Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toerismefonds: ‘Wit mense hét ander opsies’

Die meeste wit mense het ander opsies vir finansiering, maar nié swart mense nie.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. Foto: Getty Images

Dit was Vrydag die regering se verweer in die hooggeregshof in Pretoria oor die sogenaamde rassistiese Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF).

Solidariteit en AfriForum het ’n dringende interdik probeer bekom om die TEF-uitbetalings te keer – ’n stap wat die ANC as ’n “oorlogsverklaring” teen bemagtiging en transformasie beskou.

Die TEF, wat lenings en toelaes aan toerisme-ondernemings met ’n minimum van 51% swart eienaarskap gaan toeken, sal eersdaags met die betalings begin.

Die regering voer aan dat die kleinsake-finansieringsagentskap (Sefa), wat die TEF ook gaan bestuur, talle ander opsies vir finansiering het wat enige toerisme-onderneming kan benut. Wit mense het ook makliker toegang tot banke se finansiering, terwyl talle studies toon dat swart mense, hoofsaaklik weens historiese redes soos ’n gebrek aan vaste bates, sukkel om banklenings te kry.

Die regering se argument Vrydag was hoofsaaklik dat die fonds gestig is met die spesifieke doel om transformasie te bewerkstellig.

Volgens die regering is dié doeleinde nie net eksplisiet deel van die toerismekode, regulasies en wette oor breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) nie, maar dit is ook sy grondwetlike plig.

Luidens die betooghoofde van die regering is daar al in 2017 bevind dat die toerismebedryf ongetransformeerd bly.

Die probleem, volgens die departement van toerisme, is veral dat daar min swart eienaarskap is.

Die hoofrede, het hy in studies bevind, is omdat dit vir swart mense in die bedryf moeilik is om finansiering te bekom.

“Dis nie ’n hulpfonds nie,” sê die regering. “Die fonds is ontwerp om ’n eenmalige stimuluspakket te wees om die swak prestasie van die sektor met betrekking tot swart eienaarskap op te los.”

Maar Solidariteit en AfriForum voer aan dat die 51%-drempel vir swart besit onwettig is, aangesien dit nie in die Toerismekode vervat is nie, en tweedens meer as die teikens van die BGSEB-wetgewing is.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, het wel spesiale toestemming van Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, verkry om die teiken tot 51% op te stoot.

Solidariteit en AfriForum sê egter dat die toestemming ingevolge die verkeerde artikel van die wet toegestaan is.

Solidariteit en AfriForum voer ook aan dat die TEF slegs een ras sal bevoordeel, wat onbillik is, veral te midde van ’n pandemie waarin almal swaarkry.

Die regering hou vol, gelyke hantering bring nie gelykheid mee nie.

Uitspraak in die saak is voorbehou.

ANC reageer

Die ANC het Vrydag te velde getrek teen die hofaansoek.

In ’n verklaring wat die party uitgereik het, noem hy die twee organisasies “regse” groepe en veroordeel hul regstappe.

Ons beskou AfriForum se litigasie as ’n verklaring van oorlog teen transformasie en ’n inklusiewe ekonomie.

“Ons merk op dat sowel AfriForum as Solidariteit ’n ultimatum vir die opskorting van die TEF geëis en gestel het, wat die wettigheid, moraliteit en die kwalifikasiekriteria vir die fonds bevraagteken, wat daarop dui dat dit van die bepalings van die BGSEB-wet afwyk en dat dit diskriminerend en omgekeerde apartheid is,” sê die ANC.

“Dit is betreurenswaardig dat AfriForum die neiging het om die rassekaart te gebruik om progressiewe ingrypings te demoniseer wat bedoel is om die histories gemarginaliseerdes te ondersteun en te bemagtig om aktiewe deelnemers aan die ekonomie te word.

“Ons beskou AfriForum se litigasie as ’n verklaring van oorlog teen transformasie en ’n inklusiewe ekonomie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.