Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toerisme-hulpfonds het geen verdere reddingsboeie

Hoewel die vraag na hulp in die Suid-Afrikaanse toerismebedryf weens die effek van die pandemie steeds groot is, is daar nie nog geld op pad om die bedryf by te staan nie.

Daar is geen verdere reddingsboei vir toerisme-ondernemings om hulle in die pandemie te help nie. Foto: Unsplash

Meer as 7 000 toerisme-ondernemings het gekwalifiseer vir die departement van toerisme se hulpfonds, wat verlede jaar ingestel is toe die bedryf op sy knieë gedwing is.

Die bedryf is wêreldwyd weens streng inperkingsmaatreëls en reisbeperkings tot stilstand geruk.

Slegs ondernemings met ’n jaarlikse omset van nie meer as R5 miljoen nie, kon kwalifiseer vir die toerisme-hulpfonds, wat ingestel is om sukkelende ondernemings te help om staande te bly.

Volgens Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, moet die toerisme-hulpfonds nie met die departement se toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) verwar word nie. Laasgenoemde fonds is nie bedoel om sukkelende ondernemings in die bedryf te help nie.

LEES OOK: Toerisme-fonds: Interdik keer transformasie

Hoewel baie meer aansoeke vir die hulpfonds ontvang is, het net 7 284 aan die departement se riglyne en breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging se kodes voldoen.

Slegs 4 000 van dié aansoekers het uiteindelik geld ontvang.

Volgens die departement was die fonds beperk en daarom het hy net R200 miljoen in sy koffers gehad wat hy kon uitdeel. Elke suksesvolle aansoeker het sowat R50 000 ontvang.

Die uitbetalings moes die ondernemings help met hul kontantvloei, asook hul bedryfs- en vaste koste. Van die suksesvolle aansoekers was ondernemings in die safari-bedryf, motorverhuringsagentskappe en konferensiegeriewe.

Die geld is tussen die provinsies verdeel.

Volgens die departement het hierdie aansoekers voorheen nie voldoen aan die kriteria nie of daar was bloot nie genoeg geld om hulle te help nie.

Baie van die ondernemings wie se aansoeke voorheen onsuksesvol was, word deur hernude uitdagings in die gesig gestaar en het weer onlangs begin om die departement om hulp te nader.

“Daar was 3 284 aansoekers wat nie geld ontvang het nie en die getal is moontlik die rede dat die departement steeds versoeke om hulp kry,” sê Victor Tharage, die departement se direkteur-generaal.

“Die departement het wel die name van die suksesvolle aansoekers op sy webtuiste geplaas in ’n poging om deursigtig te wees oor hoe geld bestuur word.”

Tharage het bygevoeg dat die departement nie meer geld beskikbaar het om die toerisme-hulpfonds weer in te stel nie, en dat sy fokus eerder op die herstelplan vir toerisme en die bestuur van die TEF gaan bly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.