Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tito: Tyd vir ‘ja en amen’ oor beleid is verby

Daar is nie die ruimte in Suid-Afrika om vrymoedig vrae oor beleid te vra en dit te bespreek nie.

Tito MboweniFoto: Adrian de Kock

Dit is die mening van Tito Mboweni, minister van finansies.

Hy sê die gebrek aan gesprek en vrae oor beleid is een van die groot redes hoekom ekonomiese groei nie op dreef kom nie.

“As jy durf die vraag vra oor of die vlak van die minimum loon toepaslik is in ’n gemeenskap waar daar sulke hoë vlakke van werkloosheid is, sal jy op die brandstapel verbrand word.

“Niemand gaan met jou saamstem nie.

“As jy eers ’n besluit geneem het, kan jy nie weer ’n vraag daaroor vra nie,” sê Mboweni.

Hy het Donderdag met ’n groep ekonome in die Reserwebank in Pretoria vergader.

Dit is reeds die derde keer sedert Desember wat hy met hulle vergader om hul insette te kry vir nie net die ekonomiese strategie nie, maar ook vir sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wat hy later in Oktober sal lewer.

Die tesourie het voorheen gesê die MTBR sal op 30 Oktober in die parlement voorgelê word.

Mboweni het Donderdag egter gesê dit sal nou waarskynlik op 29 Oktober voorgelê word.

“Die kabinet sal die aankondiging waarskynlik later vandag maak,” het hy oor dié skuif gesê.

Mboweni sê daar is groot verwagting dat hy sy finale ekonomiese strategie saam met die MTBR sal voorlê.

Hy waarsku egter dat ’n ekonomiese strategie iets is wat deurlopend verander.

As daar byvoorbeeld ’n voorstel is dat die tesourie die Reserwebank moet sê om rentekoerse te verlaag, dan gaan ons nie daarna kyk nie. Dit pas nie in by ons beleid nie.
Tito Mboweni

Die strategie is op 28 Augustus bekend gestel.

Mboweni sê die tesourie het kommentaar van 748 individue en instansies daaroor ontvang.

“Dit was goed gewees dat ons soveel kommentaar daarop gekry het,” sê Mboweni.

Hy sê die tesourie het alles deurgegaan en sal alles oorweeg wat in ooreenstemming met beleid is.

“Onthou net, beleid is politiek,” waarsku hy.

“As daar byvoorbeeld ’n voorstel is dat die tesourie die Reserwebank moet sê om rentekoerse te verlaag, dan gaan ons nie daarna kyk nie. Dit pas nie in by ons beleid nie.”

Mboweni sê “omdat ons reeds in beseringstyd is” wat betref die finalisering van die MTBR, gaan hy en die span van die tesourie dié naweek “iewers hoog op ’n berg sit en dit bespreek”.

Hy sê hy hoop om dit op 24 of 25 Oktober aan die kabinet voor te lê.

Die groep ekonome met wie hy ná sy openingsrede agter geslote deure vergader het, sluit agt ekonome in van pres. Cyril Ramaphosa se nuwe presidensiële ekonomiese adviesraad wat op 1 Oktober aangestel is.

LEES OOK: Ramaphosa stel topekonome aan om hom raad te gee

Lede van die adviesraad wat die gesprek bygewoon het, is:

  • Prof. Mzukisi Qobo, verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).
  • Dr. Renosi Mokate, dekaan van Unisa se sakeskool.
  • Dr. Kenneth Creamer, van makro-ekonomie aan Wits.
  • Dr. Grové Steyn, ekonoom van Meridian Economics.
  • Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom verbonde aan die landbousakekamer Agbiz.
  • Dr. Liberty Mncube, verbonde aan Wits.
  • Dr. Thabi Leoka; en
  • Prof. Imraan Valodia, dekaan van die handelsfakulteit van Wits.

Prof. Jannie Rossouw en Lumkile Mondi van Wits was van die ander deelnemers aan die gesprek.

Meer oor:  Tesourie  |  Reserwebank  |  Mtbr2019  |  Tito Mboweni  |  Ekonomiese Groei  |  Ekonomiese Beleid  |  Debat  |  Fiskale Beleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.