Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tito, skryf groei op jou maag

Ekonomiese groei van 0,9% wat vanjaar vir Suid-Afrika verwag word, is veels te optimisties, sê verskeie ekonome.

finance ,finance minister ,tito mboweni,mid-term b
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Gallo Images

Dié vooruitskatting in Tito Mboweni se begrotingsrede op 26 Februarie lyk vir hulle onwaarskynlik in die lig van die skamele 0,2%-groei vir 2019.

Benewens dié powere groeisyfer wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag bekend gemaak het, wys die syfers ook die bruto binnelandse produk (BBP) het in die vierde kwartaal van 2019 met 1,4% ingekrimp.

Dit was die tweede agtereenvolgende kwartaal van ekonomiese inkrimping, wat beteken die land is in ’n tegniese resessie.

Bianca Botes van Peregrine Treasury Solutions sê die inkrimping is veel erger as wat die mark verwag het en wys hoeveel skade elektrisiteitstekorte die ekonomie berokken.

Fase 6-beurtkrag het Suid-Afrikaners in Desember verlede jaar vir die eerste keer getref.

Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec, sê die droewige syfers is ’n sameloop van wêreld- en plaaslike faktore, soos kragtekorte en beleidsonsekerheid wat sake- en verbruikersvertroue onderdruk.

Nulle waar jy kyk!

Ekonome se groeivooruitskattings vir 2020:

  • Mike Schüssler*, Economists.co.za: -0,3%
  • Emile du Plessis*, Finometrica: -0,1%
  • Abri du Plessis*, Gryphon: 0%
  • Jeff Schultz, BNP Paribas: 0,5%
  • Lara Hodes, Investec: sowat 0,5% 
  • Matlhodi Matsei, FNB: hoogstens 0,6%
  • Jannie Rossouw, Wits: 0,5% 
  • Nedbank se ekonomiese eenheid: 0,5% tot 0,7%
  • Richard Downing*, Econodow: 0,5% 
  • Johan Rossouw*, Vunani: 1% 
  • Dawie Klopper*, PSG Wealth: 1,1%
  • Christo Luüs*, Ecoquant: 1,1%

* Voorspellings deur deelnemers aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd is ge- doen voor die begrotingsrede en voor die BBP-syfers vir 2019 bekend gemaak is.)

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool sê die swak 2019-syfer beteken die vooruitskattings vir vanjaar, 2021 en 2022 sal ook afwaarts aangepas moet word. (Die tesourie verwag tans 1,3% groei in 2021 en 1,6% in 2022.)

Daar word verwag die gemiddelde groeikoers vir die volgende paar jaar sal onder 1% wees – die laagste van al die ekonomieë in Afrika suid van die Sahara oor die volgende drie jaar, sê Parsons.

Die konsensus deur die deelnemers aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd in hul eerste voorspelling van die jaar van die 2020-groeikoers is 0,57%.

Dié voorspellings is gemaak voor die begroting en voor die BBP-syfers Dinsdag bekend gemaak is.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, is ook skepties oor of Suid-Afrika vanjaar 0,9%-groei sal haal.

Die eerste kwartaal van 2020 lyk reeds sleg met voortgesette beurtkrag en ’n aansienlike afname in Chinese ekonomiese bedrywighede weens Covid-19. China is een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote en die feit dat die Chinese aankopebestuurdersindeks op sy laagste vlak sedert 2004 is, dui daarop dat die resessietoestande vir ’n deel van die jaar kan voortduur, waarsku hy.

bbp1904

Dr. Peter Baur van die Universiteit van Johannesburg se kollege vir sakestudies en ekonomie sê die swak groei is veral slegte nuus omdat die bevolking veel vinniger as die ekonomie groei teen sowat 1,4% per jaar. Suid-Afrika word dus al hoe armer.

Hy sê as die ekonomie deur hoër produktiwiteit groei, is dit ’n teenvoeter vir werkloosheid, maar Suid-Afrika het nie die soort groei wat werkskepping bevorder nie.

Lae groei beteken nie genoeg mense word in die arbeidsmark opgeneem nie.

Die 0,2%-groei in 2019 is ook veel laer as voorspellings van groei van 1,7% tot 2,1% wat instansies soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), Wêreldbank, Suid-Afrikaanse Reserwebank en tesourie net 18 maande gelede verwag het. Nou wissel dié einste instansies se voorspellings wat in Januarie vanjaar gepubliseer is van 0,8% tot 1,2%.

Business Day het onlangs berig die groeivoorspellings was die afgelope vyf jaar telkens verkeerd en is telkens afwaarts aangepas.

k

Prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe sê die BBP is nie eksakte syfers nie en word aangepas soos nog syfers en data beskikbaar word en omstandighede verander.

SSA gaan die gewig wat sekere sektore dra om die BBP te bereken ook in September vanjaar hersien. Rossouw sê dit is in ooreenstemming met interna­sionale praktyke om veranderinge in die ekonomie te weerspieël.

Parsons sê die risiko vir laer groei vanjaar kan ook ander vooruitskattings in die begroting slegter laat lyk, soos die skuldverhouding as persentasie van BBP en belastinginkomste.

Moody’s se besluit later vandeesmaand oor Suid-Afrika se skuldgradering sal volgens hom waarskynlik minder op die swak historiese BBP-syfer steun, maar eerder op hul vertroue dat strukturele hervormings binnekort uitgevoer sal word en gou genoeg om die ekonomie op die wenpad te plaas.

  • Lees ook Hanlie Retief se onderhoud met die ekonoom Roelof Botha waar hy sê waarom hy dink Suid-Afrika is nié in ’n resessie nie.
Meer oor:  Tito Mboweni  |  Bbp1904  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld  |  Minister Van Finansies  |  Bbp  |  Resessie  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.