Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toerisme-fonds: ‘Interdik keer transformasie’

Die interdik wat die departement van toerisme keer om voort te gaan met sy planne om die toerismebedryf toegankliker vir veral swart vroue en jeugdiges te maak, kan die toestaan van lenings met tot drie jaar vertraag.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. Foto: Getty Images

Amper 400 aansoeke gerig aan die departement van toerisme se Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) is reeds ontvang toe Solidariteit en AfriForum se aansoek vir ’n interdik teen die departement in April geslaag het.

Die twee organisasies bevraagteken die grondwetlikheid van die fonds se kriteria wat aandui ondernemings wat daarvoor kwalifiseer moet ten minste 51% in swart besit wees of onder swart beheer staan.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, het Dinsdag gesê dié interdik keer dat enige lenings deur die TEF-fonds toegestaan kan word, maar haar departement gaan voort om die hofbeslissing teen te staan.

Teen die tyd dat die interdik teen die departement ingestel is, was daar reeds 379 aansoeke ter waarde van R5,6 miljard waarvan 188 aansoeke ter waarde van R4,1 miljard die eerste fase van goedkeuring geslaag het.

Die fonds wil onder meer vroue en jong mense in die bedryf bemagtig en beleggings in townships, klein dorpies en die platteland aanmoedig.

Dit wil ook swart entrepreneurs help om suksesvolle ondernemings te bedryf.

Die fonds het R1,2 miljard tot sy beskikking en bestaan uit fondse vir toelae en skuldfinansiering.

’n Toelaag sal nie meer as R20 miljoen bedra nie, maar die waarde van ’n projek mag ook nie minder as R10 miljoen wees nie.

Die departement sal vir drie jaar elk jaar R180 miljoen in die fonds stoot en so R540 miljoen stel vir toelaes beskikbaar stel. Die res van die fondse sal bewillig word deur lenings met lae rentekoerse.

Die res van die skuldfinansiering word deur die Agentskap vir die Finansiering van Kleinsake (Sefa) en ’n kommersiële bank gegee. Alles dui daarop dat dit Absa gaan wees.

Elke projek se befondsing sal gedeel word tussen die toelaag vanaf die departement, die lening vanaf Sefa wat gebaseer sal wees op die aansoeker se punte en die finansiering van ’n kommersiële bank.

Daar sal ook ondersteuning gegee word deur mentorskap en ander tegniese hulp.

Sefa sal kwartaalliks aan die departement terugvoering gee oor die fonds.

Kubayi-Ngubane het Dinsdag ook benadruk die TEF is op die been gebring om transformasie in die toerismebedryf aan te help en nie om die invloed van Covid-19 op die bedryf te hanteer nie.

LEES OOK: Toerismefonds 'gaan oor meer as Covid-19'

Volgens die departement het minder as 45% van toerismeondernemings in die land dit reggekry om 30% swart eienaarskap te bereik. Die persentasie is uiteengesit deur die kodes vir toerisme in die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (B-BBEE).

Sefa verwag die gemiddelde leningsbedrag sal ongeveer R40 miljoen wees (die minimum is R10 miljoen).

Na verwagting sal 31 ondernemings by die fonds kan baat. Sowat 5 016 werksgeleenthede kan geskep word en 40% van die begunstigdes behoort swart vroue in die bedryf te wees.

Sefa kon nie meer inligting gee oor wie aansoeke ingedien het of selfs aandui watter provinsies die meeste aansoeke ingestuur het nie, weens die hofsaak.

Volgens Sefa en die departement is daar geen toekennings gemaak nie, net oorwegings van die aansoeke wat deur die eerste fase gevorder het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.