Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tokio besnoei begroting vir Olimpiese Spele in 2020
Die logo vir die Olimpiese Spele van 2020.

Om die Olimpiese Spele aan te bied is nou eenmaal nie speletjies of goedkoop nie, veral nie vir die stadsvaders wat die begroting vir ’n Spele moet bestuur nie.

Die organiseerders van die Somerspele wat in 2020 in Tokio aangebied word sê die begroting is met $300 miljoen tot $12,6 miljard verminder.

Reuters berig hulle beplan om die begroting selfs verder te besnoei om die druk op Japanse belastingbetalers te verlig.

Die organiseerders is kort nadat hulle die bod gewen het, gewaarsku die finale koste kan vier keer meer wees as waarvoor hulle oorspronklik begroot het.

Navorsers aan die Oxford-universiteit het in 2016 ’n studie voltooi wat wys elke Olimpiese Spele sedert 1960, hetsy of dit in die somer of winter was, het hul begroting oorskry.

Dit is ook volgens hulle die enigste mega-geleentheid wat altyd sy begroting oorskry.

Luidens dié studie oorskry die koste van ’n Spele wat in die somer gehou word die begroting met gemiddeld 176%.

  • Die Spele wat in 1976 in Montreal, Kanada, gehou is, hou die rekord van 720% oor sy begroting.
  • Die Spele in 2008 in Beijing was die naaste in die kol. Hy het sy begroting met net 2% oorskry.

Die gemiddelde koste om ’n Spele in die somer aan te bied, is volgens die navorsers $5,2 miljard. Hulle het koste vir al die Speles wat tussen 1960 en 2016 gehou is vir dié berekening gebruik.

Somer- vs. Winterspele

’n Somerspele is aansienlik duurder as een wat in die winter aangebied word omdat dit uit meer sportsoorte bestaan.

Die nasionale stadion wat in Tokio gebou word. Dit sal vir die 2020- Olimpiese Spele gebruik word. Foto: Reuters

Die Spele wat in die winter van 2014 in Sotsji, Rusland, aangebied is, is die uitsondering op dié reël. Dit was die duurste spele ooit en het $21,9 miljard gekos om aan te bied.

Die Internasionale Olimpiese Komitee moedig lande aan om binne hul begroting te bly sodat ander lande nie afgeskrik word om dit in die toekoms aan te bied nie.

“Ons wil ’n wonderlike Spele aanbied, maar ons wil nie onnodig staatsgeld gebruik nie,” sê Hidemasa Nakamura, finansiële hoof van Tokio 2020.

“Ons sal aanhou om te probeer om koste te verminder.”

Die stadsraad van Tokio is verantwoordelik vir $5,6 miljard van die huidige begroting en die staat sal $1,4 miljard bydra.

Volgens die eerste weergawe van die begroting wat in Desember 2016 beskikbaar gestel is, sou dit Japan $14 miljard kos om die Spele aan te bied.

Die tweede weergawe staan nou op $12,6 miljard.

’n Derde hersiene weergawe sal na verwagting teen Desember 2018 beskikbaar wees. Daar kan later selfs ’n vierde weergawe wees, berig Reuters.

Tokio het ook in 1964 die Spele aangebied. Dit het hom toe, in 2015-dollarterme, ’n skrale $282 miljoen gekos om aan te bied.

Meer oor:  Tokio  |  Japan  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.