Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tito en beleid: Wat gaan nou gebeur?
Tito Mboweni

Pres. Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners en die res van die wêreld Dinsdagmiddag aangenaam verras toe hy Tito Mboweni as die nuwe minister van finansies aangestel het.

Ekonome en politici het die aanstelling verwelkom en sê die voormalige president van die Reserwebank is waarskynlik een van dié beste keuses wat Ramaphosa kon maak.

’n Dag nadat hy in dié pos ingehuldig is en gelukwense klaar uitgedeel is, word al meer vrae gevra oor presies wat Mboweni se invloed op beleid kan wees.

“Mboweni gaan ’n fassinerende minister van finansies wees,” sê Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex.

“ ’n Sterk persoonlikheid sal help om die tesourie se plek in die skep van makro-ekonomiese beleid in ere te herstel en om toesig te hou oor staatsuitgawes. Daar is egter die risiko dat dit politieke komplikasies en ontwrigting kan veroorsaak,” sê hy.

Montalto waarsku dat Mboweni uitgesproke en té onafhanklik en impulsief kan wees.

“Hy het in die verlede daaroor in die moeilikheid beland,” sê Montalto met verwysing na toe Mboweni in sy ampstermyn as president van die Reserwebank inligting aan joernaliste gegee het, wat hy nie veronderstel was om te doen nie.

“Hy het ook reeds die afgelope paar jaar tydens interaksie met beleggers en sy aktiewe gebruik van Twitter gewys sy sienings is baie meer links wat betref kwessies soos eienaarskap van myne, die skep van ’n soewereine welvaartfonds, ’n staatsbank en radikale ekonomiese transformasie.”

Mboweni het getwiet die staat behoort ’n 40%-belang in alle myne te hê.

“Ons is dus versigtig oor presies watter rol hy gaan speel wanneer dit by die skep van beleid kom. Wat dit ook al is, dit gaan kragtig en in die openbaar wees, maar die personeel by die tesourie mag dalk hom oortuig om ’n meer ortodokse benadering te volg,” sê hy.

Montalto sê wat hom opgewonde maak is dat Mboweni iemand is wat Suid-Afrika se plek in die wêreldekonomie, markte en makro- finansiële stelsel verstaan.

“Ons gee hom dus die voordeel van die twyfel.”

Beleid

Die organisasie Sakeliga sê reguit hy neem met kommer kennis van Ramaphosa se besluit om Nhlanhla Nene se bedanking te aanvaar en hom met Mboweni te vervang.

“Ramaphosa het aangevoer dat die aanvaarding van Nene se bedanking die regte ding was om te doen ter wille van die herstel van vertroue in die regering.

“Sakeliga beklemtoon dat verskeie beleidsverwante uitsprake van Mboweni in die verlede nie sakevertroue sal inboesem nie.”

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, sê Mboweni sal aan sy vermoë om staatsbesteding en -skuld onder beheer te bring, gemeet word. Verder sal hy ’n beduidende invloed op belangrike regeringsbeleid uitoefen.

“Mboweni het onlangs skadelike beleide ondersteun, soos volle staatsbeheer van grond deur middel van grondonteiening en -herverdeling, asook dat die staat ’n 40%-belang in myne behoort te bekom. Hierdie standpunte druis in teen markvryheid en sal nie beleidsekerheid verbeter nie,” sê Van Onselen.

Hier is nóg van Mboweni se twiets oor beleid:

Mboweni se eie kommentaar oor sy twiets:

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.