Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tito ‘kry sy sin’, tree uit as minister van finansies

Tito Mboweni kan nou permanent gaan boer op sy geliefde plaas in Magoebaskloof naby Tzaneen in Limpopo.

Tito Mboweni tydens sy begrotingsrede in die parlement. Foto: GCIS

Mboweni het uiteindelik sy sin gekry om uit die kabinet te bedank nadat pres. Cyril Ramaphosa laataand Donderdag kabinetskuiwe gemaak het.

Volgens Ramaphosa het Mboweni hom al herhaaldelik gevra om hom toe te laat om sy pos te ontruim.

Mboweni was van die begin af omstrede nadat hy in 2018 as minister van finansies aangestel is.

Ná ’n paar jaar in die private sektor nadat hy ’n dekade (van 1999 tot 2009) as president van die Reserwebank gedien het, het Mboweni teruggekom met idees waarvoor die ANC-regering en sy vennote in vakbonde en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty nie gereed was nie.

Mboweni het byvoorbeeld glad nie sin gehad in die miljarde rande wat jaarliks in die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens gepomp is nie, en het telkens by die mediakonferensies tydens die jaarlikse begroting gesê dis nie die staat se rol om ’n lugdiens te probeer bedryf nie.

Hy was as oudhoof van die Reserwebank bankvas agter Lesetja Kganyago, huidige president van die Reserwebank, se standpunt dat die bank nie genasionaliseer moet word, soos wat die ANC se beleid besluit het, nie.

Mboweni het ook koppe gestamp met staatsdiensvakbonde wat jaarliks op loonverhogings van ver meer as inflasie aangedring het, terwyl hy eerder streng kostebesnoeiing wou toepas te midde van ’n skuldstrik wat net erger geword het.

Op Twitter kon Mboweni ook nie sy mond hou nie, met talle kere waarin hy skerp kritiek op byvoorbeeld die ANC se ekonomiese beleidsdenke gelewer het of regstreeks verskil het van sy kabinetskollegas oor sommige kwessies.

Mboweni word vervang deur Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se nasionale uitvoerende komitee se subkomitee oor ekonomiese transformasie. 

Lees ook: Godongwana het geraamtes oor pensioene

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.