Die aandeelpryse van talle maatskappye wat van die welstand van die verbruiker afhanklik is, het Woensdagmiddag sterk geklim ná die belastingverligting wat Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede aangekondig het.
Die rand het ook versterk van sy swakste vlak die oggend namate sy toespraak gevorder het. Die rand het in ’n stadium R15,34 bereik, 13c swakker as die vorige dag se sluitingsprys.
Die geldeenheid het begin versterk tot R15,09 terwyl Mboweni reeds langer as ’n uur aan die woord was.

Die rand het Woensdag versterk van sy swakste vlak die oggend namate Tito Mboweni se toespraak gevorder het. Foto: Getty Images
Dit kom nadat die rand en aandele vroegoggend nog weens vrese oor die verspreiding van die koronavirus wêreldwyd redelik gedaal het.
Shoprite se aandeelprys het van R104,57 die oggend tot R110,57 ná Mboweni se toespraak omgekeer. Dit is 6,8% hoër vir die dag.
Bidvest het van R183 tot R192,87 versterk – 6% hoër as sy sluitingsprys die vorige dag.
Discovery het tot R105,50 gestyg van R97 af voor die begroting. Ook sy aandeelprys is 6% hoër as die vorige dag. Standard Bank en Absa is 5% hoër. RMB Beherend, Nedbank, Mr Price en The Foschini Group is almal meer as 4% hoër. Dit was nadat 50 maatskappye, waaronder Shoprite, Discovery, Old Mutual, Sanlam, Standard Bank, Nedbank, Woolworths, Tiger Brands, Adcock, Spar en Absa, Dinsdag op die JSE op hernude jaarlaagtepunte gesluit het.
Spar, Clicks en Redefine Properties was Woensdagmiddag meer as 3% op, terwyl Old Mutual, Woolworths, Sanlam, Aspen, Vodacom en Growthpoint met 2% gestyg het.
Die indeks van alle aandele was teen 16:00 steeds laer vir die dag, maar baie minder as vroegoggend toe dit nog sterk gedaal het. Die indeks was teen die middag 0,1% of 62 punte laer op 54 747.
Die top-40-indeks was 0,1% of 95 punte laer op 49 211.