Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tito soek insette oor ‘nuwe’ plan vir groei

Die tesourie takel die strukturele probleme wat die Suid-Afrikaanse ekonomie kniehalter in ’n diepte-ondersoek wat gefokus is op resultate.

Tito Mboweni, minister van finansies, en Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Die dokument is daarop gemik om ’n “ekonomiese strategie” vir Suid-Afrika te stel wat jare van swak groei kan omkeer.

Die temas van die dokument is egter dinge wat Suid-Afrikaners al vantevore gehoor het, breedweg geskoei op die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).

Die tesourie se mikpunt is om die ekonomie oor die volgende dekade met 2,3% per jaar te laat groei, aansienlik méér as wat tans voorspel word, en om miljoen werkgeleenthede te skep.

Die dokument word uitgereik kort voordat Statistieke Suid-Afrika volgende week Dinsdag die bruto binnelandse produk vir die tweede kwartaal van 2019 uitreik. Daar word tans alom verwag dat die land in dié kwartaal gegroei het, wat beteken Suid-Afrika is nie in ’n resessie nie. Sakevertroue bly egter op ’n laagtepunt en werkloosheid is die hoogste nóg.

Tito Mboweni, minister van finansies, doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om insette te lewer op dié dokument, wat op die tesourie se webwerf gepubliseer is. Die dokument is ook hier onder aangeheg.

Strukturele hervorming is nou al lank ’n pleidooi van ekonome, die sakesektor en selfs die Reserwebank.

Die dokument is ’n poging om die breë doelwitte van inklusiewe groei, ekonomiese transformasie en mededingendheid te omskep in spesifieke programme “wat die dalende tendens van Suid-Afrika se groeipotensiaal en mededingendheid kan omkeer”, luidens Mboweni se verklaring.

Dit steun op plaaslike en internasionale navorsing en beklemtoon dat programme meetbare resultate moet oplewer.

Mboweni gee toe dat Suid-Afrika se swak groei grootliks weens selftoegediende wonde is.

“Swak groei oor die afgelope ses jaar is ’n funksie van sowel sikliese as strukturele faktore, hoewel strukturele faktore oorheers het.

“Dit sluit in ’n skerp daling in mededingendheid, wat Suid-Afrika tussen 2007 en 2018 sien tuimel het van 44ste tot 67ste op die (Wêreld- Ekonomiese Forum se) ranglys van wêreldwye mededingendheid.

“ ’n Reeks sikliese, eenmalige skokke – soos politieke ontwrigting, droogte en, mees onlangs, beurtkrag deur Eskom – het die diepte van die verlangsaming verder vererger. Saam het dié dinge daartoe gelei dat die uitwerking van swakker vertroue vererger en verleng is, wat ons laat met ’n ekonomie met werkloosheid van byna 30%.”

Soos die NOP, bevat die dokument besonderhede oor hoe kleinsakeondernemings ondersteun kan word en hoe arbeidsintensiewe sektore soos landbou en dienste voorkeur kan kry. Daar is ook klem op ’n buigsame handelsbeleid en uitvoer.

Soos die NOP, beklemtoon die dokument dat Suid-Afrika dringend ingryping in onderrig nodig het, veral op die vlak van basiese onderrig.

Daar is ook vir die soveelste keer klem op die uitbreiding van toegang tot breëband-internet, iets waarmee die regering al 14 jaar lank sloer, en die verslapping van visumregulasies, wat ook al die afgelope drie jaar bespreek word. Daar was wel onlangs beweging op dié twee gebiede.

Mense kan kommentaar teen 15 September stuur aan rita.coetzee@treasury.gov.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.