Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Toeriste sê nee vir hotel, ja vir vriend se rusbank

Toeriste bestee eerder hul geld aan inkopies en vervoer as aan verblyf. Foto: Getty Images

Die meeste Suid-Afrikaners verkies om op oornagreise by familie en vriende oor te bly eerder as om vir verblyf te betaal – en dit was nog vóór die koronaviruspandemie.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het verlede week sy jongste verslag – oor 2019 – oor plaaslike toerisme in Suid-Afrika uitgereik.

Suid-Afrikaners het verlede jaar meer as 69 miljoen oornagreise in die land onderneem. Hiervan het 75% by vriende en familie oornag.

In die tweede plek was selfsorgverblyf met 4%, derde was kerk- en gemeenskapsale met 3,4%, en vierde was hotelle met 3,2%.

Vriende en familie was in al die provinsies die gewildste vorm van verblyf.

Die getal toeriste wat in hotelle gebly het, was die hoogste in KwaZulu-Natal (824 000), Gauteng (363 000) en Noordwes (272 000). Losies is oorwegend gebruik deur toeriste wat Mpumalanga besoek het, terwyl gastehuise en gasteplase meestal gebruik is deur diegene wat die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal besoek het.

toerisme

SSA onderskei tussen toeriste wat oornag en besoekers op daguitstappies.

Daar was in 2019 altesame 82 973 000 daguitstappies en 69 033 000 oornagreise deur Suid-Afrikaanse toeriste in die land.

Die meeste daguitstappies was in Desember, naamlik sowat 8,6 miljoen. Ander maande wat ’n relatief groot getal dagreise gehad het, was Maart (8,2 miljoen), gevolg deur September (7,6 miljoen) en April (7,3 miljoen). Oornagreise het ’n ander patroon getoon met meer reise in April (8,0 miljoen), gevolg deur Desember (7,9 miljoen), Junie (7,6 miljoen) en September (6,0 miljoen).

Dagbesoekers en oornag-toeriste reis om verskillende redes:

Inkopies was die hoofrede waarom besoekers in provinsies soos die Noord-Kaap, die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal gereis het. Provinsies soos Gauteng, die Vrystaat, die Wes-Kaap en Mpumalanga het hoofsaaklik besoeke vir vriende en familielede getrek. Die provinsie waarvoor daguitstappies vir ontspanning die belangrikste rede vir reis was, was die Wes-Kaap, gevolg deur Noordwes, Gauteng en KwaZulu-Natal.

toerisme
toerisme

Toeriste, aan die ander kant, het hoofsaaklik gereis om vriende en familie te besoek.

Toeriste het na die Wes-Kaap gereis vir ontspanningsdoeleindes, met besoeke aan vriende en familielede die tweede mees algemene rede. Reise vir godsdienstige doeleindes was die algemeenste in Gauteng en Limpopo.

Die gewildste maand vir daguitstappies was Desember en die gewildste maand vir oornagreise was April.

Dagbesoekers het verreweg die meeste geld bestee in 2019, waarvan die meeste geld aan inkopies bestee is.

Dagbesoekers het sowat R66 miljard aan inkopies bestee vergeleke met die R19,5 miljard wat toeriste hieraan bestee het.

Die toeriste wat wel vir verblyf betaal het, het verlede jaar net R13,8 miljard hieraan bestee.

Uit die vyf besigste maande vir verblyf in die toerismebedryf was 60% in Maart, April en Junie – maande waarin die staat van inperking vanjaar oornagverblyf verbied het.

Die meeste dagreisigers en toeriste is swart mense, maar besteding volgens ras volg ’n ander patroon.

toerisme

Op daguitstappies het bruin mense die meeste bestee – gemiddeld R2 086 – met inkopies wat die hoofdoel vir die uitstappie was. Dit is gevolg deur wit mense met R1 775 per dag, swart mense met R1 354 per dag en Indiërs en Asiatiese mense met R1 271 per dag.

By oornagreise lyk die prentjie anders: Hier het wit mense die meeste bestee, teen R2 227 per reis, gevolg deur Indiërs en Asiatiese mense met R1 931 per reis, bruin mense met R1 100 per reis en swart mense teen R907 per reis.

Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Toerismebedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.