Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toerisme: Kalmte voor die korona-storm

Die toerismebedryf het in Februarie sy vyfde beste maand in ’n jaar gehad – net voordat reisbeperkings ingestel is weens die Covid-19-pandemie.

Die La Petite Ferme-wynplaas in Franschhoek bied onder normale omstandighede luukse verblyf vir toeriste. Foto: Getty Images

Die bedryf se inkomste uit verblyf het in Februarie soveel verbeter teenoor Januarie se prestasie dat dit binne sowat R180 miljoen van Desember se droewige syfers gekom het, selfs al is Februarie nie gewoonlik ’n maand waarin baie mense met vakansie gaan nie.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Donderdag sy jongste toerismeverblyfsyfers uitgereik, wat wys die totale bedryf se inkomste het in Februarie met 4,6% op ’n jaargrondslag gestyg. Die syfers sluit benewens verblyf ook kos-, drank- en verwante verkope by verblyfplekke in.

Verblyf op sy eie het egter sy beste maand in vyf maande gehad en op ’n jaargrondslag 5,7% meer inkomste vir die bedryf gegenereer as ’n jaar gelede.

Vir ’n slag is die hoër inkomste ook nie net te danke aan hoër pryse nie. In Desember het die verblyfbedryf slegs groei aangeteken vanweë duurder pryse vir verblyfeenhede, terwyl die aantal verkope aanhou inkrimp het.

In Februarie het die aantal verblyfeenhede wat verhuur is egter met 1,3% op ’n jaargrondslag toegeneem en R2,21 miljard ingevorder.

In Desember was die syfer R2,4 miljard.

Hotelle het ook goed gedoen ná maande se gesukkel met billiker mededingers soos Airbnb.

Hotelle se inkomste het met 5,2% op ’n jaargrondslag toegeneem in Februarie en vanweë die sektor se grootte in die bedryf 3,6 persentasiepunte bygedra tot die algehele toename in inkomste uit verblyf.

Ander akkommodasie, waaronder Airbnb, het 3,1 persentasiepunte tot die algehele groei bygedra.

Hotelle se besettingskoers vir Februarie was 53,6% – hoër as selfs in Desember.

So lyk die inkomste van elke soort verblyf in Februarie:

  • Hotelle: R3 284 500 000
  • Woonwaparke en kampeerterreine: R17 800 000
  • Gastehuise en -plase: R93 600 000
  • Ander akkommodasie: R704 900 000

In Maart het die toerismebedryf egter begin sluit weens reisbeperkings en die toepassing van die staat van inperking op 26 Maart.

Februarie is dus waarskynlik die laaste maand wat die bedryf ’n inkomste sou kon genereer soos normaal.

In April en Mei moes alle verblyfplekke in die land sluit behalwe dié wat kwarantyngeriewe vir die staat beskikbaar stel.

Op vlak 2 word verblyfplekke toegelaat om oop te maak vir sakereisigers, maar eers op vlak 1 van die inperking sal Suid-Afrikaners weer met vakansie mag gaan.

Die lugdiens Comair het vroeër die week aangekondig dat hy verstaan dat die staat van inperking eers teen die einde van die jaar reise tussen provinsies sal toelaat, wat beteken toerisme sal ná Februarie vir ’n wyle nog sukkel om geld te maak.

Meer oor:  Akkommodasie  |  Toerisme  |  Hotelle  |  Verblyf  |  Toerismebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.