Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toerismefonds: ‘Rasmalheid’ sál beveg word

Solidariteit het volgens die ANC “oorlog verklaar” op transformasie en ’n inklusiewe ekonomie, maar nou sê die vakbond hy sal aanhou om “rasmalheid” aan elke front te beveg.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. Foto: Gallo Images

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof en uitvoerende hoofsekretaris van Solidariteit, skryf Maandag dat die regering te ver gegaan het met sy “rasse-ideologie”.

Solidariteit het verlede week ’n dringende hofsaak gebring teen die regering se toepassing van die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF), wat net finansiering en toelae aan ondernemings in minstens 51% swart besit sal toeken.

Die omstrede fonds is verlede jaar deur pres. Cyril Ramaphosa en Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, aangekondig en het R1,2 miljard tot sy beskikking, waarvan sowat die helfte deur Absa verskaf word.

Hierdie fonds is deel van Ramaphosa se ekonomiese rekonstruksie-en-herstelplan (ERRP), wat in Oktober 2020 aangekondig is.

Die ANC het kort nadat Solidariteit in die hof verskyn het ’n verklaring uitgereik wat dié regstappe veroordeel het as verraad en ’n oorlogsverklaring op die regering se transformasie-doeleindes.

“Hoe durf ons dit doen? Rassetransformasie is mos die hoogste reg. Dit troef alle ander wette. Alle ander regte kan tydens die pandemie ingeperk word, maar nie ras nie – o nee, dit is onbeperk,” skryf Hermann.

“Suid-Afrika is mos ’n rassestaat waarbinne die Grondwet ’n plekkie (weliswaar ondergeskik) het. As jy hierdie hoogste rasreg uitdaag, is dit bykans gelyk aan verraad.”

Die ANC sê transformasie is ’n grondwetlike doeleinde.

Volgens die regering se hofstukke is die TEF gemik daarop om swart eienaarskap in die toerismebedryf te takel – iets wat Breed Gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BGSEB), in sy huidige vorm, nog nie kon hanteer nie.

Dít is hoekom die regering toe deur middel van die departement van handel, nywerheid en mededinging vir die minister van toerisme ’n kwytskelding of afwyking toegeken het van die BGSEB-kode sodat haar teikens vir die toerismebedryf so hoog kan wees.

Dit is moreel siek. ’n Pandemie tref ons en die regering misbruik die smart van ’n pandemie om sy siek rasse-ideologie te bevorder. Dit is rasse-opportunisme op sy beste.
Dr. Dirk Hermann

Volgens die ANC is Solidariteit en AfriForum, wat saam die saak gebring het, die rasbeheptes en ’n “verregse” groep organisasies.

“Die regering het ’n klipharde rassebenadering en beskuldig ons dan dat ons die raskaart speel.

“Die ANC se histeriese verdediging van ’n fonds wat in uiterste nood hulp op grond van ras bied, sê baie meer oor sy rasmoraliteit as dié van Solidariteit en AfriForum.

“Die virus het nie op grond van ras gediskrimineer nie. Almal is swaar getref, maar die fonds diskrimineer op grond van ras.

“Die regering gebruik die geleentheid om swart ondernemings uit die as van die sektor te laat herleef. Hy gebruik die swaarkry van wit ondernemings om swart transformasie te bevorder.

“Dit is moreel siek. ’n Pandemie tref ons en die regering misbruik die smart van ’n pandemie om sy siek rasse-ideologie te bevorder. Dit is rasse-opportunisme op sy beste.

“Dit is ’n nuwe rasselaagtepunt vir die mees rasgereguleerde land ter wêreld.”

Maar Hermann verwelkom die ANC se verklaring dat Solidariteit en AfriForum oorlog op transformasie verklaar het.

“Ons sal die ANC se rasmalheid beveg – op plaaslike forums, in die howe, by ambassades, ander regerings, die Europese Unie en in die Verenigde Nasies.

“Julle (die ANC) kan verklarings uitreik totdat julle blou word, ons veg voort, want ons glo in wat reg is.

“Ons gaan nie ophou nie, en ons sal ons beslis nie deur jul histerie van stryk laat bring nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.