Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tito gaan R6 mjd. uit begroting krap vir toelae

Die spesiale Covid-19-toelae van R350 per maand wat moet keer dat armes van die honger omkom, gaan die land R6 miljard kos in die komende drie maande.

Tito Mboweni, minister van finansies, glo die R6?miljard wat nodig is om die spesiale Covid-19-toelae te verleng gaan uit die bestaande begroting gekry kan word.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag met die bekendstelling van die regering se ekonomiese herstelplan gesê die betaling van die verligtingstoelae sal met drie maande verleng word. Hy het gesê meer as ses miljoen werklose mense is met dié toelae bereik sedert dit aangekondig is.

Tito Mboweni, minister van finansies, het aan Bloomberg gesê dit gaan R6 miljard kos.

Volgens Mboweni gaan dié geld gekry word uit die begrotings van ander regeringsprogramme deur besteding te herprioritiseer en nie deur die staat se algehele besteding te verhoog nie.

Hy het voorheen gesê die land kan dit nie bekostig om permanent die spesiale toelae te gee wat in April aangekondig is nie. Dit was deel van die R500 miljard-noodpakket wat die staat toe aangekondig het om die ekonomiese probleme wat deur die pandemie meegebring is te verlig.

“Die president het besluit om die toelae vir drie maande te verleng en dit is die nasionale tesourie se werk om die begroting aan te pas en seker te maak dat die besluit van die regering bereik kan word.”

Volgens hom word die presiese detail nog gefinaliseer.

Hy het egter gesê hy bly by die belofte om die fiskale raamwerk te behou.

Die begrotingsbeleidstelling vir mediumtermyn wat aandui hoe die staat se begroting vir die komende drie jaar lyk, word op 28 Oktober uitgereik nadat Mboweni die parlement vir uitstel gevra het om die implikasie van die president se herstelplan op besteding te verwerk.

Die bedrag van R6 miljard is meer as wat sekere ekonome verwag het.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, het in sy ontleding oor die herstelplan gesê die verlening van die spesiale toelae vir drie maande gaan omtrent R4 miljard kos.

“Dit is waarskynlik nie lank genoeg nie. Ons glo in Februarie met die nasionale begroting en met die staatsrede gaan verdere verlenings bespreek word.”

Die aanvullende begroting wat in Junie uitgereik is wat reeds verstellings aan die mediumtermynbegroting vervat het, het getoon die fiskale tekort (wanneer meer bestee word as wat met belasting en ander inkomste verkry word, uitgesluit skuld) gaan vanjaar gelykstaande wees aan meer as 15% van die bruto binnelandse produk (BBP).

Die fiskale tekort word aangevul deur die geld wat die staat leen.

Die Junie-begroting het getoon staatskuld gaan oor vier jaar ’n hoogtepunt bereik van 87% vergeleke met die BBP indien die regering stappe doen om sy finansies te bestuur.

Sedert Junie het die syfers wat uitgereik is oor belasting wat ingevorder is, getoon dis minder as wat begroot is.

Die arbeidsektor en burgerlike groepe het gevra die spesiale toelae moet verleng word nadat statistieke getoon het die land het 2,2 miljoen werksgeleenthede in die tweede kwartaal tydens die nasionale inperking verloor. – Bloomberg en bygewerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.