Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tom Moyane verloor 1ste veldslag in verhoor

Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), moet op 20 Augustus skriftelik reageer op die dissiplinêre klagte wat pres. Cyril Ramaphosa teen hom laat ondersoek.

Tom Moyane, geskorste kommmissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Dan moet hy van 17 tot 28 September vir sy dissiplinêre verhoor beskikbaar wees.

Dis die bevinding van adv. Azhar Bham, wat die dissiplinêre ondersoek lei. Bham het Moyane se besware teen prosedurele probleme met die dissiplinêre verhoor, wat op 21 Julie in Sandton aangehoor is, van die tafel gevee in sy uitspraak.

Eric Mabuza, Moyane se prokureur, bly egter strydlustig en sê in reaksie op Bham se uitspraak die “die geveg gaan nou begin”.

Hy sê hulle is “uiters verras” oor Bham se bevindings en is van mening dat dit foute bevat. “Maar eindelik sal geregtigheid seëvier.”

Mabuza sê hulle het reeds hofstukke voorberei om Bham se uitspraak te beveg, maar wag nou vir Ramaphosa “om ’n besluit te neem”.

Ramaphosa het glo vantevore belowe hy sal tot ná Bham se uitspraak wag om te besluit of die Nugent-ondersoek na die SAID of die dissiplinêre verhoor opgeskort gaan word. 

Dis een van Moyane se grootste besware dat die dissiplinêre verhoor teen hom tegelykertyd met ’n kommissie van ondersoek onder leiding van regter Robert Nugent oor die institusionele probleme van die SAID gehou word.

Adv. Dali Mpofu, namens Moyane, het die Nugent-ondersoek op 21 Julie voor Bham ’n “boendoehof” genoem en het te velde getrek teen Pravin Gordhan se getuienis, wat Nugent reeds aangehoor het. Gordhan, minister van openbare ondernemings, het die klagstaat in die dissiplinêre verhoor opgestel.

Gordhan is volgens Mpofu bevooroordeeld teen Moyane.

Moyane het ook beswaar aangeteken daarteen dat mondelinge getuienis slegs op versoek van Bham aangehoor sou word. Hy wou die kans hê om getuies teen hom te ondervra – veral  Gordhan het kennis van die klagte omdat dit gebeur het terwyl hy minister van finansies was en ook omdat dit betrekking het op die tyd toe Gordhan self die SAID-kommissaris was.

Indien die dissiplinêre verhoor nie deur ’n hofsaak ontwrig word nie, is die klagte waarop Moyane nou moet reageer onder meer:

1. Swak hantering van die Makwakwa-verslag

Die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) het bewyse voorgelê dat Jonas Makwakwa, Moyane se regterhand by die SAID, groot bedrae kontant in sy rekening inbetaal het, soms selfs by kitsbanke. Ondanks die bewyse is Makwakwa onskuldig bevind aan wangedrag in ’n dissiplinêre verhoor,en het vroeër vanjaar bedank kort voordat ’n nuwe verhoor begin het. Gordhan sê in sy verklaring Moyane het die FIC-verslag aan Makwakwa en Kelly-Ann Elskie, Makwakwa se vriendin, gewys, wat onwettig is.

2. Ongemagtigde bonusse

Moyane het glo prestasiebonusse uitbetaal wat teenstrydig met die SAID-wet is.

3. Wanvoorstellings aan die parlement

Moyane het ontwykend geantwoord en volgens Gordhan doodeenvoudig gejok toe hy in September 2016 uitgevra is oor die FIC-verslag en klagte teen Makwakwa. Hy het ook in Februarie vanjaar ontken dat hy ’n rol gespeel het in die toekenning van ’n tender aan ’n skuldinvorderaar wat bande met Makwakwa het.

4. Gebrek aan samewerking

Moyane het ’n SAID-werknemer opdrag gegee om nie saam te werk met ’n KPMG-ondersoek oor die sogenaamde hoërisiko-ondersoekeenheid van die belastinggaarder nie. Helgard Lombard, ’n voormalige SAID-bestuurder van tegniese en fisieke veiligheid, is opdrag gegee om te maak of hy siek is ten einde die onderhoud met KPMG te vermy.

Volgens Gordhan het dit meegebring dat belangrike inligting van die ondersoek weerhou is.

Moyane het die sogenaamde rogue unit laat ondersoek, waarskynlik grootliks omdat dit die wêreld vir belangrike mense warm gemaak het. KPMG het in ’n verslag verskeie probleme met die eenheid uitgewys, maar het intussen sy verslag teruggetrek omdat die inligting daarin wemel van onbewese stellings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.