Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Trae motorverkope voorspel niks goeds vir ekonomie

Ten spyte daarvan dat motorhandel vanaf Junie onder die staat van inperking toegelaat word, verkeer dié enorme deel van Suid-Afrika se ekonomie steeds onder groot druk.

Verkope van nuwe voertuie het in Junie beduidend gedaal vergeleke met 'n jaar gelede. Foto: Naamsa

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa) sê Woensdag in ’n verklaring dat dit juis kommerwekkend is dat die motorhandel só onder druk bly, al is die hele waardeketting van Junie af weer aan die gang.

Die plaaslike motorbedryf verteenwoordig 6,4% van die bruto binnelandse produk (BBP) en is verantwoordelik vir 27,6% van die land se totale vervaardigingsuitset.

Ná twee maande van bykans geen verkope was Junie veronderstel om die eerste maand te wees waarin die verkope weer na normaal sou terugkeer.

Maar Naamsa se syfers dui op ’n tendens van swak verkope wat waarskynlik gaan voortduur en ’n enorme deel van die ekonomie onaktief gaan hou.

Plaaslike verkope van nuwe voertuie het in Junie op 31 867 te staan gekom – 30,7% laer as in Junie 2019.

Selfs vervaardiging vir die uitvoermark het getaan.

Uitvoerverkope was 38,7% laer in Junie as ’n jaar gelede, met net 18 796 nuwe voertuie wat uitgevoer is.

Uit die 31 867 nuwe voertuie wat plaaslik verkoop is, is 19 264 passasiersvoertuie. Dit is 33,4% minder as ’n jaar gelede.

Die meeste motors is aan handelaars verkoop, wat 29 100, of 91,3% van alle nuwe motors gekoop het.

Die regering het 4,6% gekoop, sake-ondernemings 3,7% en slegs 0,4% is aan motorverhuringsmaatskappye verkoop.

Naamsa sê dit dui op die feit dat die toerismebedryf steeds gesluit bly en daar dus nie ’n vraag na huurmotors is nie.

motorverkope

“Aangesien die toerismebedryf nog ingeperk is, was daar bykans geen bydrae deur die motorverhuringsbedryf om die mark te ondersteun soos wat gewoonlik die geval hierdie tyd van die jaar is nie,” sê Naamsa.

Volgens die organisasie lê daar ’n moeilike jaar vir die motorbedryf in die land voor.

Middelklas-Suid-Afrikaners het eenvoudig nie die besteebare inkomste wat nodig is om die mark te ondersteun nie, en die uitvoermark bly onderworpe aan hoe lank die pandemie nog ’n uitwerking op die vraag na motors oorsee gaan hê.

Die “veerkragtigheid” van die bedryf gaan beslis getoets word, meen Naamsa, en net die tyd sal leer hoe die omstandighede gaan verander in die maande wat voorlê.

Meer oor:  Naamsa  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Vervaardiging  |  Ekonomie  |  Motorverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.