Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toeriste nog sku om vakansie in SA te bespreek
Small retro car with baggage, luggage and beach eq
Oorsese toeriste is nog sku om vakansies in Suid-Afrika te bespreek. Foto: Unsplash

Teen Vrydag is reisagentskappe nog nie “oorval” met navrae en besprekings van voornemende oorsese besoekers nie.

Craig van Rooyen, eienaar van Tour d’Afrique, het by navraag gesê in dié stadium probeer hulle net mense wat voorheen vir Kersfees of Nuwejaar bespreek het, oortuig om wel na Suid-Afrika te reis.

“Dit sal ons eerste prys wees.”

Julia Louw, hoofbestuurder van Kobo Safaris, sê hulle is in dieselfde bootjie. “Geen nuwe versoeke het ons inbokse getref nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand aangekondig dat enigiemand met’n sertifikaat wat bewys hulle het 72 uur vantevore negatief getoets vir die virus wat Covid-19 veroorsaak, die land binnekom.

’n Lid van die Suider-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) wat nie geïdentifiseer wil word nie, het wel R4 miljoen se besprekings vir Desember-reise ontvang die oomblik toe dit bekend geword het dat die grense oopgestel word.

Die bedryf het Donderdag gewaarsku dit sou naïef wees om te verwag internasionale toerisme sal eensklaps na die vlakke van voor die inperking terugkeer.

Graham Wood, bedryfshoof vir gasvryheid by die hotelgroep Sun International, sê hulle is verlig en hulle beleef ’n aangename styging in besprekings by hul hotelle en oorde deur Suid-Afrikaners. Dit is egter ’n ope vraag hoe vinnig internasionale toeriste sal begin opdaag.

Rodger Foster, uitvoerende hoof van die streeklugdiens Airlink, sê baie van Suid-Afrika se bronmarkte is nou onderworpe aan hul eie nuwe reisbeperkings.

“Dit sal vir die nabye toekoms steeds ’n demper plaas op internasionale reise.”

vakansie

Chris Zweigenthal, uitvoerende hoof van die Lugdiensvereniging van Suider-Afrika (Aasa), het die “positiewe stap” verwelkom. Hy doen egter ’n beroep op Suid-Afrika se buurlande om ook hul grense oop te stel en weg te doen met lyste van hoërisikolande.

“Gegewe dat sommige oorsese toeriste ook attraksies in buurlande wil besoek, kan dit verwarring skep as ander lande steeds besoekers van bepaalde lande verbied. Dit kan mense afskrik van reis en sal ekonomiese herstel kniehalter.

“Meer as ooit is konsekwentheid en sekerheid nodig om vertroue in lugvervoer te herstel. Die vertrouenskrisis is die grootste uitdaging vir ons bedryf se oorlewing en die hele streek se lugvervoer- en toerisme-ekostelsel.”

Hy het ook gevra dat noodmaatreëls ingestel word om die bedryf te help red, soos staatsgewaarborgde lenings en verligting van belastings en heffings.

“As staatsondernemings gesteun word, moet van die geld deursyfer om verligting te bied vir die belasting en heffings wat lugdienste en passasiers moet betaal.”

Dis ’n verwysing na die R10,5 miljard se hulp wat pas vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) goedgekeur is.

Dit blyk dat baie Suid-Afrikaners uitgehonger is om met vakansie te gaan, maar bespreking tot op die nippertjie uitstel.

Sue Garrett, hoofbestuurder van produkte en bemarking van Flight Centre, sê dit is reeds diep in November en kwotasies word nog aan voornemende vakansiegangers verskaf.

Sy sê die meeste mense is maar versigtig vir oorsee gaan – 90% van die pakkette wat hulle verkoop, is vir plaaslike vakansies. Selfsorgverblyf is die gewildste.

Die gewildste bestemmings is Kaapstad, gevolg deur die Krugerwildtuin en KwaZulu-Natal.

Flight Centre se besprekings vir vlugte vir ontspanningsdoeleindes is nog sowat 30% van verlede Desember s’n.

“Dis wonderlike herstel gegewe die onsekerheid wat nog heers. Dis ’n aanduiding van opgehoopte vraag en dat Suid-Afrikaanse ontspanningsreisigers baie gewilliger is om vakansies te bespreek as wat ons voorspel het.

“Die meeste mense is baie bekommerd oor hoe buigsaam besprekings vir reise na die buiteland is sou planne op kort kennisgewing verander moet word.”

Bonnie Smith, hoofbestuurder van FCM Travel Solutions, sê hulle beleef ’n herlewing van sakereise. Op plaaslike vlak is reise nou nagenoeg die helfte wat dit voorheen was en 26% van ondernemings sê hulle verwag dat sakereise in 2021 gaan terugkeer na vlakke van voor Covid-19.

“Die meeste maatskappye is nog baie versigtig om hul werknemers internasionaal te laat reis.”

Meer oor:  Airlink  |  Flight Centre  |  Ekonomie  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.