Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toeriste sal drupsgewys kom, waarsku ekonome

Ekonome is skepties oor hoe vinnig die toerismebedryf voordeel gaan trek uit internasionale toeriste wanneer die landsgrense vanaf 1 Oktober geleidelik oopgestel word.

’n Reënboog voor Tafelberg, ’n gesig wat internasionale toeriste eersdaags weer sal kan beleef. Foto: Kristi Lategan

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand aangekondig dat Suid-Afrika Maandag na vlak 1 van die staat van inperking beweeg, maar dat internasionale reis vir sake of ontspanning op 1 Oktober oopgestel word, hoewel reisigers van lande met hoë infeksiekoerse verbied kan word.

Mense wêreldwyd is steeds huiwerig om te reis, sê Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za. “Baie mense het noodgedwonge reeds hul jaarlikse verlof tydens die onderskeie inperkings gebruik en het nie nou meer verlof oor om te reis nie.”

Hy meen die regering behoort mense minder bang te praat. Die ramptoestand, wat pas tot 15 Oktober verleng is, kon na sy mening al lankal opgehef gewees het en die hele ekonomie moes al lankal oop gewees het. Verbruikersvertroue is steeds 50% onder “normale” vlakke, terwyl daar duidelike tekens is dat die Covid-19-pandemie nie so gevaarlik is as wat aanvanklik voorspel is nie, sê hy. “Die Imperial College in Londen het byvoorbeeld voorspel dat Amerika teen 1 November 2,2 miljoen sterftes sal hê, terwyl die hele wêreld nog nie eens naastenby by daardie syfer is nie.”

Volgens Schüssler maak dit nie sin dat restaurante drank mag bedien, maar drankwinkels mag steeds nie soos normaalweg drank verkoop nie. Ramaphosa het aangekondig dat drankverkope by winkels nou ook op Vrydae toegelaat sal word, maar steeds nie oor naweke nie.

Hy is erg skepties oor die sogenaamde ekonomiese herstelplan waaraan so lank in die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) gewerk is.

“Suid-Afrika het al oorgenoeg planne, maar die planne moet in werking gestel word. Dit is tyd om terug te keer na die planne van die nasionale tesourie en om na te volg wat vryemarkekonomieë doen.”

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool, het dit verwelkom dat die ekonomiese herstelplan op pad is, maar steeds het Ramaphosa nog nie gesê wanneer die plan aangekondig gaan word nie.

Hy meen hoewel mense nog huiwerig is om te reis, is dit baie positief vir die ekonomie dat internasionale sakereise weer moontlik is.

Rossouw verwelkom ook die regering se besluit om al die inligting oor Covid-19-verwante tenders openbaar te maak, maar hy glo dit behoort met alle staatstenders asook alle Eskom-tenders gedoen te word. “Eskom is ’n staatsmonopolie wat met belastingbetalersgeld gesteun word.”

Schüssler het die skrywer Milan Kundera aangehaal wat gesê het hoe meer iets herhaal word, hoe meer verloor dit betekenis. Hy meen dis ook die geval met die regering se planne teen korrupsie.

Hoewel hy Ramaphosa se strenger stappe teen korrupsie verwelkom, wil die meeste Suid-Afrikaners sien dat die skuldiges voor die hof gedaag en in die tronk gestop word.

Hy meen Suid-Afrika se hantering van die pandemie maak nie sin nie. China, waar die virus ontstaan het, het nou al vir meer as twee maande weer normale verkeersvloei op sy paaie. Chinese fliekteaters is die afgelope ses weke byna terug na normaal.

Meer oor:  Mike Schüssler  |  Jannie Rossouw  |  Inperking  |  Covid-19  |  Vlak 1  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Toerisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.