Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tom Moyane moet gaan en basta, sê Nugent
Afgetrede regter Robert Nugent. Foto: Elvira Wood

Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), moet so gou moontlik uit sy pos verwyder word en dit is die einde van die saak.

Afgetrede regter Robert Nugent het Donderdag vir die eerste keer kommentaar gelewer nadat sy tussentydse verslag Dinsdag op die presidensie se webtuiste gepubliseer is. Die verslag handel oor die Nugent-kommissie van ondersoek se bevindinge van gebeure wat by die SAID onder leiding van Moyane plaasgevind het.

“Dit is dringend. Ons is al halfpad deur die huidige belastingjaar. Daar gaan groot gevolge wees as ons nie nóú optree nie,” het hy gesê voordat die kommissie met die dag se geskeduleerde getuienis begin het.

“Dit is hoekom ons (aan pres. Cyril Ramaphosa) gesê het hy moet nou optree en dít is die beslissende optrede wat hy moet neem. Dit is die president se voorreg om te besluit of hy dit gaan doen, al dien nie,” sê Nugent.

Hy het mense uitgedaag om oor hul aanbeveling te debatteer soveel hulle wil.

“Bespreek dit as jy wil, maar dit is ons siening en ons gaan daarby hou. Ons gaan dit nié in die finale verslag verander nie.

“Wat ons betref, moet die huidige kommissaris so gou moontlik uit sy pos verwyder word en ’n nuwe kommissaris aangestel word sodat ons sekerheid kan kry en vorentoe kan begin beweeg.”

Nugent sê hy aanvaar dat mense kan sê hy is moontlik verkeerd, maar gesien wie die paneel is wat hom bystaan, en dat hulle eenparig saamstem oor die aanbeveling, glo hy dat dit die regte besluit is.

Die ander lede van die paneel is prof. Michael Katz, die sakeman Vuyo Khala en adv. Mabongi Masilo.

Verduideliking

Nugent het verder verduidelik dat die verslag ’n tussentydse verslag en nie ’n voorlopige verslag is nie.

“ ’n Tussentydse verslag is presies dit: ’n verslag wat gelewer word totdat jy die punt bereik het waar jy finaal oor alle kwessies kan verslag lewer.

“As daar iets anders uit die getuienis kom wat ons glo dringend aandag nodig het – hoewel ek twyfel dat iets meer dringend as hierdie punt vorendag gaan kom – sal ons daaroor ook ’n verslag aan die president stuur,” sê hy.

Nugent het Katz se ondersoek voorheen juis oor die belastingstelsel wat in opdrag van pres. Nelson Mandela gedoen is, as voorbeeld gehou.

“Dit het hom drie jaar geneem om te doen. Nie omdat hy stadig werk nie, maar omdat daar soveel werk was om te doen.

“Hy het gedurende dié tydperk tussentydse verslae ingedien met aanbevelings. Daar is onmiddellik stappe geneem soos wat aanbeveel is,” sê Nugent.

Verslag en aanhangsels

Nugent sê dit is jammer die presidensie het nie al die aanhangsels wat by die verslag hoort ook gepubliseer nie.

Hy sê dié aanhangsels wys duidelik dat die kommissie vir Moyane die kans gegun het om kommentaar daarop te lewer voordat aanbevelings gemaak is en dit na die president gestuur is.

“Hy het tyd gehad om te reageer. As jy iets wil sê, sê so, maar ons moet iewers begin aanbeweeg,” sê Nugent.

Moyane het intussen ’n aansoek by die konstitusionele hof ingedien waar hy die hof versoek om die kommissie, asook die dissiplinêre verhoor waaraan hy onderhewig is, op te skort.

Hy vra dat ’n hofbevel “die gedrag en/of besluite van die eerste respondent (Ramaphosa) onwettig, ongeldig, ongrondwetlik en teenstrydig met die grondwetlike verpligtinge van die president en/of strydig met sy ampseed verklaar” en dat dit tersyde gestel word.

Nugent het onderneem om die verslag mét aanhangsels binnekort op die kommissie se webtuiste te laai.

Die verhoor duur voort met Barry Hore, voormalige bedryfshoof van die SAID, wat Donderdag weer getuienis lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.