Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tito se skuldplan net ’n lugkasteel

Die plan van Tito Mboweni, minister van finansies, om die staatskuld teen 2023 te stabiliseer, lyk hoe al meer na ’n lugkasteel.

Staatskuld is een van die faktore wat kredietgradeerders fyn dophou.

Moody’s Investors Service sê die skerp daling in die regering se inkomste – skerper selfs as die daling in die bruto binnelandse produk wat die afgelope week afgekondig is – maak dit baie ingewikkeld om staatskuld te stabiliseer soos in die aanvullende begroting van Junie voorsien is.

Die kredietgradeerder hou dus asem op vir die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober, wanneer Mboweni opnuut sal moet kyk hoe die staatskuld weens die Covid-19-krisis gaan styg.

Lucie Villa, visepresident van Moody’s en hoofontleder oor Suid-Afrika, sê die skerp inkrimping in die ekonomie in die tweede kwartaal gaan die regering se fiskale ellende vererger, veral sy vermoë om inkomste te skep.

Moody’s het gereageer op die bruto binnelandse produk (BBP) wat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag uitgereik het. Daarvolgens was die kwartaalgroei in die BBP -16,4% op ’n ongeannualiseerde grondslag en -51% geannualiseerd.

Villa verwag dat die geleidelike opheffing van inperkings vir die Covid-19-pandemie in die tweede helfte van 2020 ekonomiese herstel sal ondersteun.

“Swak verbruikers- en beleggersvertroue tesame, met hernude beurtkrag deur Eskom, sal steeds tot ’n inkrimping van 4,2% in die tweede helfte van die jaar lei.”

Vir die voljaar handhaaf Moody’s sy siening dat die ekonomie met 6,5% gaan inkrimp, ’n betreklik optimistiese siening vergeleke met die -7,3% van die Reserwebank en die konsensusverwagting van -8,39% van ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem.

Soos talle ander ontleders waarsku Villa dat dit jare gaan duur voordat die ekonomie tot die vlakke voor die Covid-19-krisis terugkeer.

Die tesourie het in Junie in sy aanvullende begroting gesê hy verwag dat sy inkomste vir die boekjaar tot einde Maart 2021 tot net 22,6% van de BBP gaan daal, teenoor 26,2% in 2019.

“Die verlies aan inkomste gaan baie erger as die daling in ekonomiese bedrywighede wees,” sê Villa. “Die kleiner belastingbasis wat uit die inperkingsmaatreëls voortspruit, werkverliese en laer vertroue gaan vir die meeste van die inkomstetekort verantwoordelik wees.”

Sy sê die belastingverligting wat die regering as deel van sy hulppakket aangekondig het, speel nie ’n groot rol in die daling van inkomste nie. Die meeste hiervan is bloot uitstel op belasting wat betaalbaar sal bly.

Suid-Afrika se swak inkomste is nou al geruime tyd ’n belangrike “kredituitdaging”.

Terselfdertyd slaag die regering weens “die teenkanting van invloedryke rolspelers soos vakbonde” nie daarin om sy besteding in dieselfde mate te besnoei nie.

Banke onder druk Suid-Afrika se banksektor was nog altyd een van die ligpunte vir kredietgradeerders. Nou is Moody’s bekommerd oor ’n styging in swak skuld, hoër voorsiening daarvoor en laer kapitaalbuffers, wat heeljaar lank druk op banke se wins gaan plaas.

“Anders as die regering, het banke die krisis egter vanuit ’n sterk posisie binnegegaan. Likiditeitsbuffers bly sterk. Die meeste het ook daarop gefokus om hul uitgawes te beperk, hul digitale transformasie te versnel en hul balansstate te beskerm.”

Meer oor:  Moody's  |  Kredietgradering  |  Bbp  |  Begroting  |  Aanvullende Begroting  |  Inperking  |  Bbp2002  |  Covid-19  |  Tesourie  |  Mtbr  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Staatskuld  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.