Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toerisme: ‘8,6% van BBP kán nie gesluit bly’

In die drie maande wat die toerismebedryf al weens die staat van inperking gesluit is, het reeds R68 miljard se inkomste verlore gegaan en meer as 1,5 miljoen mense se werk is in een van die belangrikste bedrywe van die ekonomie in gedrang.

Leeukop, in Kaapstad, vanuit die kajuit van ’n passasiersvliegtuig. Kaapstad is een van die land se grootste bestemmings vir toeriste. Foto: Getty Images

Die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA) sê Dinsdag in ’n verklaring dat die staat van inperking die toerismebedryf vernietig.

Dit staan te sentraal tot die ekonomie en indiensneming wat toegelaat word om in duie te stort.

Luidens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se syfers vir 2018 genereer die toerismebedryf sowat R273 miljard per jaar, wat 8,6% van die bruto binnelandse produk (BBP) is.

Die TBCSA waarsku dit beteken dat die bedryf hom al sedert 27 Maart toe die staat van inperking begin is, teen R748 miljoen per dag doodbloei en 1,5 miljoen werkgeleenthede op die spel is.

Dit kom in ’n tyd waarin die algemene werkloosheid in die land vir die eerste kwartaal van 2020 Dinsdag amptelik ’n nuwe hoogtepunt van 30,1% gehaal het, selfs voor die uitwerking van die Covid-19-pandemie.

Sowat 250 000 werknemers in die toerismebedryf het al vir April en Mei by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19Ters-skema om tydelike verligting aansoek gedoen.

Die TBCSA waarsku dat hierdie syfer waarskynlik dubbeld vir Junie sal wees.

Die TBCSA reken sowat 49 000 kleinsakeondernemings in die toerismebedryf is alreeds geraak deur die inperking en staar bankrotskap in die gesig.

Werkgeleenthede kan “permanent verlore gaan” indien die bedryf nie toegelaat word om te heropen nie, meen die TBCSA.

Hy het dus ’n voorlegging aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, asook aan pres. Cyril Ramaphosa vir die dringende heropening van die bedryf gedoen.

Die TBCSA reken dat indien die bedryf nie teen September, op die laatste, heropen nie, sal dit te laat wees.

Die bedryf genereer van September tot Maart 60% van sy inkomste uit internasionale vakansiegangers wat gedurende die somermaande na die land kom en Suid-Afrikaners wat met vakansie gaan.

Heropening van verblyfplekke

Ramaphosa se aankondiging verlede Woensdag dat verblyfplekke weer onder streng veiligheidsmaatreëls mag sake doen, is ’n stap in die regte rigting, reken die TBCSA. Dit beteken egter eintlik niks as die landsgrense asook die provinsiale grense gesluit bly nie.

“Sonder interprovinsiale reise sal akkommodasie-ondernemings doodeenvoudig gesluit bly en werkgeleenthede sal permanent verloor word.”

Luidens die SSA is 60% van alle plaaslike oornagreise oor provinsiale grense.

“As interprovinsiale reise nie toegelaat word nie, sal dit die president se aankondiging dat die akkommodasie-bedryf weer kan sake doen om ekonomiese aktiwiteite te ondersteun en om ondernemings en mense se werk te red, heeltemal nutteloos maak,” sê Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die TBCSA.

“Sonder 90% van die mark, waarvan ongeveer 60% oor provinsiale grense reis, sal daar geen vraag na dienste wees nie en ondernemings sal nie kan handel dryf nie, selfs nie teen kospryse nie.”

Die departement van toerisme verwag reeds dat tussen 550 000 en 600 000 poste in die hotelbedryf weens die staat van inperking verlore kan gaan.

Restaurante

Die TBCSA braak ook gal oor die verbod op drankverkope in restaurante wat nou weer mag heropen.

Die liggaam sê tussen 35% en 50% van restaurante se inkomste kom uit die verkoop van alkohol en talle doen juis sake oor naweke wanneer alkohol nou glad nie verkoop mag word nie.

“Hierdie regulasies sal gewysig moet word om die verkoop van drank in restaurante toe te laat sodat hulle kan oopmaak en oorleef,” sê Tshivhengwa.

Die TBCSA sê in ’n onderhoud gedurende die naweek het die minister van toerisme gesê dat ongeveer 30% van die land se restaurante reeds permanent moes sluit.

Die liggaam reken dat veiligheidsmaatreëls eerder toegepas kan word sodat die hele toerismebedryf ten volle kan heropen en meen dat dit voldoende sal wees om die verspreiding van die koronavirus te voorkom.

“Die ganse oorlewing van die bedryf hang nou van die verslapping van die regulasies af,” sê die TBCSA.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Werkloosheid  |  Toerisme  |  Regulasies  |  Bbp  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.