Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toelae: Dit help armstes, maar admin pla

Maatskaplike toelae bereik wel die armste van arm Suid-Afrikaners – mense wat dit die nodigste het om letterlik honger af te weer.

64% van die bykomende besteding aan kindersorgtoelae word gegee aan die armste 50% van huishoudings en net 5,6% aan die rykste 20%.

Tim Köhler en prof. Haroon Bhorat, albei van die Universiteit van Kaapstad, sê dit lyk tog asof die verhoging van toelae en die nuwe toelaag wat vir die Covid-19-krisis ingestel is, wel verligting vir armes bring. Köhler en Bhorat se studie is deel van ’n reeks studies deur meer as 30 navorsers aan Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite wat pas bekend gemaak is. Dit staan as die Nids-Cram-navorsing bekend. (Sien kassie hier onder).

Die regering het in April aangekondig maatskaplike toelae word vir ses maande verhoog en ’n nuwe toelaag van R350 per maand word ingestel vir werkloses wat geen ander staatshulp ontvang nie. (Sien ook kassie hier onder.)

Dit raak nagenoeg 18 miljoen bestaande ontvangers van toelae en tot 12 miljoen mense wat vir die nuwe toelaag kwalifiseer.

Teen einde Junie is 3,2 miljoen mense se aansoeke vir die nuwe toelaag goedgekeur en 2,5 miljoen het reeds hul eerste uitbetaling ontvang, volgens die departement van arbeid en indiensneming.

Met hoeveel het toelae gestyg?

Die kindertoelaag, wat voor die inperking R440 per maand was, het in Mei met R300 per ontvanger gestyg (dus per ouer of grootouer wat die toelaag ontvang, nie per kind nie) en van Junie tot Oktober met R500. Vir gesinne waarin daar een minderjarige kind is, sou die toelaag dus tot onderskeidelik R740 en R940 gestyg het.

Alle ander toelae is van Mei tot Oktober R250 per maand meer. Dit beteken die volgende:

  • Ouderdomstoelaag: Styg van R1 860 tot R2 110 vir mense tot 75 jaar oud en van R1 880 tot R2 130 vir mense ouer as 75 jaar.
  • Gestremdheidstoelaag en sorgafhanklikheidstoelaag: Styg van R1 860 tot R2 110.
  • Pleegsorgtoelaag: Styg van R1 040 tot R1 290.

Die navorsers bevind 64% van die bykomende besteding aan kindersorgtoelae word gegee aan die armste 50% van huishoudings en net 5,6% aan die rykste 20%.

Die ouderdomstoelaag is “effens minder pro-arm”, maar nietemin word 50% van die bykomende besteding gegee aan die armste 50% van huishoudings en 13% aan die rykste 20%.

Die navorsers beveel aan dat die kindersorgtoelaag per kind verhoog word, eerder as die huidige per ouer of versorger. Die regering moet dit ook oorweeg om die toelaag vir die res van die jaar, dus tot Desember, te verleng. Tans is Oktober die afsnydatum.

Maar die navorsers kap die Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) vir die “ondoeltreffende en stadige manier” waarop die Covid-19-hulptoelaag van R350 per maand in werking gestel is, “toeskryfbaar aan beperkte administratiewe vermoë of moontlike verwarring oor die korrekte kriteria”.

Hulle sê ook die Werkloosheidsversekeringsfonds, wat sowel algemene werkloosheidsvoordele vir mense wat permanent afgedank is as die tydelike hulpskema bekend as Covid19Ters administreer, moet doeltreffender gemaak word.

Die studie wys die armste 50% van huishoudings het slegs R270 per maand beskikbaar vir elke lid van die huishouding. Dis teenoor R8 367 per persoon in die rykste 10% van huishoudings – meer as 30 keer soveel.

Die bestaansminimum word op R587 per persoon geraam.

Die ontvangs van ’n kindersorgtoelaag verhoog die per capita-inkomste in die 30% armste huishoudings met ’n hele 63%. In die rykste 30% van huishoudings verhoog dié toelaag die per capita-inkomste met minder as 3%.

  

Meer syfers oor toelae

  • Nagenoeg 5,5 miljoen individue wat persoonlik toelae ontvang, woon in die 80% armste huishoudings.
  • 66,28% van die ontvangers van die kindertoelaag woon in die 50% armste huishoudings.
  • 61,63% van die ontvangers van die ouderdomstoelaag woon in die 50% armste huishoudings.
  • 47% van mense wat in die armste 50% van huishoudings woon, sê toelae is een van die huishouding se bronne van inkomste. Dis teenoor net 6% van die rykste 20% van huishoudings.
  • Net 32% van individue wat in die 50% armste huishoudings woon, sê iemand in daardie huishouding verdien ’n salaris of het ’n onderneming. Dis teenoor 83% van mense in die rykste 20% van huishoudings.

 

Meer oor Nids-Cram

Die National Income Dynamics Study (Nids) Coronavirus Rapid Mobile Survey (Cram) is die grootste nie-mediese navorsingsprojek oor Covid-19 tot nog toe. Dit word deur ’n konsortium van meer as 30 navorsers van vyf Suid-Afrikaanse universiteite gedoen.

7 000 mense is in telefoniese onderhoude van 20 minute lank ondervra oor aspekte soos werk, honger in hul huishouding, migrasie, staatstoelae en hul persepsies en gedrag met betrekking tot Covid-19. Die oproepe is deur 50 oproepsentrumagente gedoen wat in tien tale kon werk.

Die navorsers gaan tot Desember vanjaar minstens vyf fases (waves) navorsing uitreik. Fase 1 se navorsing is Woensdag uitgereik.

Die eerste fase navorsing is van 7 Mei tot 27 Junie gedoen. Dit het mense uitgevra oor die tyd van Februarie tot April, met veral April wat besonder moeilik was gegewe dat die land toe die strengste vlak van inperking beleef het. Mense is ook vrae gevra wat verwys na die “laaste sewe dae”, wat dus na latere vlakke van inperking sal verwys.

Nids is ’n afsonderlike studie wat vantevore deur navorsers aan die Universiteit van Kaapstad in opdrag van die regering gedoen is. Die Nics-Cram peil dieselfde groep individue, wat só saamgestel is dat dit die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Gesondheidsorg  |  Inperking  |  Armoede  |  Nids-Cram  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.