Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toelaes en staatsdiens slurp al ons geld op
SASSA
Maatskaplike toelaes, staatsdienssalarisse en skulddienskoste neem geld weg van belangrike staatsfunksies soos die verskaffing van medisyne, handboeke en brandstof vir byvoorbeeld polisievoertuie.

Vir elke R10 wat die regering bestee, gaan meer as R3 aan toelaes, meer as R3 aan die vergoeding van staatsamptenare en sowat R1 om skuld te betaal.

Net sowat R3 is beskikbaar vir goedere, dienste en infrastruktuur, sê die presidensiële ekonomiese adviesraad in ’n verslag wat vroeër die maand aan die president oorhandig is.

Maatskaplike toelaes, staatsdienssalarisse en skulddienskoste neem geld weg van belangrike staatsfunksies soos die verskaffing van medisyne, handboeke en brandstof vir byvoorbeeld polisievoertuie, lui die verslag.

Die regering se plan om skuld in bedwang te bring deur onder meer besparings en besnoeiing op die salarisrekening is ’n sleutelaspek van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wat Tito Mboweni, minister van finansies, later vandeesmaand aan die parlement sal voorlê, sê kenners.

Die regering wil sy skuldvlak teen 2023-’24 op 87% van die BBP stabiliseer en stelselmatig afbring tot 74% teen 2028-’29.

Mboweni het in die aanvullende begroting in Junie gewaarsku sonder ferm ingryping kan die skuld tot sowat 140% van die BBP styg. Dit kan Suid-Afrika noop om geld met streng hervormingsvoorwaardes by die Internasionale Monetêre Fonds te leen.

Die adviesraad meen om geloofwaardig te wees oor skuldkonsolidasie moet dit gepaardgaan met sigbare strukturele verandering en ’n laer salarisrekening in die staat, asook fundamentele herskikking en die privatisering van staatsbeheerde ondernemings (SBO’s).

Die raad, ekonome en ontleders is dit eens miljarde rande sal bespaar word as staatsdiensverhogings in die volgende jaar bevries of tot die inflasiekoers beperk word.

Die regering voer in die hof aan hy kan nie die R38 miljard bekostig wat van April aan staatsdiensverhogings betaal moes word nie. Die vakbonde staan dit teen.

toelaes

Sanisha Packirisamy, ekonoom by Momentum Investments, sê in ’n nota volgens die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) beloop die staat se salarisrekening sowat 12% van die BBP wat van die hoogste onder Oeso-lede en vennootlande is.

’n Gemiddelde jaarlikse salarisverhoging van 11% die afgelope tien jaar vir staatsamptenare beteken staatsdienssalarisse maak nou 38% van gekonsolideerde regeringsbesteding uit.

Personeel wat tot hoër posvlakke bevorder is, het die probleem vererger. In 2006-’07 was 10% van staatsdienswerkers op die hoër posvlak, maar teen 2017 het dit tot 21% gestyg.

Packirisamy sê die tesourie se geloofwaardigheid sal ’n groot hupstoot kry as die minister in die MTBR kan wys die staat sal by voorgestelde besnoeiings van die salarisrekening hou.

Volgens die adviesraad sal dit uiters onbillik wees as staatsdienswerkers – anders as werkers in die private en informele sektore – die impak van die Covid-19-pandemie vryspring. Hoewel die raad erken bestaande maatskaplike betalings is ’n lewensaar vir miljoene Suid-Afrikaners, moet besteding aan sulke toelaes beheer word weens die druk op die staatskas.

toelaes

Pres. Cyril Ramaphosa het wel Donderdag met die bekendstelling van die regering se ekonomiese herstelplan ná Covid-19 gesê die betaling van tydelike verligtingstoelaes van R350 per maand sal met drie maande verleng word.

Volgens Peter Attard Montalto van Intellidex sal dít die regering sowat R4 miljard kos.

Die adviesraad sê as daar gekies moet word tussen die betaling van maatskaplike toelaes teen die huidige vlak en groter staatsdienssalarisse moet toelaes aan kwesbare landsburgers die prioriteit wees.

Sowat 18 miljoen Suid-Afrikaners ontvang maatskaplike toelaes en minder as 16 miljoen mense werk.

Volgens die adviesraad beteken dié afhanklikheid van die staat minder geld is vir kapitaalprojekte beskikbaar.

“Ons moet programme in plek hê om mense van werkende ouderdom op te lei en in diens te neem. In Brasilië word die sukses van die maatskaplike-toelae-model gemeet aan die vermindering in die getal ontvangers. In Suid-Afrika is dit die teenoorgestelde.”

Dit is kommerwekkend dat kapitaalprojekte geknou word deur hoë staatsdienssalarisse, toelaes en skulddienskoste en laer belastinginkomste, omdat openbare besteding aan infrastruktuur noodsaaklik is om inklusiewe groei te bewerkstellig.

Die adviesraad sê fiskale konsolidasie hang nie net af van besnoeiing nie, maar inkomste moet verhoog word deur beter belastingnakoming eerder as hoër belasting en deur beter ekonomiese groei.

Herman van Papendorp, hoof van beleggingsnavorsing by Momentum Investments, sê die verlies van groeimomentum tot 1,2% die afgelope tien jaar teenoor 3,5% in die vorige dekade weerspieël chroniese beleidsonsekerheid, druk op die staatskas, infrastruktuurbeperkings en kwynende vertroue.

Hy waarsku enige bykomende waarborge of kontantinspuitings vir SBO’s in die MTBR sal net meer druk op die staat se balansstaat plaas.

Mboweni sal in die MTBR egter moet sê waar die R10 miljard vandaan gaan kom om die herskikking van die SAL as deel van sy sakereddingsplan aan die gang te sit.

Kollegas van Mboweni het aan City Press gesê ’n moontlike finansieringsoplossing vir die SAL is op die tafel en kan reeds volgende week gefinaliseer word. Blykbaar het die tesourie aanvanklik besluit om geld van verskeie maatskaplike programme weg te neem om geld vir die SAL te vind.

Nou klink dit of kommersiële banke bereid is om aan die regering geld te leen as deel van die weeklikse R20 miljard-fasiliteit om die begrotingstekort te finansier, maar nie regstreeks aan die SAL nie, omdat ’n lening aan die lugdiens op roekelose kredietverlening sal neerkom.

Momentum sê hoewel belastinginvordering vir die jaar tot dusver veel swakker is as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, is ’n ligpunt vir die MTBR dat totale regeringsbesteding vir die jaar tot dusver gemiddeld met 4,2% gegroei het, vergeleke met 7,4% die afgelope vyf jaar.

Meer oor:  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Toelaes  |  Verhogings  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.