Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tito maan oor skuldstrik

As daar nie nou dringend opgetree word nie, kan Suid-Afrika in ’n skuldstrik beland, met stygende rentebetalings op skuld, hoër rentekoerse en nóg hoër werkloosheid.

Tito Mboweni, minister van finansies, het dié kille waarskuwing Woensdag in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gerig. Dié vermaning kom te midde van ’n skerp laer aanpassing in die verwagte ekonomiese groei vir vanjaar – van 1,5% in Februarie se begroting tot net 0,5%.

Tito Mboweni het gister gewaarsku dat die aalwynplantjie wat hy in Februarie se begroting uitgedeel het, aan die kwyn is.Foto: jaco marais

Boonop kan staatskuld teen 2023 meer as 70% van die bruto binnelandse produk (BBP) beloop, teenoor die minder as 60% wat nog in Februarie verwag is.

Die staat se salarisrekening sal stadiger móét groei en hoër belastings is nodig, al is daar nie meer veel ruimte daarvoor nie, waarsku Mboweni.

Ministers en provinsiale LUR’e sal voortaan op binnelandse vlugte net in die ekonomiese klas moet vlieg.

Dit is van die drastiese stappe wat Mboweni aangekondig het nadat die program vir vroeë aftrede van staatsamptenare, laer prestasiebonusse en die bevriesing van salarisse vir topbestuurders en parlementslede wat in Februarie se begroting aangekondig is, nog nie die besparings gerealiseer het waarop gehoop is nie.

Die begrotingstekort vir vanjaar word nou op 5,9% van die BBP geraam, teenoor die 4,7% waarop nog in Februarie gehoop is.

Dit is grootliks Eskom se skuld, wat met sy ekstra reddingsboei van R26 miljard vir vanjaar die grootste bydraer is tot die feit dat die nierentebesteding van die staat vanjaar met R23 miljard oorskry word.

Om daarvoor te help vergoed, is die hele gebeurlikheidsreserwe van R13 miljard vir die lopende boekjaar ingesluk.

Mboweni het gister die winter as tema gebruik om sy toespraak in te kleur en waarsku dat die aalwynplantjie wat hy in Februarie se begroting uitgedeel het, aan die kwyn is. Ongewone en dringende optrede is nou nodig, waarsku hy.

Rente op skuld is teen 13,7% steeds die bestedingsitem wat tot 2023 die vinnigste groei en dit is teen R796 miljard oor dié tydperk meer as wat die staat aan gesondheid, ekonomiese ontwikkeling, veiligheid en gemeenskapsontwikkeling of algemene openbare dienste bestee. Net aan onderwys en welsyn word meer bestee as aan rente op skuld.

Van die ander nuwe besuinigingsmaatreëls wat Mboweni aangekondig het, sluit in:

  • Die bevriesing van die salaris van kabinetslede, premiers en provinsiale LUR’e op huidige vlakke onderhewig aan verdere onderhandeling;
  • Ampsmotors mag nie meer as R800 000 kos nie; en
  • ’n Perk op selfooneise.

Soos kenners verwag het, word die teiken vir belastinginkomste ver gemis en gaan vanjaar net R1 370 miljard se inkomste ingevorder word, wat 4% of R53 miljard minder is as verwag.

Mboweni het gewys op die “staatsdiens-miljoenêrs” – die 29 000 staatsamptenare wat die afgelope jaar gemiddeld elk meer as R1 miljoen se vergoeding ontvang het. Dit is meer as dubbel die getal amptenare wat in 2007 soveel verdien het. Boonop was die gemiddelde salarisverhoging in die staat in die vorige boekjaar 6,8%, wat 2,2 persentasiepunte meer as inflasie is.

  • Die afgelope dekade het staatsamptenare se salaris met 66% geklim, aangepas vir inflasie. Oor Eskom sê Mboweni enige nuwe­ reddingsboeie sal in die vorm van lenings wees. Hy het die idee van Eskom om deel van sy skuld oor te neem in die kiem gesmoor. Eskom sal eers self sy doeltreffendheid moet verbeter.
  • Oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sê Mboweni dit is onwaarskynlik dat dié lugdiens ooit genoeg kontant sal kan genereer om in sy huidige vorm sy bedrywighede vol te hou. “Hoe lank gaan ons op hierdie vlugplan wees? Vir altyd? Ek dink nie so nie.”
  • Hy het weer gemaan dat die regering in effek die middelklas en rykes subsidieer om die land vol te vlieg, maar gewone werkers moet daagliks in ou vervalle treine uit die townships werk toe ry terwyl hulle dikwels vertraag word en laat kom vir werk. Oor die Gautengse e-tolstelsel het Mboweni ook vasgeskop en gemaan dat die regering by die gebruiker-betaal-beginsel gaan hou. ) Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kry ’n ekstra R1 miljard oor die volgende drie jaar om belastinginvordering te verbeter en die nasionale vervolgingsgesag kry R1,3 miljard ekstra om korrupsie te beveg. ’n Wetsontwerp om korporatiewe bestuur by die SAID te verbeter gaan vroeg in 2020 ingedien word.
Meer oor:  Eskom  |  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Skuldstrik  |  Mtbr2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.