as 1% teruggesak teenoor die dollar nadat daar in Junie nog hoop was dat die rand sou versterk tot onder R13 per dollar.

Teen Vrydagmiddag het dit teen R14,44 teenoor die dollar verhandel.

“Die feit dat die rand relatief goed gehou het, kan toegeskryf word aan die dollar wat die afgelope week onder druk gekom het, maar dalk het die mark vroeër reeds die moontlikheid van maatskaplike onrus ingeprys,” sê Gouws.

Van Papendorp sê alhoewel die geweld en plundery ’n kortstondige uitwerking op inflasie en groei sal hê, is hy angstiger oor die verlangsaming wat kan intree wanneer die Covid-19-infeksiekoers na alle waarskynlikheid oor twee weke sal styg.

“Hierdie betogings was almal superverspreider-geleenthede. Waar daar vroeër ’n perk van 50 mense per byeenkoms was, was daar in sekere gevalle tot duisende mense bymekaar wat fisieke afstand heeltemal geminag het en nie eens maskers gedra het nie.

“Daardie duisende mense sou weer die virus aan ander oorgedra het. Die ekonomie sal dus stadiger oopmaak as wat ons aanvanklik gehoop het.”

Meer oor:  Plundery En Geweld  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Kospakkies  |  Hulppakket  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.