Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toerisme se beker (en wynglas) half leeg

Luidens ’n verslag van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek is die toerismesektor vir byna 8% van die bruto binnelandse produk (BBP) en vir sowat 1,6 miljoen werkgeleenthede in Suid-Afrika verantwoordelik.

Ulrich Joubert

Statistieke Suid-Afrika se jongste data toon dat die totale getal reisigers na en van Suid-Afrika in Julie met 93,9% teenoor Julie 2019 gedaal het. Dit was wel beter as die afname van 97,3% wat in April aangeteken is.

Die toerismesektor is wêreldwyd baie nadelig geraak deur die inperkings weens die Covid-19-pandemie.

Gelukkig is Suid-Afrika nog nie so afhanklik soos sommige Europese lande van toerisme vir ekonomiese welvaart nie. In Spanje het 82 miljoen toeriste die land in 2017 besoek en is toerisme vir sowat 12% van die BBP verantwoordelik.

Weens die pandemie sal tussen 850 miljoen en 1,1 miljard minder toeriste na raming vanjaar wêreldwyd reis. Die verlies aan inkomste kan tussen $950 miljard en $1 100 miljard beloop en tussen 100 miljoen en 120 miljoen poste kan verloor word.

Belangrike Amerikaanse lugdienste hanteer tans sowat 30% van die getal passasiers wat hulle ’n jaar gelede vervoer het.

Die plaaslike toerismebedryf is een van die ekonomiese sektore waarin Suid-Afrika ’n mededingende voordeel bo baie ander lande het.

Begin vanjaar is algemeen voorspel dat die wêreldekonomie teen sowat 2,5% sal groei. Teen die middel van Maart het dit omgeswaai na ’n verwagting van ’n inkrimping van 5%.

Die negatiewe impak van die gesondheidskrisis op die ekonomie word internasionaal versag deur allerlei belastingverligtings en bykomende staatsbesteding, asook verlagings in rentekoerse en die verhoging van likiditeit in die finansiële stelsel.

Hoewel die finansiële maatreëls help, word die verwagtinge egter eers minder negatief wanneer daar aanduidings is dat die gesondheidskrisis afneem en die ekonomiese inperkings verlig kan word. Voorspellings is tans ’n negatiewe groeikoers van 4% vir die wêreldekonomie vanjaar.

Tweede kwartaal die draaipunt

Op 26 Maart is die Suid-Afrikaanse ekonomie aanvanklik vir drie weke en uiteindelik vir vyf weke feitlik totaal ingeperk.

’n Kameelperd in die Krugerwilduin knaag aan ’n blaar. Foto: Thys Odendaal

Die regering het gesê die doel hiervan is om die land se gesondheidstelsel voor te berei op die pandemie. Verskeie gesondheidsgeriewe benut egter nie werklik hierdie tyd om voor te berei nie, terwyl die ekonomie feitlik onherstelbare skade ly. Laasgenoemde word wel ietwat beperk deur die skerp daling in rentekoerse en verskeie maatreëls wat die staat, nieteenstaande baie beperkte vermoëns, aankondig om sakeondernemings en individue finansieel te ondersteun.

Nogtans word negatiewe groei van selfs 10% vir vanjaar verwag.

Internasionaal en plaaslik word die tweede kwartaal as die onderste draaipunt van die huidige resessie beskou. Dit verg nie baie om groei te behaal nadat daar ’n tydperk van erge negatiewe syfers was nie, maar die jongste ekonomiese data dui daarop dat die groei in die derde kwartaal baie stewiger as in die tweede kwartaal sal wees.

Die groot vraag is of die momentum in die vierde kwartaal volgehou sal kan word.

Wat gaan die pandemie doen?

Die onsekerheid oor die verwagte groei in die res van 2020 en 2021 hang saam met die moontlikheid van stygende infeksiekoerse in baie lande wat weer eens tot strenger inperking sal lei. Dit is reeds die geval in sommige Europese lande, terwyl die pandemie in die VSA, Brasilië en Indië steeds voortwoed. Tans word aanvaar dat die momentum volgehou kan word indien regerings verdere stimuluspakkette aankondig en rentekoerse selfs verder verlaag word.

Die verwagting is wel dat korttermynrentekoerse in die VSA, Brittanje, die eurogebied en Japan tot in 2023 op huidige of laer vlakke kan bly.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie bly blootgestel aan internasionale tendense.

Weens die haglike situasie waarin die plaaslike staatsfinansies verkeer, is daar slegs beperkte moontlikhede om die ekonomie met fiskale of selfs monetêre beleid te stimuleer.

Indien die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober nie baie duidelike riglyne verskaf oor die beperking van staatsuitgawes en uiteindelik staatskuld nie, word ons deur verdere kredietafgraderings in die gesig gestaar. (Dit is ondenkbaar dat onder hierdie omstandighede selfs gedink word dat die mislukte Suid-Afrikaanse Lugdiens kan herleef.)

Die plaaslike ekonomie moet dus op ander maniere gestimuleer word. Dit is broodnodig dat die ekonomie aan die minimum inperkings onderhewig moet wees en waar dit nie absoluut noodsaaklik is nie, die inperkings afgeskaf word.

Wat word tans gedoen om die 1,6 miljoen werkers in die toerismebedryf te ondersteun terwyl die plaaslike bedryf geknel word deur plaaslike en internasionale beperkings?

Mag die wynbedryf werklik nie oor naweke sake doen nie? Wat word tans gedoen om die 1,6 miljoen werkers in die toerismebedryf te ondersteun terwyl die plaaslike bedryf geknel word deur plaaslike en internasionale beperkings?

Watter beperkings is steeds noodsaaklik om die toerisme- of wynbedryf te beskerm? Of word individue beskerm terwyl ’n hele bedryf in die moeilikheid is?

Wat word van hele gemeenskappe, byvoorbeeld Pelgrimsrus, Clarens of Franschhoek, wat afhanklik is van toerisme of die wynbedryf?

Die plaaslike toerismebedryf is een van die ekonomiese sektore waarin Suid-Afrika ’n mededingende voordeel bo baie ander lande het.

Dit geld ook van die bedrywe in die landbousektor. Hierdie sektore verdien die ondersteuning van die owerheid en geen onnodige inperkings nie.

Ongelukkig is die toerismebeker en die wynglas tans half leeg.

  • Ulrich Joubert is ’n onafhanklike ekonoom en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Ulrich Joubert  |  Toerisme  |  Vlak 1  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Toerismebedryf  |  Sakesiening  |  Inperking  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.