Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Trae groei: Monetêre beleid in spervuur

Die stimulus wat laer rentekoerse vir die ekonomie sal meebring, sal van baie korte duur wees – en wat dan?

     

Kuben Naidoo, nuwe registrateur van banke, sê laer rentekoerse sal net 'n korttermyngroei aanwakker.

Só het Kuben Naidoo, die nuwe registrateur van banke, Vrydagmiddag op ’n informele middagete-gesprek met die media by die Reserwebank in Pretoria gevra in ’n debat oor hoe Suid-Afrika se trae ekonomiese groei aangewakker kan word.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het op dieselfde geleentheid gesê “sentrale banke moet beskeie wees oor wat hulle kan doen – en nié kan doen nie – om groei te stimuleer.”

Kganyago sê die Reserwebank debatteer al 18 maande lank oor sy “beleidsdilemma” van stygende inflasie en baie lae groei.

“Die dilemma word nou duideliker nadat ons ’n inkrimping (van 1,2%) in die eerste kwartaal gehad het. Ons mandaat is inflasiebeheer in belang van balans en volhoubare groei. Jy kan nie groei uit die vergelykings neem nie,” sê Kganyago.

Sedert Statistieke Suid-Afrika Woensdag die groeisyfers uitgereik het, begin al hoe meer stemme opklink dat dit tyd is om ’n ommeswaai in monetêre beleid te oorweeg en meer op groei as op inflasiebeheer te fokus.

Peiling

In ’n peiling wat Netwerk24 gedoen het, het vier baie gesaghebbende ekonome gesê hulle dink dis tyd dat ’n verlaging van rentekoerse oorweeg word. Dit is Annabel Bishop, Investec-ekonoom, en dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer vir PWC, wat al albei Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie gewen het, asook Luke Doig van Credit Guarantee Insurance en François Conradie van NKC African Economics.

    

   

Bishop sê sy beveel ’n verlaging reeds in Julie aan, maar twyfel sterk of die Reserwebank dit sal doen: “Om rentekoerse te verlaag, sal wees om te erken dat hulle ’n fout gemaak het en te valkagtig was wat monetêre beleid betref. Ons loop egter nou meer as ooit tevore die risiko van ’n resessie en enige verdere rentekoersverhoging vanjaar sal onbesonne wees.”

Annabel Bishop, Investec-ekonoom, sê dit sal onbesonne wees om die rentekoers te verhoog.

Geloofwaardigheid

Bishop raak aan ’n interessante punt, naamlik dat die Reserwebank ’n belangrike rol speel om Suid-Afrika se geloofwaardigheid te handhaaf. Kredietgradeerders soos Moody’s Investors Service, Fitch Ratings en Standard & Poor’s Global Ratings het Suid-Afrika se “sterk instellings” in hul mees onlangse graderingsbesluite as ’n pluspunt genoem.

Die ekonoom dr. Cees Bruggemans van Bruggemans & Vennote stel die dilemma in ’n rubriek Vrydag só: “Die Reserwebank se wens om terug te keer na ’n regime van reële rentekoerse (dus koerse van hoër as inflasie) kan op ’n soortgelyke manier geïnterpreteer word as die tesourie se voorneme om terug te keer na gesonder fiskale maatstawwe. Dit het te make met reputasie, geloofwaardigheid en markbroosheid.”

Strukturele veranderinge

Kganyago sê Suid-Afrika se ekonomiese probleme is “oorontleed” en almal weet wat groei kan stimuleer – langtermynfaktore soos infrastruktuur- en vaardigheidsontwikkeling. Naidoo voeg die onbuigsame arbeidsmark hierby, asook die behoefte aan ’n deeglike debat oor grondhervorming.

“As mens kyk na die finansiële krisis van 2008, is dit duidelik daar is te veel klem is geplaas op fiskale en monetêre beleid,” sê Kganyago. “Strukturele beperkings op groei is nie uit die weg geruim nie – en dis nie net in Suid-Afrika nie.

“Ons kan nie meer die koeldrankblikkie straataf skop en hoop dat fiskale en monetêre beleid ons uit (die penarie) gaan kry nie, want daardie beweegruimte bestaan nie.”

Kganyago sê strukturele hervorming is politiek gelaai “en jy pluk die vrugte daarvan eers ’n paar jaar later”.

Ons kan nie meer die koeldrank-blikkie straataf skop en hoop dat fiskale en monetêre beleid ons uit (die penarie) gaan kry nie
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank

Daar is egter wel hervormings wat op kort termyn goeie resultate kan lewer – soos die verslapping van toerismeregulasies verlede jaar bewys het. “Jy kon sien hoe toerisme weer begin groei.”

Dr. Rashad Cassim, hoof van ekonomiese navorsing en die departement statistieke van die Reserwebank, sê laer rentekoerse sal wel kredietverlening en die huismark laat groei.

Naidoo sê die groei sal egter van korte duur wees. “As ons sou reken ons kon werkskepping of groei op ’n volhoubare grondslag stimuleer, sou ons rentekoerse met 500 basispunte verminder het, maar hoe volhoubaar is dit? Hoe vinnig sal die voordeel verweer word – drie of vier kwartale? Ek skat ses kwartale, dan is dit daarmee heen, wat dan?

“Daar is geen bewyse om te suggereer dat dit (volhoubare groei deur laer rentekoerse) sal gebeur nie.”

Verskeie ekonome beaam dit. Fanie Joubert van Unisa sê laer rentekoerse sal geen uitwerking op die swak internasionale vraag na veral mynbou en vervaardigde goedere hê nie en sal dus nie die ekonomie veel kan stimuleer nie.

Francois du Plessis van Vega Batebestuur sê: “Ekonomiese groei is ’n funksie van ekonomiese vertroue en dis weer ’n funksie van gesonde ekonomiese beleid. Wat is gesonde ekonomiese beleid? Verantwoordelike arbeidswetgewing, verantwoordelike hulpbronbestuur, die stimulering van kleinsake, kortom, dít wat oor die algemeen tans nie beleid is nie.”

Bottelnekke

Suid-Afrika is in ’n fase waarin ontslae geraak moet word van ’n klomp institusionele bottelnekke, sê die Reserwebank.

Op ’n vraag of daar ’n verbintenis daartoe is om van die bottelnekke uit die weg te ruim, het Lesetja Kganyago, president van die sentrale bank, geantwoord: “Daar is baie praatjies maar min word gedoen… Maar as enigiemand van strukturele bottelnekke weet wat binne die beheer van die Reserwebank val, sal ek graag daarvan wil weet.”

Dwaling

Fanie Brink, ’n onafhanklike landbou-ekonoom, sê die Reserwebank se poging om inflasie met rentekoersbeleid te beheer “is in werklikheid die enkele grootste dwaling in die hele ekonomiese wetenskap”.

“Daar bestaan geen bewyse dat die Reserwebank se rentekoersbeleid inflasie enigsins kan beheer nie omdat dit geen invloed kan uitoefen op die belangrikste redes waarom inflasie styg nie, soos die internasionale stygings in voedsel- en ru-oliepryse, ’n verswakkende wisselkoers, die uitwerking van ernstige droogtes, politieke uitsprake, geadministreerde pryse, korrupsie en sosialisme.”

Brink meen die Reserwebank se mandaat moet verander word om groei te skep: “Die inflasieteikens moet afgeskaf word... en die prys (rentekoers) van kapitaal moet deur vrye verhandeling in ’n kapitaaltermynmark bepaal word.”

Rentekoers

Rian le Roux van Old Mutual Investment Group en die huidige Ekonoom van die Jaar, sê die swak ekonomiese groei sal dalk wel keer dat die Reserwebank die rentekoers vanjaar verder verhoog.

“Dalings is egter onwaarskynlik voor 2017, wanneer inflasie weer terug is binne die teikenband van 3%-6%, en mits die hoofaandrywers van inflasie dan dui op ’n afname in onderliggende inflasiedruk.”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.