Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tito ‘sal nie bes gee oor staatslone’

Die nasionale tesourie sal nie ’n duim toegee en sy bestedingsplafon oorskry deur staatsdienssalarisse te verhoog nie, het Tito Mboweni, minister van finansies, Donderdag gesê.

Tito Mboweni Foto: Sarel van der Walt

Hy het gepraat op ’n konferensie wat die JSE gereël het. Die media is nie toegelaat nie, maar iemand wat die geleentheid bygewoon het, het aan die nuusdiens Bloomberg vertel wat Mboweni daar gesê het.

Mboweni het hom verlede jaar die woede van staatsdiensvakbonde op die hals gehaal toe hy nie wou instem tot ’n verhoging in salarisse vir 1,3 miljoen staatsamptenare waaroor in 2018 ooreengekom is nie.

Met die begroting in Februarie het hy boonop aangekondig die salarisse van staatsamptenare sal vir drie jaar onveranderd moet bly as deel van planne om staatsbesteding te besnoei, die begrotingstekort te verminder en staatskuld te stabiliseer.

Die vakbonde eis salarisverhogings van inflasie plus vier persentasiepunte. Dit sou neerkom op 7,3% gegewe verlede jaar se gemiddelde inflasiekoers van 3,3%.

Van die staatsdiensvakbonde dreig met ’n staking.

Mboweni het op die JSE-konferensie ook gesê hy is nie ten gunste van ’n basiese inkomstetoelaag nie en sal eerder aansporings vir werkskepping verkies, het die persoon gesê wat die konferensie bygewoon het.

Net 15 miljoen van Suid-Afrika se potensiële arbeidsmag van 39,5 miljoen mense het in die eerste kwartaal vanjaar werk gehad.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het in Mei gesê ’n voorstel oor ’n basiese inkomstetoelaag sal vanjaar aan die kabinet voorgelê word, het News24 berig.

Net 15 miljoen van Suid-Afrika se potensiële arbeidsmag van 39,5 miljoen mense het in die eerste kwartaal vanjaar werk gehad.

Mashudu Masutha-Rammutle, woordvoerder vir Mboweni, wou nie kommentaar lewer op sy opmerkings nie, maar het gesê ’n opname van sy toespraak sal later aan die media voorsien word. Volgens haar was dit die JSE wat besluit het om die media op die konferensie te verbied.

Die JSE het op sy beurt gesê hy wou hê beleggers moes openhartige gesprekke met die minister kon voer, en daarom is besluit om nie die media te nooi nie.

Mboweni het verlede jaar die oë laat rek toe hy en senior tesourie-amptenare ’n private telekonferensie met kliënte van die Amerikaanse bankgroep Goldman Sachs gehou het. Goldman Sachs het wel vyf dae ná die geleentheid ’n opname van die telekonferensie op sy webblad gepubliseer.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Vakbonde  |  Salarisse  |  Jse  |  Media  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.