Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
ANC tik Tito oor vingers oor Reserwebank-twiets

Tito Mboweni, minister van finansies, het hom weer eens tot sosiale media gewend om die onafhanklikheid van die Reserwebank te verdedig, maar in die proses die politieke party waaraan hy behoort, die ANC, woedend gemaak.

Tito Mboweni, minister van finansies, kap na ander ANC-lede met sy kritiek op die besluit om die Reserwebank te nasionaliseer. Foto: Getty Images

Mboweni is oortuig dat die ANC ’n verkeerde resolusie goedgekeur het toe daar besluit is dat die Reserwebank genasionaliseer moet word, het hy Dinsdagaand op Twitter gesê.

In ’n warm debat op Twitter vra Mboweni die fundamentele vraag wat beantwoord moet word is wat bereik gaan word deur die Reserwebank te nasionaliseer. Volgens hom gaan 90% van die bank se wins na die staatskas. Hy meen die onafhanklikheid van die Reserwebank is ’n fundamentele nasionale debat en moenie weggesteek word in kwansuis “interne debatte” binne die ANC nie.

Hy meen die ANC en die regering se strategiese fokus behoort strukturele ekonomiese hervormings te wees.

Die ANC het egter Woensdagmiddag sterk uitgevaar teen Mboweni se uitsprake, en meen sulke openbare debatte dra by tot die "narratief van 'n gebrek aan beleidsekerheid". Volgens die ANC moet senior ANC-leiers soos Mboweni hul te alle tye hou by die besluite wat die ANC op openbare platforms geneem het. Die ANC meen alle ANC-leiers wat in die openbaar die wysheid van die besluite van 'n nasionale konferensie bevraagteken, skep verwarring binne en buite die organisasie. 

Die ANC het die naweek op sy verjaardagvieringe in Kimberley bevestig dat die Reserwebank onafhanklik sal bly in sy rol en mandaat, maar dat die bank kragtens eienaarskap wel stelselmatig genasionaliseer sal word ingevolge die besluit wat die ANC al in 2017 op sy beleidskonferensie geneem het.

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, het intussen Cope se steun aan Mboweni se standpunt oor die Reserwebank toegesê en hom aangemoedig om voort te gaan om beginselvas op te tree eerder as om net in partypolitieke belang op te tree. Volgens Bloem sal die nasionalisering van die Reserwebank selfvernietigend vir die land wees. “Die mense wat die bank wil nasionaliseer wil dit plunder soos wat hulle met die meeste staatsdepartemente en staatsondernemings gedoen het.”Bloem het in ’n stemboodskap gesê die land het meer leiers soos Mboweni nodig wat in die beste belang van Suid-Afrika optree eerder as net in partypolitieke belang. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.